Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Spanning tussen Ashwin en Nick rede vir Bok-vleuel se uitbarsting oor ras
Ashwin en Nick: Agter die TV-tirade

Ná onmin wat blykbaar reeds jare broei het die voormalige Springbokvleuel en rugby-analis op Supersport Ashwin Willemse gisteraand ten aanskoue van TV-kykers uit die ateljee in Randburg gestap. 

Naas Botha aan Ashwin Willemse: “Ek het al die tyd voor die wedstryd gebruik. Dit is alles jou tyd.”
Nick Mallett en Botha lag terwyl die drie stry oor wie se beurt dit is om te praat.
Willemse: “Ek sal nie toelaat dat neerbuigend met my gepraat word deur twee individue wat gespeel het onder apartheid nie.”
’n Woedende Willemse haal die mikrofoon van sy gordel en stap van die stel af.

Die uitbarsting, wat rugbyondersteuners reg oor die land aan die gis het, het gevolg op die wedstryd tussen die Leeus en die Brumbies op Ellispark. 

Ingeligtes sê dis veral Willemse en die voormalige Bokafrigter Nick Mallett wat krapperig vir mekaar is. 

Willemse het sy twee mede-aanbieders Mallett en Naas Botha, beskuldig dat hulle “neerbuigend” (patronising) is.

Op ’n klaarblyklik onskuldige vraag deur die aanbieder Motshidisi Mohono antwoord Willemse: “Dis belangrik vir my . . . Ek het hierdie spel vir lank gespeel en ek is gereeld as ’n kwotaspeler bestempel. Ek het hard gewerk om my eie respek te verdien. So ek gaan nie toelaat dat neerbuigend met my gepraat word deur twee individue wat in apartheid, tydens ’n gesegregeerde era gespeel het, en dan hier kom (om my te) ondermyn . . . so ek het my deel gehad, ek kan nie met mense werk wat ander mense ondermyn nie.” 

Terwyl hy vorentoe stap om sy bondel papiere op die lessenaar voor Botha neer te sit, sê hy: “Julle kan sit en lag daaroor, maar julle weet presies wat gebeur het . . . ”

Toe Mallett sê hy lag glad nie, draai Willemse om en terwyl hy van die stel afloop sê hy: “Dis fine, dis fine. Ek is nie besig om belaglik te wees nie. Ek is bly dit gebeur op die lug sodat mense kan sien, want julle twee sit hier . . .,” voordat hy finaal van die skerm verdwyn. 

Mohono, wat tydens die hele episode besonder kalm bly, probeer dan die situasie ontlont deur te sê: “Dit was nou jammer, want die wedstryd het so goed gegaan, en so ook ons gesprek . . . ”

Rugbykykers landwyd het gister gewonder oor presies wat aanleiding gegee het tot Willemse se uitbarsting. Selfs ná herhaalde kykweers kon baie dit steeds nie kleinkry nie. 

Sekondes voor die uitbarsting het Mallet, Botha en Willemse klaarblyklik geskerts oor wie die volgende spreekbeurt het. 

Willemse: “Naas, wat dink jy, dink jy nie dit was ’n goeie wedstryd nie. Wat is jou siening?”

Botha: “Ek het al die tyd voor die wedstryd gebruik. Dit is alles jou tyd.”

Willemse: “Asseblief. Nee, nee, laat ons nie neerbuigend wees nie, miskien het jy ’n siening van die wedstryd?” 

Botha en Mallett lag dan lekker voordat Mallet uiteindelik wel ’n paar dinge oor die wedstryd sê. 

Nadat Mallet klaar gepraat het vra die aanbieder Mohono vir Willemse vir sy siening. Dis dan dat Willemse wegtrek. 

’n Bron wat kennis dra van wat in die ateljee gebeur het, het gisteraand aan Rapport gesê dat Mallett, terwyl hulle van die lug af was, vir die regisseur gevra het om eerste vir Willemse ’n kans te gee om te praat ná die wedstryd tussen die Leeus en die Brumbies. Mallett het die versoek gerig omdat Willemse glad nie ’n spreekbeurt gekry het ná die vorige wedstryd tussen die Haaie en die Chiefs nie. 

Willemse het dié versoek moontlik as neerhalend gesien, daarom die uitbarsting. 

’n Vriend van Willemse het gisteraand gesê dis ’n ongelukkigheid met ’n lang aanloop. “Almal praat daaroor dat Botha en Mallett skewe aanmerkings maak oor bruin en swart spelers. Hulle sê net wat hulle wil en kom weg daarmee. En dink jou in, nou staan jy daar as ’n Ashwin . . . Ek dink hy het net keelvol geraak,” het die vriend gesê.

Die voormalige Springbokflank Thando Manana, wat verlede jaar die boek Being a Black Springbok geskryf het, het gisteraand getwiet: “Dit was net ’n kwessie van tyd voordat dit op regstreekse televisie gebeur. Ashwin Willemse, ek is so bly jy het uiteindelik vir Nick Mallett en Naas Botha op hul plek gesit.” 

’n Ander ingeligte sê die vete tussen veral Willemse en Mallett kom al ’n paar jaar aan. “Dit was die laaste tyd bykans onmoontlik om met Ashwin te werk. Hy het gereeld nie eers opgedaag vir werksverpligtinge en geleenthede nie. Hy sal bevestig vir (die uitsending van) ’n wedstryd en dan tien minute voor die tyd kop uittrek. Hy en Nick het omtrent nie eers met mekaar gepraat nie,” sê dié bron.

“Nick is egter geen engeltjie nie. Ek kry wel vir Naas jammer, want ek dink nie hy het enigiets daarmee te doen nie.”

Nog ’n bron het bevestig Willemse en Mallett sit glad nie om dieselfde vuur nie. “Hulle was baie vyandig teenoor mekaar. Ashwin het nog nooit baie voorbereiding gedoen nie. Nick en Naas sal die harde werk doen wat voorbereiding betref. Hulle sal videogrepe identifiseer en redigeer wat Ashwin dan op die raakskerm bespreek. Hy kry dan al die krediet.” 

Volgens die bron het Mallett gereeld vir Willemse speels geterg, maar dit het vir Willemse te veel geraak. 

“Nick het byvoorbeeld eenkeer ’n pakkie aartappelskyfies agter Willemse gebars. Nick het dit as ’n grap bedoel, maar Ashwin het dit nie as ’n grap gesien nie en uitgestorm.” 

Volgens dié bron het hy nooit ’n rasgedrewe ondertoon in die geskertsery opgetel nie. Breyton Paulse, wat al met beide Willemse en Mallett saamgewerk het, sê ook hy het nooit spanning tussen hulle bespeur nie.

Nie Willemse, Mallett of Botha kon gisteraand vir kommentaar bereik word nie. Clinton van der Bergh, woordvoerder van Supersport, het gesê hy weet self nie wat tot die voorval gelei het nie. “Ons ondersoek dit. Ek kan nie in dié stadium voorspel wat gaan gebeur nie. 

Meer oor:  Supersport  |  Nick Mallett  |  Naas Botha  |  Ashwin Willemse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.