Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
‘3 Musketiers’ dreun mekaar op
Andy Birkett roei Donderdag voor in die eerste skof met Hamish Lovemore (regs) kort agter hom. Foto: Jaco Marais

Die drietal van Hank McGregor, Andy Birkett en Hamish Lovemore is vooraf as die gunstelinge vir die Bergrivier-kanomarathon bestempel en het dié status Donderdag gestand gedoen.

Hulle het uit die staanspoor beheer geneem in die eerste skof oor 56 km, wat in die Paarl begin en op die plaas Delsma tussen Gouda en Saron geëindig het.

Die kanovaarders het in sonnige toestande op ’n vol Bergrivier weggespring en ná drie en ’n half uur van supervinnige roeiwerk was dit McGregor wat sy eindpoging met volmaakte tydsbereking uitgevoer het.

Hy het die dag net-net as die voorloper afgesluit in ’n tyd van 3 uur, 36 minute en 30 sekondes, met Birkett net ’n enkele sekonde ná hom in die tweede plek en Lovemore derde in 3:36.35.

Lovemore het die vierdaagse wedvaart in 2019 saam met Tyron Maher gewen toe dit ’n K2-kompetisie was.

McGregor, Birkett en Lovemore is reeds die “Drie Musketiers” gedoop en ’n mens kan verwag hulle sal die pas aangee, as niks tussen Vrydag en Sondag sou skeefloop nie.

“Dit was moordende mededinging,” sê McGregor.

“Vir die eerste twee uur was daar ’n groot groep toe Wayne Jacobs en Alex Masina ons ingehaal het en by die vier van ons aan die voorpunt aangesluit het.”

In daardie stadium het die Paarliet Luke Stowman saam met die “Drie Musketiers” die voorhoede gedek.

“Die pas was van die begin af baie vinnig en met die skof wat korter as gewoonlik was, het dit deelnemers nóg vinniger laat roei.”

Jasper Mocké het 11de geëindig in die eerste skof van die Bergrivier-kanomarathon. Foto: Jaco Marais
Twee toeskouers hou die roeiers dop op die Skooltjie-brug. Foto: Jaco Marais

Birkett, van Oos-Londen, sê hy sy dag vol inspirasie begin nadat hy die nuus gehoor het dat sy voormalige dubbelsmaat Jean van der Westhuyzen ’n goue medalje by die Olimpiese Spele gewen het.

Die 22-jarige Van der Westhuyzen, wat in Kaapstad gebore is, het in die K2-wedvaart oor 1 000 m goud vir Australië gewen.

“Die nuus het my hoendervleis gegee. Ek het vandag baie aan hom gedink terwyl ek geroei het,” sê Birkett.

Sy vrou, Nikki, het vir die grootste deel van die dag alleen voor geroei en ’n voorsprong van meer as vyf minute in die vroueafdeling opgebou.

Haar wentyd was 4:11.18, met Jordan Peek tweede in 4:16.56 en Tracey Oellerman derde in 4:23.26.

Rene Boehm strooi Donderdag sy broer Edgar se as in die Bergrivier. Foto: Jaco Marais

• Voor die begin van die skof het Rene Boehm in ’n klein seremonie sy broer Edgar se as in die Bergrivier gestrooi.

Dié legende van die Berg is in November verlede jaar oorlede. Hy het in 45 agtereenvolgende wedvaarte deelgeneem en talle jongelinge aan die sport bekend gestel.

Hy het in 1974 aan sy eerste wedvaart deelgeneem.

Rene neem vandeesweek aan sy 38ste Berg deel.

Berg

• Vrydag se tweede skof is langer as gewoonlik – oor 56 km tussen Delsma en Bridgetown. Die wedvaart eindig Sondag by Velddrif aan die Weskus.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.