Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Anriëtte ‘bak koekies’, oefen nie té hard

Terwyl sommige sportmense gedurende die inperking weens die verspreiding van die koronavirus oefen dat die sweet spat, bak die agtmalige Suid-Afrikaanse vroue- padfietsrykampioen Anriëtte Schoeman eerder koekies en skons.

Anriëtte Schoeman probeer realisties wees oor wanneer sy eendag weer aan ’n padfietswedren sal kan deelneem.

“Moenie ’n fout maak nie, ek oefen darem om nie heeltemal onfiks te raak nie, maar ek oordoen dit beslis ook nie,” sê Schoeman, wat haar by haar huis in Port Elizabeth bevind.

“Die realiteit is egter dat daar soveel byeenkomste vir so ver vorentoe afgestel is, dat dit nie is asof ek binne twee weke nadat die inperking verby is skielik aan ’n wedren gaan deelneem nie.”

Sy hou haar dus besig “sonder om simpel goed aan te vang” wat haar by die hospitaal se Ongevalle-afdeling kan laat beland.

“ ’n Mens moet nou natuurlik versigtig wees om nie gewig aan te sit nie, want jy is geneig om die hele dag te peusel,” waarsku sy.

Die laaste wedren waaraan Schoeman deelgeneem het was die Kaapstadse fietstoer op 8 Maart. Sy het dié wedren al sewe keer gewen, maar moes dié keer tevrede wees om in die voorste bondel te eindig.

“Ek sou Donderdag na Solwezi in Zambië gevlieg het om daar aan ’n wedren oor 140 km deel te neem, maar dis natuurlik ook afgestel,” sê Schoeman.

Schoeman sê sy verstaan die frustrasie van sportlui wat bitter hard geoefen het vir ’n byeenkoms en nou sit hulle by die huis.

“Jy het so hard gewerk en nou is daar niks nie. Dis iets wat jy sielkundig moet verwerk,” sê sy.

Sy wil nie te ver in die toekoms inkyk en haar hoop op ’n wedren stel net om dan te hoor dis ook af- of uitgestel nie.

“Ek dink die volgende wedren wat op die kalender is wat nog nie afgestel is nie, is een in Knysna wat veronderstel is om in Junie plaas te vind,” sê die voormalige Olimpiese ryer.

Schoeman het die afgelope paar jaar ook gereeld aan bergfietswedrenne deelgeneem en soms baie goed gevaar.

“Ek doen dit egter meer vir afwisseling. Padfietswedrenne bly my eerste liefde,” sê sy.

“Die bergfietswedrenne is pret. Dis baie taai en dit gee jou baie vasbyt vir die padfietswedrenne.

“Ek doen dit graag, maar dit bly ’n leerproses. Ek probeer om myself nie onder druk te sit deur elke keer vir die eerste plek te gaan nie.”

Meer oor:  Koronavirus  |  Fietsren  |  Covid-19  |  Fietsry
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.