Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
‘Waansinnige’ reaksie op sege verstom Binder

Vir die grootste deel van Brad Binder se eerste 24 uur as ’n MotoGP-wenner, was sy foon op “flight mode”. Die dekselse ding wou net nie ophou lui nie.

In sy ouers se huis in Krugersdorp, vertel hy, het dieselfde gebeur. Wanneer hy by hulle probeer uitkom het, het hy teen ’n beset toon vasgebel.

Dat hy nog nie heeltemal sin gemaak het nie van die uitbundige reaksie op sy sukses Sondag in die Tsjeggiese Grand Prix – toe hy die eerste Suid-Afrikaanse wenner tot dusver van ’n MotoGP-ren geword het – is duidelik in die grootoog-uitdrukking waarmee Binder Maandag daaroor gepraat het.

Brad Binder spuit Sondag vonkelwyn ná sy triomf in MotoGP se Tsjeggiese Grand Prix. Foto: AP

“Dis waansinnig,” sê hy oor en oor in ’n video wat sy borg Red Bull Dinsdag uitgestuur het. “Dis waansinnig om te dink ek is die eerste Suid-Afrikaner tot nog toe wat ’n MotoGP-ren kon wen. Dis waansinnig hoe mense wêreldwyd daarop gereageer het.

“My foon is nou al seker 24 uur op flight mode, want ek dink elke mens wat ek al ooit ontmoet het, het vir my ’n boodskap gestuur of probeer bel. Suid-Afrikaners is oor die algemeen baie groot sportliefhebbers, so vandat ek begin jaag het, het dit vir my gevoel asof die hele land agter my is. Om ’n eerste wen vir Suid-Afrika te kry, is ongelooflik.”

Binder, wat Dinsdag sy 25ste verjaardag gevier het, meen ’n groot deel van die enorme uitbarsting van vreugde wat sy sukses teweeg gebring het, is die feit dat dit so vinnig gebeur het.

Ja, hy het in 2016 gewys hy kan homself handhaaf op twee wiele toe hy as Moto3-wêreldkampioen gekroon is. En ja, hy het die Moto2-klas aan die einde van verlede jaar kop omhoog verlaat ná oorwinnings in al drie die seisoen se laaste renne.

Maar die gedagte dat hy in net sy derde ren tussen die groot honde op die boonste trappie van die podium sou staan, was verregaande – veral nadat hy die inperking in Suid-Afrika, en dus weg van sy nuwe motorfiets, deurgebring het. Net twee weke voor sy groot glorie het hy boonop in die Andalusiese Grand Prix twee keer geval en geen punte verdien nie.

“Ek het nog altyd gesê my uitslae moet die praatwerk vir my doen,” sê hy. “Nou sien ek hoeveel mense daar is wat vreugde put uit my goeie vertonings. Ek vermoed die ding wat (vandeesweek se reaksie) werklik dryf, is dat dit alles so onverwags was. Ek dink mense geniet dit nogal.”

Binder het reeds oomblikke ná sy oorwinning Sondag gesê hy wens sy ouers was in Brno om dit saam met hom te vier, maar hy sê hy kon ná ’n paar probeerslae darem oor die foon met hulle gesels.

“Ek het ’n paar keer gebel en die foon was heeltyd beset, maar ek kon darem uiteindelik met hulle praat en hoor hoe gelukkig hulle was. My familie het soveel opofferings gemaak. Ek was net ’n tiener wat gejaag het en my droom uitgeleef het, maar ons is deur moeilike tye, dit was swaar aan die begin,” sê Binder.

“Dis hoekom ’n dag soos (Sondag) alles reg laat verloop, dit alles die moeite werd maak.”

* Binder is die eerste Suid-Afrikaner wat vir hoofopskrifte met sy vertonings op ’n 500cc-motorfiets sorg, nadat hy vir jare op kleiner fietse in die voetspore van Jon Ekerold en Kork Ballington gevolg het.

Voordat Binder die Moto3-reeks in 2016 stormgeloop het, was Ekerold in 1981 die laaste Suid-Afrikaner wat ’n internasionale motorfietsren kon wen, op ’n 350cc-fiets.

Ballington het in 1978 en 1979 altesaam vier wêreldtitels gewen, met sukses in sowel die 250- as 350cc-kampioenskap in albei jare.

Meer oor:  Motogp  |  Brad Binder
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.