Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Beukes kry nuwe spanmaat vir Sani2C

Terwyl ’n klompie Suid-Afrikaanse bergfietsryers op ranglyspunte in Europa jag maak, sal daar die naweek sterk mededinging in KwaZulu-Natal wees.

Die driedaagse Sani2C-skofwedren oor 266 km begin Vrydag in Himeville.

Matthys Beukes (PYGA Eurosteel) se nuwe spanmaat is Gert Heyns. Foto: Anthony Grote

Gert Heyns, verlede jaar se kampioen saam met Arno du Toit, sal vanjaar saam met die ervare Matthys Beukes vir die PYGA Euro Steel-span deelneem. Ook in dié span is Philip Buys en Pieter du Toit.

Buys sê in ’n verklaring hy moes voor die SA marathon-byeenkoms vyf dae weens ’n verkoue rus.

“Gert en Matthys was toe die sterkste ryers in die Paarl, so ons het besluit hulle moet saamry,” sê Buys.

“Ons span sien uit na Sani. Dit sal ons eerste skofwedren met ons volle span in ’n lang tyd wees. Die mededinging is sterk, almal lyk goed op dreef. Ek is vol vertroue dat ons span ’n aanspraakmaker op die titel sal wees. Ons sal met twee ewe sterk spanne deelneem.”

Arno du Toit (links) en Gert Heyns in aksie in verlede jaar se Sani2C, wat hulle as DSV Pro Cycling gewen het. Foto: Anthony Grote

Beukes was vroeër dié maand tweede op die nasionale byeenkoms, met Arno du Toit derde en Heyns vierde.

Matt Beers is daar as die nasionale kampioen gekroon. Hy sal in die Sani trap saam met Wessel Botha (Team TypeDev NanoTime) en sal graag weer daar wil wen. Hy en Nico Bell het die wedren in 2018 gewen.

Beers sê dit is ’n sterk veld. “Rudi Koen en Marco Joubert is die ouens om dop te hou, hulle is sterk. Nicol Carstens en Jacques Janse van Rensburg sal goed vaar en natuurlik PYGA Euro Steel. Arno du Toit en Keagan Bontekoning is ook ’n span om te klop.

“Ek en Wessel het al baie saamgery en gewen. Ons het vertroue in mekaar en in ons vermoëns. Die roete pas Wessel, maar hy het dit nog nie gery nie, so ek sal die praatwerk moet doen.

“Ek is opgewonde om weer deel te neem nadat ek dit verlede jaar misgeloop het.”

Amy McDougall se spanmaat is Robyn de Groot. Foto: Anthony Grote

Carstens en Janse van Rensburg het die afgelope naweek onderskeidelik eerste en derde geëindig in die Race to the Sun in Noordwes en albei se peil is goed.

Robyn de Groot en Amy McDougall sal hul titel as die Motorlease Perigon-span verdedig.

“Ek en Robyn het op die nippertjie besluit om saam te ry. Ons het verlede jaar gewen en dit is ’n eer om ons titel te kan verdedig. Die byeenkoms het ’n spesiale plek in my hart,” sê McDougall, wat derde op die nasionale marathonbyeenkoms geëindig het.

De Groot sal met mening van haar wil laat kennis neem. Sy het eerste in die marathonwedren geëindig, maar is gediskwalifiseer nadat sy ’n padmerker misgekyk en 5 km minder gery het.

Theresa Ralph het ’n nuwe spanmaat in Kim le Court.

“Amy was derde op die marathonbyeenkoms en trap sterk, en Robyn is tans ekstra sterk. Dit gaan moeilik wees om hulle te klop. Almal se peil is goed, want ons het vir die marathonbyeenkoms voorberei,” sê Ralph.

Die spanne se eindbestemming is Scottburgh se gholfklub Sondagoggend.

Meer oor:  Bergfietsry  |  Sani2c  |  Fietsry
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.