Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Canelo nou kampioen in 4 gewigsklasse
Die skeidsregter Russel Mora lig Canelo Álvarez se hand ná sy oorwinning oor Sergey Kovalev in die MGM Grand-arena in Las Vegas. Álvarez wys hy het nou wêreldtitels in vier gewigsafdelings gewen. Foto: Getty Images

Wat lê volgende vir Canelo Álvarez voor?

Dít is die vraag wat ná Álvarez se oorwinning Saterdag in Las Vegas oor Sergey Kovalev op boksliefhebbers se lippe is.

Álvarez het Kovalev in die 11de ronde uitgeslaan om die Rus se ligswaargewigtitel van die Wêreldboksorganisasie (WBO) te wen.

Álvarez is ook steeds die middelgewigkampioen van die Wêreldboksvereniging (WBV) en die Wêreldboksraad (WBR) en hy is die WBV se super-middelgewigkampioen.

Die Mexikaan was ook voorheen ’n wêreldkampioen in die afdeling vir ligmiddelgewigte.

Planke toe, boetie! Sergey Kovalev se bene gee mee in die 11de ronde. Foto: Getty Images

Hy moes werk vir sy oorwinning oor Kovalev. Die Rus het hom ’n tyd lank suksesvol met reguitlinkers op ’n afstand gehou. Van die sesde ronde af het Álvarez egter sy teiken meer gereeld begin tref en het ’n mens die idee gekry dit sou net ’n kwessie van tyd wees voor Kovalev val.

Verrassend genoeg was dit Álvarez wat die harder houe geslaan het. En hy is die een wat twee gewigsklasse opgeskuif het om Kovalev die stryd aan te sê!

“My plan was om hom (Kovalev) met lyfhoue sag te maak, maar dit was nie so maklik om naby hom te kom nie,” het Álvarez aan Boxing Scene gesê.

Toe die 11de ronde aanbreek, was Álvarez op twee beoordelaars se telkaarte met een punt voor met nog een wat die geveg gelykop gehad het.

“Eddy (Reynoso, sy afrigter) het my in die 11de ronde uitgestuur om die geveg te beëindig en dis wat ek toe gedoen het,” sê Álvarez.

Hy het Kovalev met ’n links-regs-kombinasie geskud en toe met ’n regter planke toe gestuur.

Álvarez kon nie sê teen wie hy volgende gaan baklei nie.

Kovalev het Álvarez heeltemal te min kere só geskud om die Mexikaan op die agtervoet te kon kry. Foto: Getty Images

Baie boksliefhebbers wil hom graag weer teen Gennady Golovkin in aksie sien. Hulle het al twee keer teen mekaar geboks met die een geveg wat gelykop geëindig het en Álvarez wat die tweede een naelskraaps gewen het.

“Hy is nie regtig vir my ’n uitdaging nie, maar as die aanbod goed genoeg is, wie weet?” sê Álvarez.

Indien Álvarez en Golovkin mekaar weer pak, sal dit sekerlik weer in die afdeling vir middelgewigte wees.

Voor die geveg teen Kovalev het Álvarez ook aangedui dat hy dit sou oorweeg om selfs na die afdeling vir junior swaargewigte op te skuif.

Álvarez het nou reeds 53 gevegte in die beroepskryt gewen. Twee, teen Golovkin en Jorge Juarez, was gelykop en sy enigste nederlaag was in 2013 teen Floyd Mayweather.

Meer oor:  Boks  |  Canelo Álvarez
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.