Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Breyton pak eerder die All Blacks as Epic

Gee my eerder die All Blacks!

Dit was Donderdag die versugting van die voormalige Springbok-vleuel Breyton Paulse.

Breyton Paulse. Foto: Greg Beadle

Dit het op die Cape Epic se nuuskonferensie in Kaapstad geklink of die 42-jarige Paulse tweede gedagtes het oor sy tweede deelname aan die agtdaagse bergfietstoer.

“Ek sal eerder die All Blacks op enige tyd op enige plek pak,” het Paulse geskerts.

Sy eerste deelname aan die uitdagende Epic was ’n hele tien jaar gelede.

Paulse sê hy wou daarna nie weer ’n fiets sien nie.

“Ek het eers sowat ’n jaar en ’n half gelede weer my liefde vir fietsry herontdek.

“Ek doen dit egter nie vir die pret nie.”

Ek sal eerder die All Blacks op enige tyd op enige plek pak.
Breyton Paulse

Paulse en Johan Coetzee sal in die meestersafdeling ten bate van Kansa deelneem.

Hy het vroeër vanjaar aan die Tankwa-wedren in die Koue Bokkeveld deelgeneem – daar waar sy wortels begin het.

“Ek het baie respek vir die beroepsryers wat ure insit om op die hoogste vlak deel te neem,” sê die SuperSport-ontleder.

“Ek gaan baie koffie drink langs die pad en sal ’n heuwel opstap as dit moet.”

Die Epic is natuurlik dikwels ’n speelplek vir oud-Bokke. Joel Stransky en John Smit is gereelde deelnemers en Marius Hunter gaan ook weer sy slag wys.

Robbie Hunter. Foto: Greg Beadle

’n Nuwe gesig in vanjaar se Epic is die voormalige Springbok-padryer Robbie Hunter.

Hy het laggend gesê hy wil nie ’n skof wen nie, maar pret hê en ondervinding opdoen.

Hunter het in 2007 die 11de skof in die Tour de France gewen.

Die 41-jarige sal sy debuut maak, maar het darem die Oostenryker Rene Haselbacher aan sy sy, wat al drie wedrenne voltooi het. Hulle neem deel in die meestersafdeling.

Haselbacher se laaste deelname was in 2015.

Smit sal aan sy vyfde Epic deelneem. Sy spanmaat is Shane Chorley.

Stransky se spanmaat is Darren Gallias.

Dié oud-Bokke is grootmeesters.

Die toer begin Maandag in alle erns met die eerste skof in Hermanus.

Deelnemers van 50 lande het ingeskryf. Of almal die eindbestemming by Val de Vie op hul fiets sal bereik, is natuurlik ’n ander vraag.

* Sondag se proloog oor 21 km (met ’n klim van 600 m) begin en eindig by die Universiteit van Kaapstad.

Die elitevroue spring weg vanaf 10:40 en die mans vanaf 11:45.

* Die proloog en die laaste skof na Val de Vie sal regstreeks op SS 8 uitgesaai word.

Die hele wedren kan op cape-epic.com en die app Epic Series gevolg word.

Meer oor:  Bergfietsry  |  Cape Epic  |  Robbie Hunter  |  Breyton Paulse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.