Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Charlo dra kroon ná Sergiy hom toets
Jermall Charlo is steeds die Wêreldboksraad se middelgewig-kampioen nadat hy die naweek ’n eenparige punte-oorwinning oor Sergey Derevyanchenko behaal het. Foto: Getty Images

Jermall Charlo het die naweek ’n eenparige punte-oorwinning oor Sergiy Derevyanchenko behaal om sy middelgewigtitel van die Wêreldboksraad (WBR) te behou.

Die 30-jarige Amerikaner het kwaai teenstand van sy Oekraïense teenstander te bowe gekom om sy onoorwonne rekord tot 31 gevegte te rek.

Geen toeskouers is by die geveg in die Mohegan Sun-arena in Uncasville, Connecticut, toegelaat nie.

Charlo, wie se tweelingbroer en medewêreldkampioen, Jermell, in ’n voorgeveg betrokke was, is hard gedruk deur Derevyanchenko, wie se rekord ná die loesing tot 13-3 teruggesak het.

Die uitdager het snye bo albei oë gehad, maar het steeds verbete aanhou baklei en veral in die 12de ronde alles in die stryd gewerp om ’n uitklophou te probeer plant.

Vir Charlo, in dié stadium gemaklik voor op punte, was dit net ’n kwessie van slim boks tot die laaste sekonde.

Hy het dit vermag en sodoende sy WBR-titel ’n derde keer agtereenvolgens verdedig.

Die drie beoordelaars het die kampioen oortuigend as wenner aangewys, met tellings van 116-112, 117-111 en 118-110.

“Ek het by ons plan gehou en dit perfek uitgevoer. Dié een was die grootste toets van my loopbaan en ek het dit oortuigende geslaag,” het die Amerikaner agterna gesê.

Ek het by ons plan gehou en dit perfek uitgevoer. Dié een was die grootste toets van my loopbaan en ek het dit oortuigende geslaag.
Jermall Charlo

“Ek het verwag Derevyanchenko gaan ’n taai teenstander wees en ek het geweet hy gaan niks terughou nie.

“Ek wou hom graag uitslaan om ’n punt te bewys, maar ek sal die punte-oorwinning aanvaar.”

Dit was nogmaals ’n teleurstelling vir die bonkige Derevyanchenko, wat twee vorige aanslae op die wêreldkroon verloor het, insluitende ’n redelik omstrede beslissing teen Gennadiy Golovkin in Oktober verlede jaar.

Charlo was vroeg in beheer van die geveg en het sy lengte gebruik om met pikhoutjies in sy teenstander se gesig te boer en só die punte op te stapel.

Derevyanchenko is aan die einde van die derde ronde met ’n regter-opstopper, in tandem met ’n linker-haakhou, geskud.

Sy bene het ’n oomblik geswik, maar die Oekraïner het wonder bo wonder vasgebyt totdat die klok sy bas gered het.

Charlo het in die vyfde ronde die uitdager se regter-oogbank oopgekloof, maar dit het hom skynbaar aangespoor om meer verbete terug te veg en hy het die volgende twee rondes met ’n paar flink kombinasies die kampioen op ’n veilige afstand gehou.

Die Amerikaner het egter in die laaste paar rondes sy stempel afgedruk, die tempo van die geveg bepaal en uiteindelik maklik die oorwinning verseël.

John Riel Casimero van die Filippyne. Foto: Getty Images

• In ’n vroeëre geveg het John Riel Casimero van die Filippyne sy kapokgewigtitel van die Wêreldboksorganisasie (WB) die eerste keer verdedig deur Ghana se Duke Micah in die derde ronde tot oorgawe te dwing.

Die 30-jarige van Leyte het Micah nooit kans gegee om sy voete te vind nie en het met pynigende lyfhoue die Ghanees “sag gemaak” voordat hy in die derde ronde met hom klaargespeel het.

Casimero se rekord na dese is 30-4, met 21 uitklophoue.

Hy het die uitdager met ’n woeste linker-haakhou in die tweede ronde harpuis laat ruik.

Micah het die telling aangehoor en toe soos ’n koalabeertjie in ’n boom aan sy teenstander vasgeklou totdat die klok tot sy redding gekom het.

Casimero het egter bloed geruik en die klok het skaars vir die derde gelui toe hy die Ghanees met ’n reguit regter ruk en die skeidsregter besluit het genoeg is genoeg, hier moet hy eerder intree.

Die statistieke ná die geveg wys die Filippyn se oorheersing: Hy het met 24 lyfhoue getref en Micah net met vier. – Reuters

Meer oor:  John Riel Casimero  |  Jermall Charlo  |  Filippyne  |  Vsa  |  Titelgeveg. Wbr  |  Puntesege  |  Boks  |  Wbo  |  Tegniese Uitklophou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.