Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Beers ry Paarl-bergpaaie plát vir SA titel

Dit was ’n volmaakte warm en windstil herfsdag in die Paarl, maar die bergfietsryer Matt Beers het Saterdag nie kans gekry om die natuurskoon te geniet nie.

Matt Beers Saterdag op pad na sy oorwinning by die Suid-Afrikaanse marathon-veldrenbyeenkoms. Foto: Chris Hitchock

Beers het die Suid-Afrikaanse marathon-veldrenbyeenkoms feitlik vanaf die wegspring oorheers en die wedren met 5 minute 21 sekondes gewen.

Beers se wentyd oor die uitdagende 85 km-roete was 3 uur 36 minute 44 sekondes.

Die Paarl Adventure Trails se moeilike roete verby Spice Route, die Diamante-landgoed en Rhebokskloof is hoofsaaklik enkelspore en dit sou die sterkste ryers bevoordeel.

Die 85 km sluit 2 100 m se klimwerk in, waarvan die grootste deel in die eerste 50 km is.

Van Suid-Afrika se voorste marathon-bergfietsryers het aangetree: Beers, Matthys Beukes, Philip Buys, Gert Heyns, Arno du Toit, Keagan Bontekoning, Nicol Carstens, Jacques Janse van Rensburg, Tristan Nortje, Rudi Koen en HB Kruger.

Die voorste ryers het die eerste 6 km van dubbelspore afgeblits. ’n Steil opdraande op pad na die eerste enkelspoor van die dag – die berugte “Wall-klim” – het die groep uitgedun.

Beers het teen ’n verbysterende pas getrap en sy uitdagers was op die agtervoet. Hy het die bopunt van die eerste klim met ’n groot voorsprong bereik en die volgende 70 km feitlik manalleen gery.

“Met so baie enkelspore kan jy nie eintlik as ’n groep saamwerk nie, so om op my eie te ry was nie juis ’n nadeel nie,” sê Beers.

“Ek het gesien Arno (Du Toit) het my aanvanklik gejaag, maar toe hy terugval, moes ek net my tempo behou.”

Yolande de Villiers het die vrouewedren gewen nadat die aanvanklike wenner, Robyn de Groot, gediskwalifiseer is. Foto: Chris Hitchcock

Beers sê die laaste 5 km was baie moeilik en hy het krampe gehad.

“Maar ek is so bly om die nasionale marathontitel te kon wen. Dit is jare lank al ’n groot doelwit, veral nadat ek 2019 se wedren weens ’n gebreekte sleutelbeen misgeloop het en 2020 se ren weens Covid-19 afgelas is.

Beukes het tweede geëindig in 3:42:06, met Du Toit wat derde klaargemaak het in 3:42:07.

In die vroue se wedren het Robyn de Groot, Amy McDougall en Yolande de Villiers binne die eerste 30 km die res van die deelnemers agtergelaat.

De Groot, ’n sesmalige marathonkampioen, het weggebreek en oor die volgende 10 km ’n voorsprong van vier minute opgebou.

Dié ryer van Dormakaba het by die Rhebokskloof-enkelspore ’n padmerker misgekyk, die verkeerde paadjie gevat en 5 km minder gery.

Sy het die eindstreep eerste bereik, maar nadat die voorste groep ryers se GPS-statistieke bekyk is, is sy gediskwalifiseer en is die oorwinning aan De Villiers in ’n tyd van 4:27:46 toegeken.

Hayley Preen, SA padkampioen, was tweede in 4:32:33, met McDougall derde in 4:35:39. – Sportredaksie

Meer oor:  Bergfietsry  |  Matt Beers  |  Fietsry
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.