Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Swaargewig-bokser voor sy grootste toets
Carlos Takam, wat hier op die aanval in sy geveg teen Anthony Joshua in 2017 is, wil graag weer teen die wêreldkampioen boks. Foto: Getty Images

Noudat Tyson Fury nie meer dié naweek teen Deontay Wilder boks nie, kry ’n ander Britse swaargewig die kans om die aandag op hom te vestig.

Joe Joyce boks Saterdag in Londen se Wembley-arena teen Carlos Takam van Frankryk.

Dit sal die onoorwonne Joyce se grootste toets sover in sy loopbaan as beroepsvegter wees.

Takam is verreweg die mees ervare teenstander wat hy gaan aandurf.

Die 40-jarige veteraan het al in sy lang loopbaan teen topvegters soos Anthony Joshua, Alexander Povetkin en Joseph Parker in die kryt geklim.

Takam het net vyf van sy 45 gevegte verloor en sorg altyd dat hy in ’n goeie kondisie in die kryt klim.

Ek is ’n probleem, want Joe het nog nooit teen iemand soos ek geboks nie. Hoe gaan ek hom pak? Dis ’n verrassing,
Carlos Takam

“Ek is ’n probleem, want Joe het nog nooit teen iemand soos ek geboks nie. Hoe gaan ek hom pak? Dis ’n verrassing,” het Takam hierdie week aan British Boxing News gesê.

Joyce (35) het 11 van sy 12 gevegte sover met uitklophoue gewen.

Hoewel hy nog nie teen sulke gevaarlike boksers soos Takam baklei het nie, spog hy wel met oorwinnings oor skaflike vegters soos Bermane Stiverne, Bryant Jennings en Daniel Dubois.

Die Wêreldboksorganisasie beskou hom as die eerste aanspraakmaker op Joshua se titel.

Die Wêreldboksorganisasie beskou Joe Joyce as die eerste aanspraakmaker op Joshua se titel. Foto: Getty Images

Joyce moet dus op die wenpad bly as hy vorentoe ’n geveg teen Joshua wil afdwing.

Dis juis hier waar Takam sy droom kan vernietig.

Joshua het Takam in 2017 in Cardiff met ’n tegniese uitklophou in die tiende ronde verslaan.

Takam het Joshua in daardie geveg heelwat probleme besorg en soek graag ’n tweede kans om ’n wêreldtitel te probeer wen.

• Alberto Puello van die Dominikaanse Republiek het sy geveg Woensdag in San Antonio in die Amerikaanse staat Texas teen Jesús Antonio Rubio van Mexiko met punte gewen.

Puello het Rubio in die eerste ronde platgeslaan, maar Rubio het opgestaan en eindelik vir ’n mededingende kragmeting gesorg.

Die twee manne het mekaar in die afdeling vir super-liggewigte gepak.

* Kyk hoe pak Carlos Takam en Alexander Povetkin mekaar:

 
Meer oor:  Brittanje  |  Boks  |  Swaargewig  |  Titelgeveg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.