Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Ashleigh wil speke in Italië laat sing
Ashleigh Moolman-Pasio hoop om vanjaar haar volle potensiaal te verwesenlik. Foto: Getty Images

Jy kan die Suid-Afrikaanse fietsryer Ashleigh Moolman-Pasio seker nie verkwalik dat sy meer as oorgehaal is om haar staal te wys wanneer sy die naweek vir haar eerste wedren van die seisoen aantree nie.

Moolman-Pasio (35) neem Saterdag aan die Strade Bianche in Italië deel.

Dié eendagwedren oor 136 km, met groot gedeeltes wat op wit grondpaaie gery word, is een van die hoogtepunte op die internasionale fietsrykalender.

Ashleigh Moolman-Pasio sien uit daarna om haar seisoen op ’n hoogtepunt te begin. Foto: Getty Images

Die Suid-Afrikaner het egter slegte herinneringe aan 2020 se besoek aan Italië. Sy het kort voor verlede jaar se wedren geval in ’n oefenrit, wat haar ’n paar weke van die fiets gehou het.

“Dit is ’n wedren wat ek nog altyd graag wou wen,” sê Moolman-Pasio, wie se beste vertoning in die Strade Bianche ’n vierde plek in 2015 is.

“Ek voel dit is nou ’n geleentheid om te vergoed vir die kans wat verlede jaar verlore gegaan het. Ek hoop om ’n goeie wedren te hê.

“Ek het regtig ’n baie goeie afseisoen gehad en my voorbereiding vir die Strade was goed. ’n Belangrike deel van my afseisoen was my sege in die virtuele Wêreldkampioenskap (laat in 2020).

“Dit het my jaar op ’n hoogtepunt laat afsluit en ekstra motivering vir die nuwe jaar gegee,” sê sy.

Moolman-Pasio ry vanjaar vir die Nederlandse span SD Worx. Dit word allerweë as die voorste vrouespan in die wêreld beskou.

Suid-Afrika se Ashleigh Moolman-Pasio en Anna van der Breggen (foto) is vanjaar spanmaats. Foto: Getty Images

’n Ryer soos Nederland se Anna van der Breggen, die huidige wêreldkampioen in die padwedren én individuele tydtoets, is een van Moolman-Pasio se spanmaats.

“Ek het die voorreg gehad om haar kamermaat te wees en sy is regtig baie hulpvaardig deur inligting met my te deel. Ons het byvoorbeeld oor vorige wedrenne gesels en sy het my terugvoering gegee oor waar sy dink ek dalk gefouteer het, of hoe ek dinge dalk anders kon gedoen het. Dit is wonderlik om ’n ryer van haar kaliber te hê wat sulke inligting deel. Ek glo dit sal my help om vanjaar my volle potensiaal te verwesenlik.”

Moolman-Pasio het hoeka groot ambisies vir 2021. Sy hoop om vanjaar, soos in 2012 en 2016, aan die Olimpiese Spele deel te neem.

Sy sê sy het laat in 2019 na Tokio gereis om haar van die roetes in die padwedren en individuele tydtoets op die wêreld se grootste sportskouspel te gaan vergewis. Die Spele is verlede jaar uitgestel, maar is gereël om vanjaar in Julie te begin.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.