Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Britse atlete proefkonyne vir wonderdrankie?
Jessica Ennis was een van Brittanje se gouemedaljewenners op die Olimpiese Spele in Londen in 2012. Foto: Getty Images

Britse Sport, die oorkoepelende liggaam vir Olimpiese sportsoorte in die Verenigde Koninkryk, moes vure doodslaan nadat hy Sondag daarvan beskuldig is dat hy navorsingsprojekte gefinansier het wat daarop gemik is om atlete ten koste van hul gesondheid ’n voordeel in hul vertonings te gee.

Die Daily Mail beweer hy het dokumente onder oë gehad wat toon dat tot sowat 91 atlete uit agt verskillende Olimpiese sportsoorte gedurende die 2012-Spele in Londen ’n energiedrankie, bekend as DeltaG, gegee is as deel van ’n projek wat honderde duisende ponde gekos het.

Atlete moes glo ooreenkomste onderteken wat hulle verbied het om enigsins daaroor te praat.

Luidens ’n berig in die Daily Mail was die drankie ’n sintetiese weergawe van ’n natuurlike liggaamlike suur-ketone.

Die verslag sê 40% van die atlete wat die middel gebruik het, het newe-effekte soos naarheid en omgekrapte mae ervaar.

Juis weens die newe-effekte het 28 van die atlete opgehou om die middel te gebruik, met 24 ander wat hulle ook aan die toetse onttrek het omdat hulle nie gemeen het dat dit enige voordeel vir hulle inhou nie.

“Verenigde Koninkryk Sport ontken ten sterkste enige beskuldiging dat Olimpiërs as ‘proefkonyne’ gebruik is en vind dié bewerings misleidend en afstootlik,” sê die liggaam in ’n verklaring.

Die brief waarin Britse Sport glo goedkeuring gegee is om met sy navorsing voort te gaan. Foto: UK Sport

“VK Sport is ten volle toegewyd om ’n kultuur van hoë prestasie te ontwikkel wat werklik inspirerend is en een wat ons sal onderskei van ons teenstanders, maar VK Sport sal nooit poog om tot elke prys medaljes te wen nie.”

Dié beheerliggaam sê dat hy in Januarie 2012 onafhanklike etiese goedkeuring van die navorsingsadviserende groep vir sy projek gekry het.

“Die Verenigde Koninkryk se agentskap teen die gebruik van verbode middels het boonop, nadat hy duidelikheid by die Wêreldagentskap teen die gebruik van verbode middels (Wada) verkry het, skriftelik bevestig dat Wada ‘geen rede het om enige sulke middels op die lys van 2011 se verbode middels te voeg nie’,” het die beheerliggaam gesê.

“Baie menslike studies, waaronder veiligheidstudies, is voor die 2012-Olimpiese Spele in ’n $10 miljoen-projek gedoen,” het prof. Kieran Clarke, ’n hoogleraar van Oxford gemoeid met die projek, gesê.

“Teen 2010 was die ketone-ester deur al die veiligheidstoetse wat vereis is om dit as ’n voedsel in die VSA te verkoop en is dit reeds by die FDA (Amerikaanse voedsel-en-medisyne-owerheid) as veilig bestempel.

“Dit was 100% suiwer en het daarom geen verbode middels bevat nie en is presies dieselfde as die ketone wat die liggaam produseer van vet en wat vir energie tydens oefening gebruik word,” het Clarke verduidelik.

Brittanje het 29 goue medalje op die 2012-Spele verower. – Sportredaksie, Reuters

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Atletiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.