Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Goud vir Chad, brons vir Cameron

Suid-Afrika se goue swemseun, Chad le Clos, is weer die koning van die 200 meter-vlinderslag, terwyl Cameron van der Burgh Woensdagaand die land se tweede medalje by die Wêreldbyeenkoms verower het.

Chad le Clos vier sy sege Woensdagaand in die 200 meter-vlinderslag in Boedapest, terwyl die Hongaar László Cseh toekyk. Foto: Reuters

Le Clos het die 200-vlinderslag in Boedapest, Hongarye, in 1 minuut 53.33 sekondes gewen. 

’n Emosionele Le Clos het ná sy sege gesê hy is verheug om sy wêreldkroon van 2013 terug te wen.

“Ek het verwag om derde of vierde te eindig, want ek het sterk teenstanders van Hongarye gehad. Maar nou is ek  baie bly om my goud van 2013 te herwin,” sê Le Clos.

Met dié sege het hy ook die spook van verlede jaar se Olimpiese Spele in Rio de Janeiro verjaag toe hy nie die podium kon haal nie. Die swemmers wat die silwer- en bronsmedaljes in Rio gewen het, Masato Sakai van Japan en Tamas Kenderesi van Hongarye, het ook in die eindronde geswem. 

Chad le Clos op pad na sy sege in die 200 meter-vlinderslag (1:53.33) by die Wêreldbyeenkoms in Boedapest. Foto: Reuters
Chad le Clos kyk na die grootskerm nadat hy die goue medalje in die 200 meter-vlinderslag by die Wêreldbyeenkoms in Boedapest gewen het. Foto: Reuters
Weer nr. 1! Chad le Clos met sy goue medalje. Foto: Getty Images

Le Clos het ook sy nederlaag in dieselfde item by die vorige Wêreldbyeenkoms in 2015 in Kazan, Rusland, gewreek. 

Die Hongaar László Cseh, wat hom toe geklop het, moes  voor sy tuisskare met die silwermedalje (1:53.72) tevrede wees. Japan se Daiya Seto was derde in 1:54.21.

Le Clos het met dié sege in die item wat hom in 2012 ’n Olimpiese kampioen gemaak het, ook sy besluit regverdig om vroeër vandeesweek aan die 200-vryslag te onttrek. Hy neem Vrydag aan sy laaste item, die 100-vlinderslag, deel. 

Cameron van der Burgh met sy bronsmedalje. Foto: Getty Images

Van der Burgh moes swoeg om ’n podiumplek in die 50 meter-borsslag los te swem. 

Hy het brons in ’n tyd van 26.60 sekondes gewen. 

“Dit is my sesde agtereenvolgende medalje in dié item sedert 2007. Dit is waarvoor ek gekom het en dit is waarom ek nie in die 100-borsslag (Sondag) geswem het nie,” het Van der Burgh ná die tyd gesê. 

“Ek het nog geen idee wat my toekomsplanne is nie, maar ek sal dit vat soos dit kom.” 

Die indrukwekkende Brit Adam Peaty, wat Dinsdag sy eie wêreldrekord in die uitdunne én halfeindronde verbeter het, het die goue medalje in 25.99 sekondes gewen. Peaty was duidelik teleurgesteld dat hy nie sy rekord van 25.95 kon verbeter nie. Dié was toe nog nie eens 24 uur oud nie.

Die Brasiliaan Joao Gomes was tweede in 26.52 sekondes.

Van der Burgh se veldtog is nou verby. 

Le Clos en Van der Burgh is tien teen een die enigste Suid-Afrikaners wat met medaljes huiswaarts gaan keer. 

Dit sal interessant wees om te sien wat die jong Turk Zane Waddell Vrydag in die 50 meter-vryslag kan vermag. 

* Die enigste Suid-Afrikaner wat Woensdag aan ’n individuele uitdun deelgeneem het, Ayrton Sweeney, kon nie tot die halfeindronde deurdring nie. 

Sweeney het in die 200 meter-wisselslag geswem. 

Sy tyd van 2 minute 04.18 sekondes was die 32ste vinnigste tyd uit 44 swemmers. 

Kosuke Hagino van Japan het die vinnigste uitduntyd (1:56.46) behaal. 

Suid-Afrika se span in die gemengde 4x100-wisselslagaflos kon ook nie vir die halfeindronde kwalifiseer nie. Dié span het bestaan uit Martin Binedell, Kaylene Corbett, Clayton Jimmie en Erin Gallagher. 

Die 3:57.02 minute wat dit hulle geneem het om dié item af te lê, was op 13 na die vinnigste. Dis ’n Afrikarekord. 

Amerika se span het die vinnigste uitduntyd (3:40.28) behaal. Dit is ook ’n wêreldrekord in dié relatief nuwe item.

* Vier Suid-Afrikaners is Donderdag in aksie. Gallagher swem in die 100 meter-vryslag, Sweeney in die 200-borsslag, Corbett in die 200-borsslag en Binedell in die 200-rugslag.

* TV: vanaf 09:00 op SS7. 

Volledige uitslae.

* Die berig is aangepas met meer inligting.

Meer oor:  Swem  |  Chad Le Clos  |  Cameron Van Der Burgh  |  Boedapest
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.