Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Binder verwag baie roes in MotoGP-debuut

Die Suid-Afrikaanse motorfietsjaer Brad Binder is bitter dankbaar dat hy nou weer sy tweewiel-passie kan uitleef, maar hy weet ook ’n reuse-vuurdoop wag op hom in sy heel eerste MotoGP-seisoen.

Binder sal uiteindelik Sondag sy MotoGP-debuut maak, nadat die uitbreek van die koronavirus-pandemie sedert Maart ’n stokkie daarvoor gesteek het.

Brad Binder by die MotoGP-motorfiets waarmee hy uiteindelik hierdie naweek vir kompetisie sal aantree. Foto: Red Bull Content Pool | Markus Berger

Nou is die motorfietsgemeenskap egter gereed om die enjins die naweek in Jerez, Spanje, weer te laat brul. Binder, wat vir Red Bull KTM jaag, gaan dit tegemoet met opgewondenheid, maar ook onsekerheid.

“Ek weet glad nie waar ek in die eerste ren gaan wees nie – hopelik so naby aan die voorpunt as moontlik,” het die 24-jarige Krugersdorper in ’n Red Bull-verklaring gesê. “Maar ek weet ek het ’n ver pad om te stap. Met ons laaste toets by Misano het ek gesien ek is nog omtrent ’n halwe sekonde agter die top-ouens op die KTM. Ek het beslis tyd op die fiets nodig en tyd op die baan, om te probeer opvang en so gou as moontlik te leer.

“Dis ’n uitdaging, want ek het reeds ’n halwe seisoen verloor. Was dit nie vir die pandemie nie sou ek ’n halwe seisoen agter die rug gehad het, ’n halwe seisoen van leer. Nou het ek net ’n halwe jaar om my voete te vind en dít gaan my volgende seisoen op die agtervoet plaas, omdat daar ’n klomp bane gaan wees waar ek nog nie op ’n MotoGP-motorfiets was nie.”

Binder het Suid-Afrika toe gekom kort nadat die begin van die MotoGP-seisoen in Maart opgeskort is en erken dit was frustrerend dat hy nie in daardie tyd op sy motorfiets kon klim en krane oopmaak nie.

“Dit was moeilik om in die inperkingstyd ’n goeie struktuur aan jou dag te hê, want daar was nie veel wat ons mag gedoen het nie en ons kon nie eintlik die huis verlaat nie. Ek het maar net so goed moontlik probeer oefen en gefokus probeer bly.

“Dit was ook nogal ’n storie om uit Suid-Afrika te kom. Gelukkig is daar uiteindelik besluit mense wat oorsee moet gaan ter wille van hul werk, mag vlieg. Ek is nou omtrent ’n maand terug in Europa en basies terug na normaal.”

Ek het natuurlik vir drie maande op ’n bank gesit en nie daai tipe spoed ervaar nie.

Binder het KTM se eerste toetssessies ná die wêreldwye inperkings gemis, omdat hy steeds in Suid-Afrika was, maar verlede maand by die Misano-renbaan in Italië uiteindelik weer sy sitvlak op sy MotoGP-fiets gekry.

“Die eerste dag was eintlik nogal ’n bietjie skrikwekkend! Dit was mal,” het Binder teenoor Crash.net erken.

“Ek het die heeltyd gevoel ek is twee treë agter die fiets. Ek sou om ’n draai gaan en rem waar ek dink die merker is, maar dan sou ek omtrent deur die draai tot op die gruis vlieg omdat ek so vinnig uit die vorige draai gekom het. Dit was verwarrend en aanvanklik moeilik.

“Ek het natuurlik vir drie maande op ’n bank gesit en nie daai tipe spoed ervaar nie – ek het nooit iets gery wat hanteer soos ’n MotoGP-fiets nie. So ek was oorweldig, ek het heel verlore gevoel.

“Op die tweede oggend het ek meer in beheer gevoel en begin ontspan. Maar daar is geen twyfel nie dat ek verroes in Jerez gaan aankom.

“Dit gaan egter lekker wees om weer normale ren-naweke te hê. Dit gaan my die kans gee om te sien wat die ander ouens doen en ek dink dit gaan ’n groot hupstoot vir my leerproses wees.”

Meer oor:  Motorfietsjaer  |  Motorfietsrenne  |  Motogp  |  Brad Binder
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.