Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Chad en tiener (17) maak geskiedenis

Geskiedenis is Donderdag in die Newton Park-swembad in Gqeberha gemaak toe Chad le Clos én die 17-jarige sensasie Ethan du Preez in ’n naelbytstryd in die 200 m-vlinderslag in die nasionale kampioenskappe die Olimpiese Spele se kwalifiserende vereistes oortref het.

Die 17-jarige Ethan du Preez het Donderdag in die 200 m-vlinderslag vir die Olimpiese Spele gekwalifiseer nadat hy die A-standaard behaal het.Foto: Gallo Images

Dit is die eerste keer nog dat twee Suid-Afrikaners die internasionale beheerliggaam (Fina) se Olimpiese A-standaard in dié nommer kon oortref – boonop in dieselfde resies.

Du Preez het vroeër die dag vir ’n opskudding gesorg toe hy Le Clos gemaklik in die uitdunne in 1:57.33 ore aangesit het, terwyl die Olimpiër tweede in 1:58.95 was.

Le Clos wou duidelik sake regstel in die eindronde en was soos blits van die merk af om met ’n liggaamslengte voor te loop. Du Preez het egter in die laaste 100 m begin inhaal en die twee was oor die laaste paar meter kop aan kop.

Le Clos se koelkop het hom egter uiteindelik in 1:55.88 laat wen, terwyl Du Preez in 1:56.44 silwer verower het. Die Tokio-Spele se kwalifiserende vereiste is 1:56.48.

Chad le Clos in aksie in die 200 m-vlinderslag. Hy het Donderdag vir die Tokio-Spele in dié nommer gekwalifiseer. Foto: Gallo Images

“Ek moet eerlik wees en sê ek was erg op my senuwees,” het Le Clos daarna gesê.

“Ethan het my ’n paar weke gelede geklop. Ek was eerstens bly om die kwalifiserende tyd te haal en dan ook vir die oorwinning, maar Ethan verdien applous. Dit is die tweede keer dat hy die Spele se vereistes oortref.”

Erin Gallagher moes diep delf om haar tweede goue medalje op die byeenkoms te behaal toe sy net-net in die 100 m-vryslag gewen het.

Haar wentyd van 54.89 was genoeg om die Olimpiese Spele se B-standaard van 56.01 te oortref. Aimee Canny (54.91) en Emma Chilius (55.84) was albei ook binne die B-standaard vir onderskeidelik die silwer- en bronsmedaljes.

Matthew Sates was loshande die voorste swemmer in dié afdeling vir die mans en was in die uitdunne sowel as die eindronde die enigste deelnemer wat dit onder 50 sekondes kon swem.

In die eindronde het sy tyd van 49.29 verseker dat hy gemaklik eindig voor Matthew Bosch, wat tweede in 50.65 was. Sates het in die uitdunne 49.97 geswem, met albei sy tye wat hom binne die Spele se B-standaard laat val, wat beteken dat hy wel nog by die agterdeur kan inglip.

Ofskoon Duné Coetzee nie in die eindronde so vinnig was soos in die uitdunne nie, het sy steeds genoeg in die tenk gehad om die wenner in die 200 m-vlinderslag te wees.

Haar wentyd van 2:13.87 was nie so goed soos haar uitdun-tyd van 2:11.18 nie, maar haar vertoning vroe?r in die dag was wel binne die B-standaard van 2:12.28.

• Christian Sadie (S7-kategorie vir swemmers met ’n beperkte beengebruik) het die minimum vereistes om vir die Paralimpiese Spele te kwalifiseer reeds in die uitdunne vir die 100 m-rugslag verbygesteek.

Sadie het die muur geraak in 1:14.67, heelwat voor die verlangde tyd van 1:19.54. In die eindronde het hy dit weer in 1:15.01 gedoen.

Net so het Kat Swanepoel (S2 vir atlete met beperkte gebruik van hul arms, hande en bolyf), wat net ’n jaar gelede begin swem het, drie nasionale rekords in haar afdeling gebreek.

Haar tyd van 2:19.79 in die 100 m-rugslag se uitdunne was ’n Suid-Afrikaanse rekord, waarna sy in die eindronde heelwat vinniger met 2:14.78 vir haar tweede rekord van die dag was.

Sy het die Paralimpiese Spele se vereiste tyd van 3:36.93 sonder enige probleme oortref.

Haar derde rekord was in die 50 m-borsslag waar sy in 1:16.79 klaargemaak het. Die vorige rekord was 1:20.88.

Meer oor:  Swem  |  Nasionale Byeenkoms  |  Chad Le Clos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.