Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Albert Heenop gesels met Joggie Viljoen

Om die gewilde witkop-skrumskakel en Springbok-kaptein Dawie de Villiers se tokse agter die Bok-oond te moet volstaan, sou vir sommige spelers ’n taamlike nagmerrie wees.

Joggie Viljoen
Joggie Viljoen skop kantlyn toe in ’n toerwedstryd teen Nieu-Suid-Wallis in 1971 in Sydney. Foto: Die onoorwinlikes

Joggie Viljoen was die een wat dit in 1971 moes doen ná De Villiers se uittrede uit rugby. De Villiers het toe al van 1962 tot 1970 die Bokke se nr. 9-trui gedra en hy was ’n Springbok-rugby-ikoon ná reeksoorwinnings oor Frank­ryk, die Britse en Ierse Leeus, Australië en die magtige All Blacks.

“Ek het my nooit werklik oor dinge soos Dawie se reputasie gekwel nie,” sê Viljoen.

“Buitendien het ek toe reeds teen ’n rits skrumskakels gespeel wat ’n mens al jou hel gegee het . . . baie van hulle wat nooit kans gekry het om verder te kom nie.”

Viljoen, toe 26, was inderdaad geen kuiken nie.

In 1970, die jaar toe De Villiers Suid-Afrika tot sy skittersege van 3-1 oor die Kiwi’s gelei het, het Viljoen sy plek as ’n Griekwas-legende ingeneem toe die Poubloues die Curriebeker ingepalm het met ’n skoksege van 11-9 oor Noord-Transvaal.

Dit was juis ’n breekslag van Viljoen wat tot een van vleuel Buddy Swartz se twee drieë gelei het.

“Ons vaste voorspelers was gewillig, maar uiteraard nie van dieselfde kaliber as die van Noord-Transvaal nie,” onthou hy. “Dus moes ons hulle probeer ore aansit met allerlei truuks in die lynstane en skrums.

“Ek spot altyd dat Piet Uys, wat teen my skrumskakel gespeel het, soveel gemak agter daardie bulpak geniet het, dat hy ’n vuurtjie kon aansteek, agteroor kon sit en ’n biertjie drink terwyl hy vir die bal gewag het om uit die skrum te kom.

“Ons agterlyn was egter briljant, en hoe dan anders met Mannetjies Roux in die span?

“As kaptein het Mannetjies nooit veel gepraat nie, maar wanneer hy wel gepraat het, het alles sin gemaak.

“Daar was die keer toe Mannetjies volgens tradisie ’n lapelwapentjie aan Tom Kiernan, kaptein van die Britse en Ierse Leeus, moes oorhandig op die onthaal ná die Britte se wedstryd teen Griekwas in 1968, en hy gesê het: ‘I want to ask the captain to come and get his weapon . . .’

Piet het altyd gesê ek kan selfs die bal na hom toe rol, solank ek dit net vinnig rol.

“Op losskakel was Piet (Visagie) natuurlik ewe briljant, sonder om flashy te wees.

“Hy het nooit van die torpedo-aangee gehou nie. Hy wou vinnig die bal ontvang.

“Piet het altyd gesê ek kan selfs die bal na hom toe rol, solank ek dit net vinnig rol.”

Die vermoë om die bal flink uit te gee, het Viljoen oorgedra aan sy seuns, Albert, wat 20 jaar gelede vir die Olifante (OP) diens gedoen het op skrumskakel, en Roelof, oftewel Joggie jr., wat die Stormers se nr. 9-trui gedra en in 1996 saam met die Springbokke getoer het.

Hy het daarna Nieu-Seeland toe geskuif, waar hy met onderskeiding vir Northland, die Hurricanes en Manawatu uitgedraf het.

Die Viljoen-vaardigheid het selfs deurgesyfer na die All Blacks.

In ’n onderhoud met The New Zea­land Herald in 2012, het Aaron Smith, wat die swart nr. 9-trui ’n rekordgetal kere van 97 aangetrek het, die volgende gesê: “Ek was gelukkig op skool dat Joggie Viljoen jr., wat oor ’n uitstekende aangee beskik het, my aangemoedig het om aan klein goedjies aandag te gee . . . soos driloefeninge om my gewrigte sterk te maak.”

Joggie Viljoen sr. (75) en Dorothy is al 35 jaar getroud en woon in die Louis Dubb-aftree-oord in Gqeberha.

Joggie Viljoen en sy vrou, Dorothy.

