Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Chuck en Victor die Beer se groot geveg
Muhammad Ali moes nogal ’n paar keer vir Chuck Wepner se wilde houe koes toe hulle in 1975 teen mekaar geboks het. Foto: Getty Images

Hy het teen kolosse soos Muhammad Ali en George Foreman geboks en teen André the Giant gestoei, maar die teenstander waaroor hy nog steeds nagmerries kry, is Victor die Beer.

So sê Chuck Wepner, die legende wie se lewensverhaal die inspirasie vir die Rocky-flieks was.

Oor ’n week of wat begin die gewilde Shark Week op die Discovery Channel op televisie en daar is reeds heelwat geskryf oor die oudbokser Mike Tyson, wat kamma in een episode teen ’n haai gaan veg. Dis natuurlik alles met die tong stewig in die kies.

Tyson beplan ook om in September in ’n vertoongeveg ten bate van liefdadigheid teen Roy Jones Jr. bolle te rol.

So het Chuck Wepner in 1975 op die voorblad van ‘Sports Illustrated’ gepryk.

Dit klink nogal na kinderspeletjies as ’n mens luister na hoe Wepner op sy dag vir minder bevoorregtes geld ingesamel het. Sou Tyson dit waag om, soos Wepner, saam met ’n regte, egte beer in die kryt te klim?

Nie dat dit vandag weer sal gebeur nie. Die Dierebeskermingsvereniging sal dit nooit weer toelaat nie.

Maar daar in die laat 1970’s was dit presies wat Wepner gedoen het. Sommer twee keer!

Wepner was as jong man ’n seesoldaat en dis waar hy leer boks het. Ná sy dae in die gewapende magte het hy ’n verkoopsman en verteenwoordiger geword en vir geld geboks.

Hy was ’n rowwe kêrel, wat nie maklik oorgegee het nie. Ongelukkig vir hom het sy teenstanders gereeld sy oogbanke stukkend geslaan en het skeidsregters dan so groot geskrik vir al die bloed wat oral loop dat hulle die geveg eerder gestop het.

Sy kragmeting met Sonny Liston in 1970 was veral ’n bloedbad. Ná die geveg moes Wepner 72 steke in sy gesig kry en het hy die bynaam van The Bayonne Bleeder gekry. Bayonne was die naam van die stad in die Amerikaanse staat New Jersey waar Wepner toe gewoon het.

Chuck Wepner het in 1976 in New York teen die stoeier André the Giant te staan gekom en is uit die kryt gegooi. Foto: Getty Images

In 1975 het hy teen Ali geboks. Voor die geveg het Ali hom belowe dat hy hom nie in die gesig sou slaan nie.

“Ek sal jou met een hou in die maag uitslaan, dan kan niemand sê die geveg moes gestop word omdat jy al weer so baie bloei nie,” het Ali geterg.

Ali het gejok. Hy het Wepner se een oogbank in die sewende ronde oopgekloof.

In die negende ronde het Wepner Ali se een voet vasgetrap en hom platgeslaan. Ali was woedend en het Wepner toe behoorlik opgedons. Maar Wepner wou nie bly lê nie en was bitter teleurgesteld toe die skeidsregter die geveg 19 sekondes voor die einde van die 15de en laaste ronde stop.

Sy moedige vertoning het van Wepner ’n held gemaak. Sy kop het uitgehaak en hy het nog meer as gewoonlik begin drink en het ook baie kokaïen begin snuif.

’n Ou advertensie waarin ’n optrede van Victor die Beer geadverteer word.

Algaande het sy boksloopbaan uitgerafel. In 1977 het hy ook in Johannesburg pak gekry toe die Tenk, Mike Schutte, hom met punte oor tien rondes verslaan het.

’n Mens wil nou nie iets van Schutte se oorwinning wegneem nie, maar dalk was Wepner toe nog deur sy twee kragmetings met Victor die Beer getraumatiseer.

Dit was in 1976 toe hy in Asbury Park (New Jersey) se konferensiesaal teen Victor te staan gekom het.

“Ek het die beer iewers sien stoei en het toe gedink dit sou ’n goeie plan wees as my goeie vriend Chuck ten bate van welsyn teen hom sou baklei,” het Artie Stock, toe ’n nagklubeienaar, later vertel.

Chuck, lekker getrek, het gedink, waarom nie?

Die beer het ’n soort masker oor sy snoet gehad en sy kloue is korter gevyl. Hy is ook goed bedwelm voor die tyd.

Maar Chuck het ook geweet dis darem nou ook nie sommer net enige beer teen wie hy sou baklei nie.

“Dit was Victor die Beer. Hy was op The Ed Sullivan Show. Hy was ’n wêreldberoemde beer,” onthou Chuck.

Toe die klok vir die eerste ronde lui, het Chuck uitgedans en die beer met ’n paar reguit houe gepeper.

“Ek het hom op die neus geslaan en die beer het skielik mal geraak. Hy het op sy agterpote gaan staan en gegrom,” vertel Chuck.

So lyk Tuffy Truesdell se grafsteen in Bryson City in Noord-Carolina. Truesdell was Victor die Beer se afrigter. Voordat hy bere afgerig het om teen mense te veg, het Tuffy teen krokodille gestoei. Foto: Facebook

Chuck het nog gewonder wat om volgende te doen, toe bestorm die beer hom.

“Die beer het my gegryp en omtrent 15 voet in die lug gegooi. Toe ek land, het hy op my gespring. Die beer se afrigter het my vooraf gesê ek moet met my hand beduie as ek oorgee, maar my hand was onder die beer vasgepen!”

Toe hy eindelik daarin slaag om onder die beer uit te kruip, was Chuck heeltemal verward. Stock moes hom met verskeie glase Old Grand-Dad-bourbon kalmeer.

Ná genoeg drankies het Chuck hom toe sowaar laat ompraat vir ’n herontmoeting met die beer.

’n Week of wat later, pak mens en dier mekaar toe in ’n klub, weer ten bate van liefdadigheid.

“Toe ek oorkant die beer in die kryt sit en in sy oë kyk, kon ek sien dat hy onthou ek het hom laas op die neus geslaan.”

Chuck Wepner soos hy drie jaar gelede by ’n vertoning van die rolprent ‘Chuck’ in New York gelyk het. Foto: Getty Images

Chuck weet toe hy is in die moeilikheid. Toe die klok lui, het die beer op sy agterpote gaan staan en ’n bloeddorstige grom geuiter.

Toe bestorm hy vir Chuck en smyt hom uit die kryt.

“Ek het op ’n tafel beland en my vriende het my probeer ophelp en het hy my aangemoedig om die beer te gaan wys wie’s baas,” vertel Chuck.

Maar Chuck het vinnig van plan verander. Hy het gehoor hoe die skeidsregter tel . . . “een, twee, drie, vier . . .” en toe tel hy sommer saam.

“Vyf, ses, sewe, agt, nege, tien! Victor, jy wen!” het Chuck geskree en na die kroeg gestrompel.

Ou Chuck kan eintlik sy sterre dank dat hy met net ’n paar kneusplekke weggekom het. Victor die Beer het in 1981 ’n ander teenstander se enkel verbrysel en kort daarna nog een se linkerpinkie afgebyt. Hy het toe sy stoeilisensie verloor.

Chuck (81) veg tans teen kanker. Daar is in 2016 ’n fliek oor sy lewe uitgereik waarin hy deur die akteur Liev Schreiber uitgebeeld is.

• Bronne: fandom.com, thetimes.co.uk, wbur.org, nj.com, deadspin.com.

Meer oor:  Boks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.