Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Chad sal moet veg om titel te verdedig

Chad le Clos het sy medalje-versameling op die Wêreldbeker-swemreeks die naweek tot die drumpel van die 200-kerf gerek, maar harde werk lê voor as hy sy titel as die beste manswemmer vanjaar wil verdedig.

Chad le Clos vanjaar op die Statebondspele in aksie. Foto: Getty Images

Le Clos het drie medaljes, waarvan een goud en twee silwer, in Kazan, Rusland, op die eerste byeenkoms in dié reeks verower. Hy spog nou met 198 Wêreldbeker-medaljes.

Dié Kapenaar het verlede jaar die titel as die beste manswemmer vir ’n ongeëwenaarde vierde keer gewen, maar ná die eerste ronde bevind hy homself in slegs die vyfde plek op die puntelys vir mans. Met ses byeenkomste in die Wêreldbeker-reeks oor, is daar egter meer as genoeg tyd om die Rus Vladimir Morozov, wat met 54 punte in die eerste plek is, in te haal.

Morozov se landgenoot Anton Chupkov (48 punte) is in die tweede plek, gevolg deur die Amerikaner Michael Andrew (42), die Australiër Mitchell Larkin (36) en dan Le Clos, wat 30 punte agter sy naam het.

Suid-Afrika se goue swemseun het sy enigste goue medalje in Kazan in die 200 m-vlinderslag verower. In dié resies het dit egter reeds duidelik geraak dat niemand die titel vir Le Clos op ’n skinkbord gaan gee nie. Hy moes swoeg om ’n verbete poging van die Rus Daniil Pakhomov af te weer.

Le Clos het in 1:56.58 gewen, met Pakhomov tweede in 1:56.90.

Mitchell het die Suid-Afrikaner Vrydag in die 100 m-vlinderslag geskok toe hy in ’n tyd van 51.96 gewen het. Le Clos en Rusland se Egor Kuimov was gesamentlik tweede in 52.00.

Sondag het hy ook silwer in die 200 m-vryslag gewen toe hy die muur in 1:48.10 geraak het. Blake Pieroni van Amerika was eerste in 1:47.32.

Ryan Coetzee, wat vroeër vanjaar ’n bronsmedalje op die Statebondspele in Australië verower het, het ’n podiumplek in die 100 m-vlinderslag net-net misgeloop. Hy het wel ’n nuwe persoonlike beste tyd van 52.10 sekondes geswem.

Coetzee het ook ’n persoonlike beste tyd in die 100 m-vryslag (49.88) geswem en vyfde in dié nommer geëindig.

In die 50 m-vryslag het hy sewende geëindig in 22.66, terwyl hy die vyfde plek (23.45) in die 50 m-vlinderslag behaal het.

Die volgende byeenkoms van die Wêreldbeker-reeks word van Donderdag tot Saterdag in Doha beslis.

Meer oor:  Swem  |  Chad Le Clos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.