Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Bokser wat sy eie duime gekou het

Die eerste keer toe Jock McAvoy vir ’n teenstander in die bokskryt grom, het die ou nie ’n oog geknip nie.

As Jock McAvoy eers aan sy eie duime begin kou het, was daar moeilikheid! Foto: Getty Images

Die innerlike dier in party boksers kom mos eers na vore wanneer daar baklei word.

Maar toe Jock aan sy eie duime begin kou, was dit ’n ander storie!

Mense dink dalk Tyson Fury, wat Sondagoggend (Suid-Afrikaanse tyd) in Las Vegas teen Deontay Wilder boks, is ’n vreemde karakter.

Maar lank voor die “Gypsy King” was daar ’n ander Britse bokser wat die tonge los gehad het.

“Geen Engelse vegter, in enige gewigsafdeling, was ooit meer verwoestend as McAvoy nie,” skryf Frank McGhee in England’s Boxing Heroes.

Van McAvoy se 132 oorwinnings in 147 gevegte het hy 88 via die kortpad gewen.

McAvoy het op sy kop geval, maar terug in die kryt geskarrel voor hy uitgetel kon word. En toe begin hy aan sy bokshandskoene se duime byt . . .

“Hy het soos ’n swaargewig geslaan. En hy was ’n middelgewig,” skryf McGhee.

Daar was die keer in 1932 toe McAvoy vir die eerste keer teen Len Harvey geveg het.

In die vyfde ronde het Harvey vir McAvoy deur die toue geslaan.

“McAvoy het op sy kop geval, maar terug in die kryt geskarrel voor hy uitgetel kon word. En toe begin hy aan sy bokshandskoene se duime byt . . .” skryf McGhee.

Jock McAvoy en John Henry Lewis voor hul geveg in 1936 in Madison Square Garden in New York. Foto: Getty Images

Die skare in King’s Hall in Manchester het soos een man begin juig, want hulle het teen daardie tyd al goed geweet – wanneer ou Jock aan sy eie duime begin kou, is daar groot moeilikheid!

Dit was toe ook so. Vir die res van die geveg het McAvoy vir Harvey rondgejaag asof hy sy glas met jenewer en kinawater gesteel het.

In die 15de ronde het Harvey omtrent soos een van Marvel se superhelde deur die lug geduik en ’n hou op Harvey se ken geplant. Toe staan hy trots terug om die skade wat hy aangerig het te aanskou.

Tot almal se verbasing het Harvey die geveg oorleef om ’n omstrede punte-oorwinning te behaal.

McAvoy en Harvey het in April 1933 wéér geveg, met die duimbyter wat dié keer gewen het.

Hy (McAvoy) is die enigste ou waarvan ek weet wat die hand wat hom gevoed het, gebyt het.

In Desember 1935 het die Amerikaner Babe Risko ingestem om in Madison Square Garden in New York teen die woestaard te veg. Maar Risko wou nie sy middelgewig-wêreldtitel op die spel plaas nie.

Ook maar goed so, want McAvoy het hom ses keer in die eerste ronde platgeslaan voor die skeidsregter die geveg gestop het.

Die Amerikaners was mal oor McAvoy en hy besluit toe om langer daar te kuier.

Hy het sy volgende twee gevegte gewen en toe besluit om teen die ligswaargewigkampioen van die wêreld, John Henry Lewis, te baklei.

Al probleem is, ou Jock se hande gee toe al kwaai moeilikheid. Behalwe dat hy al vir jare met artritis gesukkel het (dis eintlik waarom hy sy duime gebyt het, sodat die litte kon los kom), het hy boonop sy kneukels ook in sy twee vorige gevegte beseer.

’n Paar inspuitings later klim Jock toe in die kryt. En hy wag. En hy wag. Want Lewis het gehoor van die inspuitings en wou gehad het die verdowing moes eers bietjie uitwerk voor hy kryt toe kom.

Jock McAvoy het selfs die voorblad van die bokstydskrif The Ring gehaal. Foto: Getty Images

Jock het soos gewoonlik alles gegee, maar hy het die geveg met punte verloor,

Die dokter sê toe vir hom om sy hande vir ses maande te laat rus.

Ha! Nie McAvoy nie! ’n Maand later was hy terug in Engeland in aksie teen die Britse swaargewigkampioen Jack Petersen.

Daardie aand het ou Jock omtrent sy eie duime opgevreet, maar dit het niks gehelp nie. Petersen het met punte gewen.

“Ek kon nie eers ’n eier breek (met my vuiste nie),” het Jock later gesê.

Maar hy het die geld nodig gehad, so hy het deur die pyndrumpel probeer breek.

’n Paar jaar later het McAvoy polio gekry en moes hy in ’n rolstoel of met krukke oor die weg kom.

Die een dag was hy saam met sy dogter in ’n motor en hy en ’n ander motoris kry stry.

“Wat sê jy? Ek kan nie mooi hoor nie. Ek is bietjie doof in hierdie oor, kom ’n bietjie nader,” het ou Jock gesê.

En toe die ou nader kom, steek ou Jock hom sommer daar van waar hy sit met ’n linker dat die lieplapper aan die oorkant van die pad op die sypaadjie beland.

’n Ander keer het McAvoy met Gilbert Odd, die skrywer van The Encyclopedia of Boxing, stry gekry. Toe smyt ou Jock sy kruk eenkant en plant ’n linkerhaakhou teen Odd se kakebeen.

Sonder om ’n oog te knip sê Odd toe iets wat vir die voormalige ysterman ’n groot vernedering moes gewees het: “You’ve lost your punch, Jock.”

Naskrif: Jock McAvoy se regte naam was Joseph Bamford. Hy het as 17-jarige begin boks en het toe besluit om homself Jock McAvoy te noem om sy ma – wat teen boks gekant was – om die bos te lei.

“Hy (McAvoy) is die enigste ou waarvan ek weet wat die hand wat hom gevoed het, gebyt het,” het die boksskrywer Reg Gutteridge oor ou Jock geskryf.

  • Bronne: England’s Boxing Heroes – Frank McGhee; The Big Punchers – Reg Gutteridge; Boxrec.com.
Meer oor:  Boks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.