Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
‘Beurtkrag verleentheid vir SA sport’

Sportbyeenkomste wat deur beurtkrag onderbreek word, is ’n “verleentheid vir die land”, sê Jacques Faul, uitvoerende hoof van die Titans-krieketfranchise.

Weens beurtkrag was geen spel in die UJ-stadion moontlik tydens Maandag se Varsitybeker-wedstryd tussen die Universiteit van Johannesburg en Tuks nie. Foto: Gallo Images

Sedert Eskom Sondag weer onverwags met beurtkrag begin het, is minstens twee sportbyeenkomste met ’n hoë profiel daardeur beïnvloed.

Sondag is die mans se wegspring by die Kaapstadse Wêreldbeker-driekampbyeenkoms met 20 minute vertraag omdat die luidsprekerstelsel weens beurtkrag nie kon werk nie.

Toe, Maandag, moes ’n Varsitybeker-wedstryd tussen die Universiteit van Johannesburg en Tuks wat in die Goudstad gespeel moes word, na Dinsdag uitgestel word omdat die spreiligte in die stadion nie aangeskakel kon word nie.

“Ons kompetisies word wêreldwyd gevolg en dit is ’n verleentheid as dit weens beurtkrag nie kan plaasvind nie.

“Almal wil byeenkomste hierheen (Suid-Afrika) bring, maar wat sê dit van ons vermoë om groot geleenthede aan te bied?” sê Faul.

By SuperSport-park, die Titans se tuisveld, is daar kragopwekkers om te verseker dat wedstryde voortgaan.

Faul sê hulle sou aanvanklik die afgelope Sondag, tydens die span se wedstryd (’n dagwedstryd) in die plaaslike eendagreeks teen die Knights, van 13:00 af ’n kragonderbreking gehad het.

“Ons is maar gedurig in gesprek met die ouens (Eskom) en het hulle gevra of hulle dit nie op ’n ander tyd kan doen nie. Solank dit gekontroleerd is en Eskom by sy woord hou, kan ’n mens darem beplan,” sê Faul.

Jacques Faul, uitvoerende hoof van die Titans. Foto: Gallo Images

Toe Xhanti-Lomzi Nesi, bestuurder van die Varsitybeker-reeks, om kommentaar genader is oor die gebeurlikheidsplanne van dié reeks het hy eers gevra: “Het jy ’n oplossing?

“Ons is besig om planne in plek te kry en sal dit Woensdag bekend maak. Die wedstryde wat regstreeks op televisie uitgesaai word, word nie geraak nie.

“Daar is van die universiteite wat gebeurlikheidsplanne het, maar die vraag is rondom die wedstryde wat nie uitgesaai word nie,” sê Nesi.

Louis Jacobs, woordvoerder van die Noordwes-Universiteit, sê beurtkrag sal nie ’n invloed op tuiswedstryde van die Pukke hê nie.

“Al die tuiswedstryde wat uitgesaai word, is in elk geval van die begin af op noodkrag om onderbrekings te voorkom. In die geval van ’n kragonderbreking skakel al drie ons kampusse (Potchefstroom, Vanderbijlpark en Mahikeng) dadelik oor na noodkrag, en dit geld ook die Fanie du Toit-sportgronde (waar die Pukke se tuiswedstryde gespeel word),” sê Jacobs.

Ook die Maties, die verdedigende Varsitybeker-kampioen, sê by monde van hul woordvoerder, Martin Viljoen, dat dié universiteit kragopwekkers op bystand het.

Heinrich Strydom, uitvoerende hoof van die Dolphins, wat van Woensdag af gasheer speel vir die eerste toets tussen Suid-Afrika en Sri Lanka, het aan Tinus van Staden gesê daar is planne in plek om te verseker kragonderbrekings ry nie die spel in die toets of enige komende wedstryde in die wiele nie.

“Ons basiese plan is om seker te maak ons kommunikeer vroegtydig met die munisipaliteit, sodat hulle die beurtkragskedules om die spesifieke wedstryde kan opstel.

“Vir middag-aand-internasionale wedstryde gebruik ons deurgaans kragopwekkers,” sê Strydom.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.