Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Chinese bokser in hospitaal ná geveg

Die Chinese swaargewigbokser Zhilei Zhang, wat daarvan droom om teen die wêreldkampioen Anthony Joshua te baklei, sal vir nog ’n paar dae in die hospitaal moet bly.

Zhang (37) is ná sy geveg Sondagoggend (SA tyd) teen die Amerikaner Jerry Forrest in ’n hospitaal in Miami opgeneem.

Zhilei Zhang het Jerry Forrest aanvanklik swaar laat leef in hul geveg in Miami. Foto: Matchroom Boxing

Sy bestuurder, Terry Lane, het aan Boxing Talk gesê Zhang was ná die geveg nie homself nie.

Zhang het die geveg goed begin en het Forest een keer in elkeen van die eerste drie rondes platgeslaan.

Hy het egter toe lelik begin uitsak en het die meeste van die tyd net hygend aan Forrest gehang.

Die skeidsregter, Frank Gentile, het selfs in die negende ronde ’n punt van hom afgetrek omdat hy so erg aan Forest vasgehou het.

Zhilei Zhang het gedurende die geveg lelik uitgesak en was eindelik gelukkig om gelykop te boks teen Forrest. Foto: Matchroom Boxing

Sommige waarnemers meen Zhang was gelukkig dat die geveg gelykop geëindig het.

“Zhang was nie homself gedurende die tweede deel van die geveg nie. Hy het ’n goeie oefenkamp gehad, wat verskeie goeie skermsessies ingesluit het,” het Lane gesê.

“Maar ná die geveg het ons in die kleedkamer ’n paar ontstellende simptome waargeneem en toe het ons hom hospitaal toe geneem.

“Hy sal nou ’n paar dae lank daar aansterk. Die goeie nuus is dat sy neurologiese skandering skoon is.

“Maar hy ly aan bloedarmoede, hoë ensiemvlakke en ’n lae vlak van nierversaking, wat dalk deur dehidrasie veroorsaak is.”

Die promotor Eddie Hearn het aan Fight News 24 gesê hy wil graag ’n herontmoeting tussen Zhang en Forrest reël.

Zhang, wat in 2012 as amateur teen Joshua by die Olimpiese Spele in Londen verloor het, was voor sy geveg teen Forrest nog onoorwonne ná 21 gevegte.

Hy het 17 van sy teenstanders uitgeslaan. Hy het as amateur ook by die Olimpiese Spele in Beijing ’n silwermedalje verower.

* Kyk hier na hoogtepunte van die geveg tussen Zhilei Zhang en Jerry Forrest:

Meer oor:  Boks  |  Anthony Joshua  |  Eddie Hearn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.