Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Bernal se Tour plof ineen: ‘Ek was leeg’

Nadat Egan Bernal se aanslag in die Tour de France Sondag sonder omhaal beëindig is, het die verdedigende kampioen erken dat hy net nie opgewasse vir die uitdaging was nie.

Die verdedigende kampioen, Egan Bernal, se gesig is die ene inspanning tydens die 15de skof. Foto: AP

Die 23-jarige Colombiaanse fietsryer het tydens die 15de skof tussen Lyon en Grand Colombier, teen die laaste klim, ’n hors catégorie (die moeilikste klim in ’n fietstoer), uitgesak en 25ste oor die eindstreep gery. Dit was sewe minute en 20 sekondes ná die skofwenner, Tadej Pogacar (UAE), van Slowenië.

Bernal is nou algeheel in die 13de plek, agt minute en 25 sekondes ná die draer van die geeltrui, Primož Roglic (Jumbo-Visma). Dit beteken dat sy aanspraak om vanjaar weer as kampioen gekroon te word prakties gesproke by die deur uit is.

“Dit is moeilik om te beskryf hoe ek gevoel het, maar ek het leeg gevoel en geen krag gehad nie. Toe die ander ryers versnel het, kon ek nie vinnig reageer nie,” sê Bernal, volgens ’n verklaring van sy span, die Ineos Grenadiers.

“Ek is die nommereen-ryer (in sy span) en ek het probeer om my beste te gee, maar daar was ryers wat sterker as ek was.

“Selfs as ek die laaste klim saam met die ander ryers wat meeding om die algehele titel begin het, het ek gevoel dat hulle my sou agterlaat. Ek wou my beste lewer, nie net vir myself nie, maar ook vir my span en die respek wat ek vir die wedren het,” sê hy.

Jumbo-Visma tydens Sondag se skof besig om die pap vooraan die peloton dik aan te maak. Voor is Tom Dumoulin, met Primož Roglic agter hom. Foto: AP

Bernal se onvermoë om sy titel vanjaar te verdedig, het ook ’n einde aan sy span, wat tevore as Sky bekend gestaan het, se oorheersing in die Tour gemaak. Sedert 2012 was die wenner elke jaar, met die uitsondering van 2014, ’n ryer van dié span.

Daar is egter ’n nuwe span op almal se lippe – die Nederlandse Jumbo-Visma. Teen die Grand Colombier was dit ryers van die span, soos Wout van Aert, wat die pap dik vooraan die peloton aangemaak het. Alles in ’n poging om ’n ryer soos Bernal te knak en om die spreekwoordelike rooi tapyt vir Roglic uit te rol. Wat perfek vir hulle uitgewerk het.

Teen die hors catégorie was daar geen teken van Bernal se spanmaats in die voorste gestoeltes nie, wat ook opnuut die debat oor die weglating van die ervare Chris Froome en Geraint Thomas laat opvlam het.

Die twee het tussen hulle die Tour vyf keer gewen, en veral Thomas sou waarskynlik by Roglic en sy spanmaats kon byhou – selfs al is sy peil dalk nie tans heeltemal wat dit moet wees nie.

• Die 16de skof word Dinsdag oor 164 km tussen La Tour-du-Pin en Villard-de-Lans beslis.


Meer oor:  Primož Roglic  |  Egan Bernal  |  Fietsry  |  Tour De France
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.