Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Albert Heenop gesels met Martin Knoetze

Martin Knoetze het weliswaar nooit die geleentheid gehad om die Springbok-trui oor sy skouers te trek nie, maar hy het wel twéé keer hakskene vir die All Blacks gewys.

Martin Knoetz
Martin Knoetze sit voet in die hoek in ’n wedstryd vir Transvaal, wat hy 57 keer verteenwoordig het. Foto: Argief

In 1986, toe hy nog ’n student aan die Puk op Potchefstroom was, was Knoetze een van Wes-Transvaal se helde in hul nederlaag van 18-26 teen die All Blacks-rebelletoerspan wat as die Kavaliers gespeel het.

Vir sy skitterspel op heelagter is Knoetze nie net beloon met ’n drie agter die pale nie, maar in Nieu-Seeland se jaarlikse Rugby Annual, onder redaksie van die vermaarde Bob Howitt, is hy ook lof toegeswaai.

“Die Kavaliers het dikwels op toer stadiger vertoon as wat ’n mens sou verwag van spelers op dié vlak. Dit het weer in Potchefstroom gebeur, toe die heelagter Martin Knoetze en vleuel Deon Oosthuizen die Kavaliers se verdediging telkemale oorhoops gehad het met pure spoed.”

Knoetze, wat die afgelope twee dekades reeds in Amerika woon, onthou daardie koue wintersaand op Olënpark goed.

“Dit was beslis ’n uitdaging vir ons as onervare span uit die B-afdeling van die Curriebekerreeks,” sê hy.

“Hoewel dit in daardie stadium van hul toer die Kavaliers se sogenaamde weekdagspan was, sou ’n halfdosyn van daai spelers die volgende jaar (1987) vir Nieu-Seeland die Wêreldbeker help wen.

“Die Kiwi’s het Wes-Transvaal nie geken nie, so die onbekende faktor het waarskynlik bietjie in ons guns getel.”

Ses jaar later, tydens Nieu-Seeland Rugby se eeufeesvieringe in 1992, is Knoetze, op aanbeveling van Louis Luyt, ingesluit in die Wêreldspan wat die All Blacks aangedurf het in die eerste van drie “toetse” in Christchurch.

Knoetze, die enigste nie-internasionale speler tussen toets-ikone soos Gavin Hastings, Jeremy Guscott, Tim Horan en Didier Camberabero, het ondanks die feit dat hy net 80 kg geweeg het, teen Nieu-Seeland se kragvleuel Va’aiga Tuigamala (110 kg) te staan gekom. In dié uitnodigingspan se skokoorwinning van 28-14 oor die magtige All Blacks het Knoetze boonop gaan druk.

“Dit was nog isolasiejare, so ’n mens het maar met groot oë na alles daar oorkant gekyk,” erken Knoetze. “Bloot die oorsese oefenmetodes, hul manier van dinge doen, was ons ligjare vooruit.

“En, ja, Tuigamala was massief en het ’n ou maar laat bontstaan. Aangesien hy so sterk en vinnig was, moes jy hom probeer vasvat voordat hy op spoed kon kom; anders het hy selfs voorspelers onderstebo gehardloop.”

Knoetze is in 1990, twee jaar voor daardie wedstryd, getroud met sy Puk-liefde, Tracy, en hulle het twee kinders.

Knoetze en sy gesin woon deesdae in die VSA. Hier is hy saam met sy vrou, Tracy, hul seun, Martin-Barnard, en dogter, Danielle. Foto: Verskaf

“Martin-Barnard (28) woon in Omaha, Nebraska, waar hy werk vir ’n groot dak-onderneming, terwyl Danielle (25) in haar finale jaar van studie in aptekerwese in Tennessee is.

“Ek en Tracy woon tans in Greenville, Suid-Carolina, waar ek ’n geïntegreerde aankoper is vir Vallen Distribution Inc. Ons verskaf onder meer deure aan BMW.

