Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Binder-broers saal bergfietse op in sani2c

Ná ’n holderstebolder klompie maande waarin die Binder-broers, Brad en Darryn, die Suid-Afrikaanse vlag trots op oorsese renbane laat wapper het, gaan hulle vandeesweek hul ysterperde vir bergfietse verruil.

Die Binder-broers, Darryn (links) en Brad, gaan vandeesweek hul motorfietse vir bergfietse verruil. Foto: Verskaf

Brad, Groentjie van die Jaar in vanjaar se MotoGP-reeks, en Darryn, wat agtste in die Moto3-kampioenskap geëindig het, is terug in die land en gaan vir ’n bietjie “ontspanning” aan die sani2c-fietstoer tussen Underberg en Scottburgh in KwaZulu-Natal deelneem.

Dié Krugersdorpers sal van Woensdag tot Vrydag in aksie wees in die “Adventure”-ren, wat nie heeltemal so taai is soos die “Race” waaraan die elite-jaers deelneem nie.

Die sani2c vind gewoonlik in Mei plaas, maar is vanjaar weens die Covid-19-pandemie tot Desember uitgestel.

“Die sani2c is iets wat ek nog altyd wou doen en die feit dat ek ’n week vroeër huis toe kon kom as wat oorspronklik die plan was, het my toegelaat om saam met ’n klompie vriende deel te neem,” het Brad gesê.

“Dit sal die eerste keer wees dat ek aan ’n fietstoer deelneem, so ek’s baie opgewonde.

“As deel van ons voorbereiding vir die MotoGP-seisoen, ry ons baie fiets. Ons woon in Spanje en oefen daar op pad- en bergfietse. Wanneer ek egter in Suid-Afrika is, verkies ek om net op my bergfiets te ry,” sê Brad, wat vroeër vanjaar op verrassende wyse ’n MotoGP-ren in sy debuutseisoen op dié vlak gewen het.

Brad beskou nietemin sy seisoen as een met “gemengde welslae”. “Dit was maar ’n bietjie op en af. Ek het ’n paar uitstekende dae gehad en dan weer ’n paar baie slegtes. Ek dink dit is maar wat jy in jou groentjiejaar te wagte kan wees.

“Ek sien egter nou uit daarna om ’n bietjie op ander dinge te fokus en lekker te ontspan. Hopelik is ek dan weer in Februarie slaggereed vir die nuwe seisoen.”

Darryn, wat soos sy ouboet ook sy debuut in ’n meerdaagse fietstoer maak, is baie in sy noppies met hoe sy Moto3-seisoen verloop het.

“Ek het agtste in die kampioenskap geëindig en my eerste sege behaal. Ek is baie tevrede met hoe dinge verloop het. Ons was ’n lang ruk weg van ons familie en vriende, en ek sien ook baie uit na ’n lekker vakansie,” het Darryn gesê. – Sportredaksie

Meer oor:  Bergfietsry  |  Sani2c  |  Motogp  |  Motorsport  |  Brad Binder  |  Fietsry  |  Darryn Binder
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.