Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Olike Birkett buit negende Dusi-titel
Andy Birkett gee siekte pak by Dusi

Die immer onstuitbare Andy Birkett het gister die negende Dusi-kroon van sy lang loopbaan verower – maar sy donder is op die dag deur die skoner geslag gesteel.

Twéé lede van die skoner geslag: Christie Mackenzie en Tamika Haw, die twee voorste roeiers in die vroue-kompetisie.

Andy Birkett gister op pad na sy negende Dusi-titel.Foto: Gameplan media

Mackenzie het haar eerste Dusi-titel verower deur die drie skofte van die kanomarathon net ’n sekonde vinniger as Haw af te lê. Die duo het mekaar in gister se laaste skof deurgaans nie ’n duim gegun nie en beurte gemaak om die voortou te neem. Mackenzie kon eers ná die eindstreep op Durban se Blue Lagoon haar sege vier, nadat sy ’n naelbyt-naelren gewen het.

Haar algehele wentyd was 10 uur en 11 sekondes, teenoor Haw se 10 uur en 12 sekondes. Albei het die derde skof in drie uur en 38 sekondes voltooi.

“Dit was ’n senutergende dag vir my, om eerlik te wees,” het die jong Durbaniet, wat nog in die o.23-klas deelneem, aan Gameplan Media gesê.

“Voor die skof het ek vir myself gesê ek moet konserwatief bly en foute vermy, omdat ek in die eerste twee dae so baie gemaak het. Ek het nog nooit in my lewe so hard teen Burma Road opgehardloop nie. Toe ons aan die anderkant terug in die water klim, was ek gáár en daar was nie veel in die tenk oor nie, maar ek het geweet ek moet by Tamika bly.”

Mackenzie het Haw ook Vrydag in ’n naelren na die eindstreep geklop en gesê dit het haar vertroue gegee dat sy weer so kon maak.

Ek kan nie kla oor my poging vandag nie. Ek voel ek raak elke jaar beter, want ek werk hard om my swak punte minder te maak.

Haw, wat al twee keer in die K2-kompetisie op die podium was, het ondanks haar tweede plek breed geglimlag oor haar K1-medalje.

Waar die uitslag van die vroue-kompetisie tot reg aan die einde in die weegskaal was, het die voorsprong van vyf minute waarmee Birkett die laaste skof begin het, die uitslag van die mans-stryd veel meer voorspelbaar gemaak.

Nietemin was sy opmars na sy negende sukses allesbehalwe maklik. Birkett het olik gevoel en sy naaste teenstander, Sbonelo Khwela, was kookwater op die laaste dag.

Sy agterstand was gans te groot om uit te vee, maar Khwela het nietemin alles in die stryd gewerp en dit danksy die dag se vinnigste tyd tot net meer as twee minute te besnoei. Hy het die skof van 32 km in 2 uur, 28 minute en 29 sekondes voltooi, teenoor Birkett se 02:31.23.

“Vanjaar se Dusi het omtrent pyn vir my uitgedeel,” het Birkett (wat die Dusi vir die derde jaar in ’n ry gewen het) gesê. “Vanoggend eenuur was ek siek soos ’n hond en die laaste skof was baie harde werk. Ek gaan nie jok nie: Ek was verheug om Durban te haal en nie meer op die rivier te ly nie.”

Khwela se kano het by Tops Needle omgeslaan, maar hy sê dit was dalk ’n goeie ding.

“Ek dink die swem daar was goed vir my, want dit het my gekalmeer. Daarna het ek ’n baie goeie ritme gekry en hard gedruk tot by Burma Road.

“Ek kan nie kla oor my poging vandag nie. Ek voel ek raak elke jaar beter, want ek werk hard om my swak punte minder te maak.”

Meer oor:  Andy Birkett
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.