Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Binder: ‘As ek net uit die gruis kon bly ...’

Toe Brad Binder in Augustus in die Tsjeggiese Republiek ’n MotoGP-sege in slegs sy derde wedren op daardie vlak behaal het, het hy gedink die wêreld lê oop voor hom.

Maar drie en ’n half maande later praat hy met ’n stem dik van die frustrasie oor ’n seisoen wat hom met mening terug aarde toe geruk het.

Brad Binder sê hy weet ná sy debuutseisoen hy hoort in MotoGP en lê alles wat nie volgens plan verloop het nie voor sy eie deur. Foto: Red Bull Content Pool

Die 25-jarige Krugersdorper het verlede week teruggekeer Suid-Afrika toe ná ’n debuutseisoen waarvoor die meeste MotoGP-jaers hul oogtande sou gee. Met daardie sege in Tsjeggië onder die knie het hy 11de in die kampioenskap geëindig en met die Nuweling van die Jaar-kroon weggestap.

Maar Binder is heeltemal te krities met homself om die jaar daarom as ’n sukses te beskou. Sy fokus is eerder op die ander geleenthede wat hy deur sy vingers laat glip het.

“Ek het nie regtig verwag om die Nuweling van die Jaar te wees nie, want ek was dié jaar meer in die gruis as op die baan,” sê die Suid-Afrikaner Maandag met ’n skewe glimlag. “Dit was definitief nie die ideale seisoen nie, maar dit is wat dit is.

“Dit is wel baie lekker dat ek die nuweling-prys gekry het, en elfde in die kampioenskap is orraait as jy in ag neem hoeveel keer ek nie ’n Grand Prix voltooi het nie. Maar ons potensiaal is baie meer as dit, so van hier af moet ek alles net beter bymekaar trek. Die goeie uitslae sal dan kom.”

Binder, ’n voormalige Moto3-wêreldkampioen wat met ’n bietjie meer geluk ook verlede jaar die Moto2-wêreldtitel kon gewen het, sê dit was vanjaar ’n uitdaging om sy voete in MotoGP te vind.

Die grootste ding wat onder my vel gekruip het, is die wete dat ek ver kon gevorder het, al het ek net die helfte so goed gevaar as wat ek weet ek kan.

“Dis net heeltemal anders as wat ek voorheen geken het. Ons speel nou op ’n baie fyner lyn,” sê hy. “Dis so maklik om ’n bietjie ekstra te gee en op jou kop te val. Ongelukkig het dit ’n paar keer gebeur dat ek goeie treë vorentoe geneem het en vinniger geraak het soos die naweek verloop het, myself in ’n posisie geplaas het om in die topdrie of topvyf te eindig – maar dit dan weggegooi het.

“Die grootste ding wat onder my vel gekruip het, is die wete dat ek ver kon gevorder het, al het ek net die helfte so goed gevaar as wat ek weet ek kan. Daar was so vyf of ses renne waar ek 110% gegee het, terwyl 90% vir my ’n stewige uitslag kon gegee het. Maar aan die anderkant is dit wie ek is, en ek dink nie ek sou gewen het as ek nie daardie bietjie ekstra gegee het nie.

“Die uitdaging vir volgende jaar is om ’n balans te kry tussen wanneer ek meer gee en wanneer ek bietjie terughou. As ek dit kan vind, sal ek baie bestendiger wees.”

Binder sê wel hy het ná hierdie seisoen geen twyfel meer oor of hy tussen die groot honde van sy sport hoort nie.

“Ek kon sien ek het die spoed en ek is net so goed soos die ander ouens in MotoGP. As jy terugkyk, vaar ouens nooit regtig goed in hul eerste seisoen nie. Die tweede jaar is altyd beter.

“Hierdie seisoen is nou pas eers verby, so ek het nog nie te veel gedink aan volgende jaar nie, maar ek dink ek sal tevrede wees as ek elke week vir ’n plek in die topvyf kan veg.”

Meer oor:  Motogp  |  Motorsport  |  Brad Binder
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.