Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Bernal se aanslag in Tour beëindig
Die Sloween Tadej Pogacar (UAE) ry Sondag oor die wenstreep om die 15de skof te wen. Foto: AP

Danksy ’n skitterende poging deur die Sloweense fietsryer Primož Roglic se spanmaats het hy sy houvas op die geeltrui in die Tour de France behou – en ’n einde gemaak aan die verdedigende kampioen se aanslag.

Roglic was voor die begin van Sondag se 15de skof oor 174,5 km tussen Lyon en Grand Colombier 59 sekondes voor 2019 se kampioen, Egan Bernal (Ineos Grenadiers). Die Colombiaan was algeheel in die derde plek, met Tadej Pogacar (UAE, + 44 sek) tweede.

Sondag se skof het onder meer bestaan uit twee kategorie 1-klimme en geëindig teen Grand Colombier, ’n hors catégorie. Dit het beteken dat die skofwenner heel waarskynlik ’n sterk klimmer soos Roglic of sy landgenoot Pogacar sou wees.

Einde van sy aanspraak. Egan Bernal (tweede van links) het swaar geleef en almal wonder wat hom makeer. Foto: Reuters

Bernal se swakhede is ontbloot toe Roglic se spanmaats van Jumbo-Visma teen die Grand Colombier die pap vooraan die peloton dik aangemaak het. Met 13 km oor was dit Bernal wat afgeskud is en agtergeraak het. Hy het duidelik ongemak verduur, en het koebaai gewuif vir sy kanse om sy titel suksesvol te verdedig.

Dit is dalk maar goed vir Bernal dat toeskouers weens die Covid-19-pandemie nie op die Grand Colombier toegelaat is nie – dit sou die vernedering vir hom straks erger gemaak het. Maar die hele wêreld kon steeds op televisie aanskou hoe hy stukkie vir stukkie geknak word.

Pogacar het die skof gewen, sy tweede sege vanjaar, deur in 4 uur, 34 minute en 13 sekondes oor die wenstreep te ry. Roglic was tweede, met die Australiër Richie Porte (Trek-Segafredo) vyf sekondes ná die wenner.

Bernal het die skof in die 25ste plek voltooi – 7 minute en 20 sekondes ná die wenner. Hy is nou algeheel in die 13de plek, 8 minute en 25 sekondes ná Roglic.

Pogacar is nou 40 sekondes ná Roglic en kan in die volgende paar dae tussen sy landgenoot en Tour-glorie staan.

Vroeg in die skof was Oostenryk se Michael Gogl, wat vir die plaaslike NTT-span ry, een van agt ryers in ’n wegbreekgroep. Aan die voet van die eerste kategorie 1-klim het die groep ’n voorsprong van net meer as vier minute bo die peloton gehad.

Gogl en Pierre Rolland (B&B Hotels-Vital Concept) het later weggebreek, maar hulle is sowat 13 km van die einde ingehaal. Toe het Jumbo-Visma ’n einde aan Bernal se drome gemaak met ’n spanpoging soos min.

Suid-Afrika se Daryl Impey (Mitchelton-Scott) is algeheel in die 99ste plek, met Ryan Gibbons (NTT) 132ste.

NTT is steeds 20ste uit 22 in die spankompetisie.

• Maandag is ’n rusdag. Die Tour eindig Sondag in Parys.


Meer oor:  Tour De France  |  Fietsry
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.