Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Aussie Proteas se troefkaart in WB-halfeind

Suid-Afrika is Saterdag op die rugbyveld en die netbalbaan slaags met Australië.

Gelukkig vir die Proteas het hulle ’n Aussie in hul hoek. Een wat bitter goed vertroud is met Australiese netbal.

Norma Plummer bespreek strategie met haar spelers tydens die wedstryd teen Jamaika.Foto: Gallo Images | Reg Caldecott

As ’n voormalige speler, kaptein én afrigter van die Aussies, kén Norma Plummer die werkinge en denke in Australiese netbal.

Sy weet presies hoe die Aussies hul netbal benader, of dit nou hul nasionale span of ’n streekspan is.

Plummer sal dus haar planne reg hê wanneer haar Suid-Afrikaanse span Saterdag in die halfeindronde van die Wêreldbeker-toernooi teen Australië te staan kom.

Dit is ’n magtige berg wat die Proteas in Liverpool moet klim, want die Aussies is die verdedigende kampioen en nommer een in die wêreld.

Boonop skets die geskiedenis ’n donker prentjie met die rekords wat sê Suid-Afrika kon die Aussies in 39 toetse nog nooit klop nie!

Jy moet elke dag opdaag en speel om die volgende ronde te haal.
Norma Plummer

Die Proteas se nederlaag met vier doele (50-54) in 2018 in Londen was hul beste vertoning tot nog toe teen die span van Doer Onder.

In Januarie 2019 in die einste arena in Liverpool was die doeleverskil 17 – 45-62.

Die Proteas beleef ’n puik WB-veldtog, met die enigste klad op hul rekord Donderdag se nederlaag van 47-58 teen Engeland.

Dié wedstryd het bepaal of hul halfeind-teenstander die Aussies of die Kiwi’s sou wees.

Plummer was onseker wie sy verkies.

Dié ervare afrigter was lugtig vir die Silwervarings, wat Donderdag skerp gelyk het in hul naelskraapse nederlaag met 49-50 teen die Aussies.

Bongiwe Msomi, die SA kaptein, het vandeesweek in die Wêreldbeker-toernooi van voor gelei. Foto: Getty Images

Sy sê Nieu-Seeland het Australië sterk aangevat. “As Maria Folau (Kiwi-hulpdoel) haar laaste poging gesink het, sou dit ’n gelykop-uitslag gewees het.

“Die Aussies was dalk gelukkig. Hulle kon dalk die halfeind gehaal het net oor ’n beter doelgemiddelde,” sê Plummer.

Sy sê die Kiwi’s sou beslis twyfel in die kampioene se gemoed gesaai het.

Plummer sê die spelers kan nou na die Engelse wedstryd kyk en dit wat hulle nie reg gedoen het nie, teen Australië toepas.

“Dit was ons doelwit om die laaste vier te haal. Die Proteas was nog nie in dié situasie nie. Ja, daar was toetse in die Vierhoekige reeks en die Statebondspele, maar dié is ’n ander storie.

“Jy moet elke dag opdaag en speel om die volgende ronde te haal. Die druk gaan Saterdag en Sondag groot wees,” sê Plummer.

Sy was die breier toe die Aussies in 2007 in Auckland en in 2011 in Singapoer wêreldtitels ingepalm het.

Netbal Suid-Afrika (NSA) swyg nog oor of dié naweek Plummer se laaste saam die SA span sal wees.

Die verwagting is dat ’n Suid-Afrikaanse afrigter die leisels gaan oorneem, met Plummer wat dalk as konsultant betrek kan word.

Nicole Cusack (hulpafrigter) se termyn eindig nou.

Proteas

* Die SA span is vandeesweek getref deur twee sterfgevalle. Cecilia Molokwane, die NSA-president, se ma is oorlede en Nisha Rupnarain, die spanbestuurder, se pa.

* Engeland en Nieu-Seeland speel om 16:00 die tweede halfeindstryd.

* TV: Saterdag vanaf 12:15 (SS 10).

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.