Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Biles sal dogter nie naby USAG toelaat

Die Amerikaanse Olimpiese ster Simone Biles sê as sy ’n ma was, sou sy haar dogter van die USAG, die beheerliggaam vir gimnastiek in Amerika, verbied het.

Biles tel onder die talle slagoffers van Larry Nassar, voormalige USAG-spandokter, wat in 2018 tot 300 jaar tronkstraf gevonnis is. Hy is daaraan skuldig bevind dat hy meer as 250 gimnaste seksueel mishandel het en Biles is een van diegene wat ontevrede is met hoe die USAG die kwessie gehanteer het.

Biles het voorheen vir ’n onafhanklike ondersoek gevra.

“Dit is ver van verby,” sê Biles (23) in ’n onderhoud met CBS se 60 Minutes.

“Daar is steeds baie vrae wat beantwoord moet word.”

Simone Biles voel die USAG het steeds nie genoeg gedoen om die Larry Nassar-kwessie op te los nie. Foto: Getty Images

Die wenner van vier Olimpiese goue medaljes is op 60 Minutes gevra of sy eendag haar dogter aan die USAG-program sal laat deelneem. “Nee. Want ek voel nie gemaklik genoeg nie, want hulle het nie aanspreeklikheid aanvaar vir hul aksies en wat hulle gedoen het nie.

“Hulle het ons ook nog nie die versekering gegee dat so iets nooit weer sal gebeur nie.”

Biles, met ’n merkwaardige 19 wêreldtitels, sê sy voel persoonlik teleurgestel deur die USAG en die Amerikaanse Olimpiese Komitee.

“Ons bring hulle medaljes. Ons bring ons kant. Kan jy nie op jou beurt jou kant bring nie? Dit is net, soos, dit maak ’n mens siek.”

Op die vraag oor watter vrae onbeantwoord bly, sê Biles: “Presies wat het wie wanneer geweet? Julle ouens het so baie sportlui in die steek gelaat. En die meeste van ons is minderjarig. Dink julle ouens nie dit is die groter probleem nie?

“Ek bedoel, as dit ek was en ek het iets geweet, sou ek dit so gou as moontlik opgelos wou hê.”

Die USAG het in Januarie 2020 planne bekendgemaak om ’n skikking van $215 miljoen aan Nasser se slagoffers uit te betaal.

Larry Nassar is vir 300 jaar tronk toe gestuur. Foto: Getty Images

Li Li Leung, uitvoerende hoof van die USAG, sê die beheerliggaam “besef hoe diep ons die vertroue van ons gimnaste en die gemeenskap geskend het”.

Sy sê die USAG werk hard daaraan om daardie vertroue te herstel.

“Alles wat ons nou doen, is daarop gemik om ’n veilige, inklusiewe en positiewe kultuur te kweek vir almal wat aan ons sport deelneem.”

Sarah Hirshland, grootbaas van die Amerikaanse Olimpiese en Paralimpiese Komitee, sê hulle is daartoe verbind om die organisatoriese foute en kwessies in die liggaam reg te stel.

– Sportredaksie

Meer oor:  Gimnastiek  |  Larry Nassar  |  Simone Biles
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.