Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Ál meer SA sportlui maak stem dik

Verlede Saterdagoggend, terwyl die woede oor die moord op die jong plaasbestuurder Brendin Horner in Suid-Afrika aanhou groei het, het twee mans ver van hul geboorteland wakker geword met ’n brandende begeerte om iets daaroor te sê.

In Trevino, Italië, het die oud-Stormer Dewaldt Duvenage voor sy span, Benetton Treviso, se Pro14-wedstryd teen Leinster ’n kruis in dik ink op sy polsband geteken. En in Abu Dhabi het die gevegskunstenaar Dricus du Plessis sy eerste oorwinning in die internasionale UFC-reeks gebruik as platform om sy mening oor plaasmoorde uit te spreek.

Albei die jong mans benadruk dat hulle trots Suid-Afrikaans is. Albei sê álle moorde in die land is ’n groot bekommernis.

En albei sê dit dien geen doel om die kwessie oor ’n rasse-boeg te gooi nie.

“Dit (plaasmoorde) lê my baie na aan die hart,” het Duvenage, wat die afgelope twee jaar in Trevino speel, die afgelope week gesê. “Net vroeër die week het my familie ook drie-uur een oggend gewonder of hulle volgende gaan wees . . .

“Ek sit in Europa, so (die armband met die kruis op) is my enigste manier van ondersteuning en om bewustheid op my platform te skep.

“Geweld en moorde in alle gemeenskappe in Suid-Afrika is ’n baie groot bekommernis. Die moorde op boere is ontoelaatbaar en die wrede marteling tydens die moorde is waansinnig. Ons almal moet eet; waar kom ons voedsel vandaan?

“Oorsee begryp die mense nie wat in Suid-Afrika aangaan nie.”

Dewaldt Duvenage met die kruis op sy armband.

Duvenage (32) se indirekte boodskap deur sy armband aan die boere is dat hy hulle in sy gebede opdra en die waarde wat hulle tot Suid-Afrika en sy ekonomie toevoeg, waardeer.

Die veiligheid van sy familie en vriende in Suid-Afrika is vir hom ’n “groot bekommernis”.

“Ek bly ’n Suid-Afrikaner en my huis bly my huis. Ek sal altyd lief wees vir my land. Ek glo ons diversiteit is ’n wapen wat ons vir positiwiteit moet gebruik.”

Du Plessis, wie se ouers buite Magaliesburg met beeste, skape en groente boer, sê hy het nie ’n groot toespraak voorberei voor sy geveg verlede Saterdagaand teen die Brasiliaan Markus Perez nie, maar kon nie stilbly toe hy die geleentheid gegee is om oor sy land te praat nie.

“Dit is vir my so hartseer dat ek oor iets so negatief moes praat toe ek oor my land gevra word, want ek is regtig lief vir Suid-Afrika en vir sy mense. Ek is trots om te sê dis waar ek vandaan kom.

“Ek is nie ’n politikus nie, ek het eintlik nie eens opinies oor die politiek nie. Maar ek het ’n opinie oor wat met ons land en sy mense gebeur. Ek wil nooit iewers anders as in Suid-Afrika gaan bly nie, so ek wil sien dat ons ons probleme oplos.

“Ek het gevoel ek is bevoorreg dat ek die platform het om vir mense te vertel wat in Suid-Afrika aangaan.

“As net een mens dit gehoor het en ons kan help om die probleem op te los, was dit die moeite werd.”

  • Die Cheetah-senter Frans Steyn het verlede naweek teen die Pumas ’n swart armband met wit kruise gedra om sy misnoeë met plaasaanvalle te wys. Steyn, self ’n boer, het nie in Vrydagaand se wedstryd teen die Bulle ’n armband gedra nie.
Meer oor:  Dricus Du Plessis  |  Polsband  |  Dewaldt Duvenage  |  Sportlui  |  Plaasmoorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.