Hulle was albei voorheen getroud en het saam agt kinders.

Benewens Albert en Joggie jr., is daar ook Jacques, Christine, Kate, Natasha, Bjorn en Justin, asook 12 kleinkinders en twee agterkleinkinders.

Joachim Frederick Viljoen is op 14 Mei 1945 in Kaapstad gebore, maar het op Vanrhynsdorp skoolgegaan.

“Ek het ook gereeld vir die dorp klubrugby gespeel,” onthou hy, “en soms teen Jannie Engelbrecht, wanneer hy plaas toe gekom het met universiteitsvakansie en vir Klawer gespeel het.

“Ná skool het ek opleiding aan die Polisiekollege ondergaan, en daarna is ek uitgeplaas na Grahamstad, waar ek vir Albany gespeel het met die voormalige Springbok Clive Ulyate, ’n uiters slim speler, as my losskakel.

“Op ’n dag, in 1966, terwyl ek nog beat geloop het, het die stasie my per radio verwittig dat ek Port Elizabeth toe verplaas is. Ek het Woensdag daar aangekom, Donderdag saam met Polisie geoefen en Maandag gehoor dat ek vir OP gekies is.”

Viljoen het sy provinsiale debuut vir OP gevier met ’n drie teen SWD in George, en in 1968 het hy ’n onderskepdrie gedruk toe OP vir die eerste keer daarin kon slaag om WP, met ’n halfdosyn Bokke in hul geledere, in ’n Curriebekerwedstryd op Nuweland te klop (15-3).

“Ná ’n oorwinning oor Griekwas, het Griekwas my ’n aanbod gemaak. Ek het gewik en weeg en toe in 1969 die polisie gelos en saam met Piet van Deventer en Jannie van Aswegen die veiligheid van die Beeshoek-myn behartig en vir Jumbo Harris se Ammosal gespeel.”

Ek moes na myself kyk; ek kon nie vir die voorspelers wag om te help nie.

Ná twee jaar in die kleure van Griekwas, het Viljoen sy Springbok-debuut in 1971 met ’n drie teen Frankryk in die Vrystaat-stadion gevier.

Die tweede toets in Durban het in ’n woeste vuisgeveg ontaard nadat die Bok-heelagter, Ian McCallum, laat geloop is, en, hoewel die kleinste speler op die veld, was Viljoen té na aan die aksie om onbetrokke te bly.

“Ek moes na myself kyk; ek kon nie vir die voorspelers wag om te help nie. Gelukkig kon ek ook vinnig weghardloop as dit moes.

“Onderonsies in die polisie het my ook geleer om na myself om te sien.”

Viljoen se ervaring as polisieman het ook gehelp dat hy die aggressiewe betogings op die onoorwonne Bok-toer na Australië in 1971 kon verwerk.

“Een aand terwyl ’n groepie van ons in Gerhard Viviers se hotelkamer gesit en kuier het, het die betogers weer buite die hotel begin lawaai opskop,” onthou hy.

“Toe gaan ek in my Springbok-baadjie uit op die stoep en sing ‘Die Stem’ vir hulle.

“Van Gerhard gepraat, ek het hom in Canberra, waar die betogers selfs bomdreigemente gemaak het, lelik die skrik op die lyf gejaag met ’n speelgoed-tydbom wat ek gekoop en in sy kamer ingerol het.

“Vroeg op die toer, in Adelaide, het lede van die span by private mense oorgebly. Daar het Hannes Marais (kaptein) een aand saam met sy gasheer gaan uiteet.

“Toe hulle die restaurant verlaat, het polisie buite met betogers slaags geraak, en een van die polisiemanne het ’n betoger na Hannes toe gestamp en geskree: ‘All yours!’

“Hannes het geskrik, maar in die proses wat hy met sy arm probeer keer het, het hy die betoger in die gesig getref.

“Vir die res van die toer was ’n prokureur op Hannes se spoor om ’n dagvaarding aan hom te oorhandig, maar met die span se hulp kon Hannes hom telkens ontduik. Piet Greyling het selfs toesprake namens Hannes waargeneem.

“Uiteindelik, die Sondag toe ons terug Suid-Afrika toe sou vertrek, het die prokureur vir Hannes op die lughawe gekry, maar die wet het hom verbied om op ’n Sondag die dagvaarding te oorhandig.”

Meer oor:  Dawie De Villiers  |  Skrumskakel  |  Springbok  |  Griekwas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.