Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Blasers in spervuur ná Tuks titel wen

Die woord ‘skeidsregter’ was gister ’n skelwoord in sekere Suid-Afrikaanse netbalkringe, met die blasers in Maandagaand se Varsitybeker-eindstryd wat onder fel kritiek deurgeloop het oor hul vertonings.

Tuks is vir die tweede keer in drie jaar as Varsity-kampioen gekroon ná hulle Maties in ’n spannende wedstryd voor hul tuisskare in Pretoria met 48-43 geklop het. Dié telling vertel nie die volle verhaal nie, met die uitslag tot minder as twee minute voor die eindfluitjie nog in die weegskaal.

Susan Forssman het op sosiale media deurgeloop oor haar vertoning in die eindstryd. Foto: Saspa | Christiaan Kotze

Die gehalte van die wedstryd was egter nie gister die grootste besprekingspunt nie. Op sosiale media en in netbalkringe het die tonge eerder geklap oor Susan Forssman en Leonard Masao, die twee blasers in die eindstryd.

Na verneem word is hulle albei Pretorianers.

Tuks se spelers het in die drukkoker van die studente-eindstryd (wat gepaard gegaan het met harde musiek en luidrugtige tuistoeskouers) dikwels met moord weggekom, terwyl die Maties gedurig gestraf is.

In die laaste vyf minute is Jo Prins, die aanvallende vleuel, een keer vir kontak gewaarsku en een keer gestraf.

Daarna het die Maties kritieke balbesit verloor, omdat Nichole Taljaard (hulpdoel) volgens die skeidsregter vir langer as drie sekondes die bal gehad het.

Die gevoel bestaan by sommige waarnemers dat Forssman en Masao eenvoudig nie vir die grootsheid van die geleentheid opgewasse was nie.

Nie een van hulle is internasionaal erkende blasers nie, hoewel hulle wel beskou word as skeidsregters wat die potensiaal het om die hoogste vlak te bereik.

Suid-Afrika het wel vyf skeidsregters wat spog met internasionale graderings. Drie van hulle – Anso Kemp, Elizna van den Berg en Janet Edeling – het in Julie by die Wêreldbeker-toernooi geblaas.

In die Varsity-reeks was Kemp slegs by een en Van den Berg by twee wedstryde betrokke (al drie in Stellenbosch).

Twee ander blasers met ’n internasionale gradering, Marielouw van der Merwe en Theresa Prince, het onderskeidelik een (in Stellenbosch) en drie wedstryde (in Port Elizabeth) hanteer.

Jana Arlow, die Varsitybeker-netbalbestuurder, sê Varsity Sports kry altyd voor die aanvang van die reeks ’n lys van die blasers wat beskikbaar is. Skeidsregters met internasionale ondervinding was volgens haar nie vir die hele reeks beskikbaar nie.

Om te besluit wie blaas in die halfeindronde en die eindstryd word gekyk na skeidsregters se vertonings en die hoeveelheid wedstryde wat hulle geblaas het.
Jana Arlow

“Blasers kry aan die begin van die reeks hul program. Om te besluit wie blaas in die halfeindronde en die eindstryd word gekyk na skeidsregters se vertonings en die hoeveelheid wedstryde wat hulle geblaas het,” sê sy.

Sy ontken dat besparing ’n rol gespeel het in die aanwysing van skeidsregters vir die halfeindronde en die eindstryd.

Dit is egter duidelik dat skeidsregters ingespan is by universiteite naby waar hul woon.

Forssman het vier keer by Tuks wedstryde geblaas en twee keer by Kovsies.

Masao was drie keer by Tuks in aksie en twee keer by Kovsies.

Annie Kloppers, Netbal Suid-Afrika (NSA) se skeidsregterbaas, was glad nie betrokke by die aanstelling van die skeidsregters nie.

Sy sê wel dat Forssman en Masao beskou word as blasers met die potensiaal om die hoogste vlak te haal.

Jo Prins is gewaarsku vir kontak terwyl sy glad nie naby aan die spel was nie. Foto: Saspa | Catherine Kotze

Dit is in hierdie stadium nog onseker of Maties van plan is om amptelik te kla oor die skeidsregters in die eindstryd. Hulle het teen Dinsdagaand nog nie sekerheid daaroor gehad nie.

Buite die Maties-kamp het mense egter nie moordkuile van hul harte gemaak nie.

Mimi Mthethwa, die vorige president van Netbal Suid-Afrika, het ná die wedstryd aan die Maties-afrigter Zanele Mdodana gesê haar span is beroof.

Die TV-kommentators was ook stomgeslaan deur vreemde beslissings deur Forssman en Masao.

Gebruikers van sosiale media, ook Tuks-ondersteuners, was dit eens dat die tuisspan blatant bevoordeel is.

“Ontsteld”, “geskok”, “belaglik”, “ ’n onreg” en “pateties” is van die woorde wat gebruik is.

Lizanne Steyn skryf op Maties-netbal se Facebook-blad: “Julle was die beste span op die baan. Kyk net na sosiale media en julle sal sien dat die land ontsteld is oor hoe die skeidsregter blatant in Tuks se guns geblaas het.

"Ek hoop werklik julle kan vra vir ’n ondersoek en hersiening van haar vermoëns as ’n skeidsregter. Vir ons was die Maroen-masjien die ware kampioen.”

Meer oor:  Pretoria  |  Stellenbosch  |  Tuks  |  Netbal  |  Skeidsregters  |  Maties
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.