“Dit was altyd ’n droom van my om Amerika te besoek, en ook hier te bly. Ons het aanvanklik hierheen verhuis nadat Tracy, ’n apteker, in 2001 ’n pos aangebied is. Ons was die eerste 15 jaar in San Diego.

“Die lewenskoste in Kalifornië het egter te duur geraak, en ons moes noodgedwonge die skuif maak na die ooskus, waar alles heelwat goedkoper is.”

Martin Johannnes Knoetze is op 18 Junie 1963 in Mafeking (nou Mahikeng) gebore en het grootgeword op Lichtenburg, voordat hy sy hoërskooljare aan Volkskool in Potchefstroom voltooi het.

“Ná skool het ek op aandrang van Gerrie Germishuys ’n draai by die Goudstadse Onderwyskollege gemaak, maar in daardie stadium was ek nie mal oor die stadslewe in Johannesburg nie,” vertel hy.

“Dus het ek teruggekeer Potch toe om BA HOD aan die Puk te swot.

“Ek het in Caput-manskoshuis gewoon, en dit was wonderlike jare.

“Vanuit ’n rugby-oogpunt was intervarsities teen die Kovsies altyd ’n hoogtepunt. Die dorp het eenvoudig tot stilstand gekom.

“Ons afrigter, James Stofberg, het altyd gesê dat daar sekere wedstryde is waarin ’n mens net soveel minder tyd het om iets te doen, en tydens intervarsities kon jy absoluut die intensiteit aanvoel.

“Daar het hope goeie spelers uit Potch gekom. Dink maar net aan Springbokke soos Ockie Oosthuizen, Gert Smal, Robert du Preez en Kobus Wiese.

“Om nie te praat van die legendariese prof. Johan Claassen nie. Dit was juis Claassen wat my telkens oortuig het om langer in Potch aan te bly; hoewel ek baie daar geleer het, moes ek miskien vroeër die skuif Transvaal toe gemaak het.”

Net soos met my ‘Amerikaanse Droom’, het ek van kleins af daarvan gedroom om vir die Rooibontes te speel.

Knoetze het Wes-Transvaal in 1989, ná 65 wedstryde, verruil vir Transvaal, waar hy die Rooibontes in 57 wedstryde met onderskeiding sou verteenwoordig.

“Ek is aanvanklik Pretoria toe opgeroep vir nasionale diensplig, maar Dok Luyt het gereël dat spelers soos ek, Wahl Bartmann en wyle Shaun Gage by Doornkop gestasioneer kon word, en dus vir Transvaal beskikbaar was.

“Net soos met my ‘Amerikaanse Droom’, het ek van kleins af daarvan gedroom om vir die Rooibontes te speel. En wanneer ’n mens omring word met goeie spelers en naweek ná naweek jouself teen kwaliteit-opposisie meet, verbeter jou spel eenvoudig.

In 1991 het Knoetze binnesenter gespeel vir Transvaal in die Curriebekereindstryd teen Noord-Transvaal op Loftus Vers­feld, wat die Rooibontes met 15-27 verloor het, en volgens hom is senter sy gunsteling-posisie.

“Snaaks genoeg het ek nooit voor daardie eindstryd senter op daardie vlak gespeel nie,” sê hy.

“By Wes-Transvaal het ek meesal heelagter gespeel; in 1987 het ek selfs in ’n paar wedstryde op skrumskakel uitgedraf in Bologna, Italië. In 1991 het ek losskakel begin speel vir Transvaal, tot ek vroeg in die seisoen my wangbeen gebreek het. “Harry Viljoen het egter in my geglo en my op senter teruggebring vir die eindstryd – sonder dat ek enige kontak gehad het vir 12 weke.”

Dit was in sy Transvaal-tydperk dat Knoetze vir die grootste karakter met wie hy ooit te doen gehad het, James Small, leer ken het. “James was miskien ’n malkop, maar daar was nie ’n groter spanman as hy nie. ’n Absolute legende.”

Meer oor:  Vsa  |  Transvaal  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.