Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Alvarez se ‘bofbalhoue’ te veel vir Yildirim

Amir Khan het ’n tyd gelede vertel dit het vir hom gevoel asof hy met ’n bofbalkolf gemoker word toe hy jare gelede teen Canelo Álvarez geboks het.

Avni Yildirim sal dalk ná sy kragmeting met Álvarez Sondagoggend (Suid-Afrikaanse tyd) in Amerika met dié beskrywing saamstem.

Canelo Álvarez het maklik met Avni Yildirim afgereken. Foto: Getty Images

Álvarez het Yildirim binne drie rondes van hul geveg in die Hard-Rock-stadion in Miami mak geslaan en sodoende sy super-middelgewigtitels van die Wêreldboksraad en die Wêreldboksvereniging suksesvol verdedig.

Die Turk wou nie vir die vierde ronde uit sy hoek kom nie. Álvarez het hom van die begin af met geweldige lyfhoue saggemaak.

Yildirim het sy gesig agter sy bokshandskoene probeer wegsteek, maar die ervare Álvarez het maniere gevind om deur sy verdediging te breek.

Die Mexikaanse superster het in die derde ronde ’n gaping tussen Yildirim se handskoene met sy linker oopgedwing.

Toe stoot hy ’n harde regter uit wat Yildirim laat neerslaan het.

Die Turk het opgesukkel en swaapagtig geglimlag. Daardie glimlag het vinnig verdwyn toe Álvarez hom met verskeie kombinasies vir sy lewe laat keer.

Teen die einde van die tweede ronde het Yildirim se afrigter Joel Diaz nog vir sy vegter gesê: “Moenie vir hierdie ou enige respek wys nie!”

Teen die einde van die derde ronde het Diaz besef dat Yildirim nie in dieselfde kryt as Álvarez hoort nie en hy het hom oortuig om liewer te bly sit.

Álvarez sal nou op 8 Maart teen Billy Joe Saunders van Brittanje te staan kom.

Die Mexikaanse held het gesê hy wil vanjaar nog al die ander beheerliggame se kampioene pak gee.

Dis regtig moeilik om te sien hoe Saunders (die Wêreldboksorganisasie se kampioen) en Caleb Plant (die Internasionale boksfederasie se kampioen) teen Álvarez kan staande bly.

In een van die voorgevegte het die Chinese swaargewig Zhilei Zhang se reputasie lelik skade gely toe hy gelykop teen Jerry Forrest van Amerika geboks het.

Zhang, wat voor dié geveg onoorwonne was ná 22 gevegte, sal sommer baie fikser moet word voordat hy teen topvegters soos Tyson Fury en Anthony Joshua kan boks.

Teen die einde van die tiende ronde het dit omtrent gelyk asof hy ’n hartaanval gaan kry.

Hy het Forrest vroeg in die geveg twee keer platgeslaan, maar toe die Amerikaner nie bly lê nie, het hy nie geweet wat om verder te doen nie.

• In Auckland, Nieu-Seeland, het Joseph Parker sy geveg in die swaargewig-afdeling teen Junior Fa met punte oor 12 rondes gewen.

Dis dalk tyd dat iemand die Nieu-Seelandse beoordelaars leer hoe om punte te hou. Een het gedink Parker wen met 115-113, nog een het gedink dit was 117-111 en dan was daar die een wat gedink het dit was 119-109.

Meer oor:  Boks  |  Amir Khan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.