
Conor Benn (regs) gee Sebastian Formella Saterdag in hul geveg in Londen ’n goeie pakslae. Foto: Matchroom Boxing
Die Britse weltergewigbokser Conor Benn het met sy maklike oorwinning die afgelope naweek in Londen oor Sebastian Formella van Duitsland gewys hy is reg vir groter dinge.
Formella het in Augustus teen die voormalige Wêreldboksraad-kampioen Shawn Porter van Amerika geboks en met punte verloor.
“Ek het hom (Formella) meer oortuigend as Porter geklop,” het Benn Saterdag ná sy geveg teen die Duitser aan Boxing Scene gesê.
Die beoordelaars het die geveg met 99-91, 99-92 en 100-91 aan hom toegeken.
Benn was te verstane ingenome met homself en hy het sommer dadelik sy visier op ’n paar moontlike teenstanders ingestel.
“Die enigste plaaslike geveg waarin ek belangstel is een teen Josh Kelly. Mense sê ek is bang vir hom. Lyk ek bang?” het Benn gevra.
Kelly boks op 30 Januarie in Londen teen David Avanesguan van Rusland, die Europese Boksunie se kampioen.
Volgens Benn sien hy ook kans vir die ervare Samuel Vargas van Colombia.
Benn, of sy raadgewers, besef darem dat hy nog nie reg is vir die heel bestes in sy afdeling nie.
Twee van hulle, Errol Spence en Danny Garcia, pak mekaar volgende naweek in Arlington, Texas.
Spence se titels van die Wêreldboksraad en die Internasionale Boksfederasie sal dan op die spel wees.