Die Mexikaanse bokser Cornflake LaManna was Saterdag vir die 30ste keer aan die wenkant in die beroepskryt.

Die bokser met die vreemde naam, Cornflake LaManna. Foto: Facebook
LaManna (29) het sy landgenoot Juan de Jesus Angulo Gonzalez met in ’n uitklophou in die vyfde ronde verslaan.
Die geveg het in die La Terraza sportkroeg in Agua Prieta in Mexiko plaasgevind.
LaManna was volgens Boxing Scene nie heeltemal tevrede met sy vertoning nie.
Die bokser het ’n tyd gelede Covid-19 gehad en het glo gesukkel om heeltemal in rat te kom.
Sy oorwinning het egter wel sy aanspraak as een van sy land se beste junior-middelgewigte verstewig.
LaManna was in sy beroepsloopbaan ook al vier keer aan die verloorkant met nog een van sy gevegte wat gelykop geëindig het.
Gonzalez het op sy beurt 21 gevegte gewen en 15 verloor as beroepsbokser.
– Sportredaksie