Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Corrie, Yank se John Wayne-kroeggeveg
John Wayne (links) en Kirk Douglas maak reg vir ’n lekker kroeggeveg in ’n ou Cowboy-fliek. Die ou man met die ligmeter tussen hulle se naam is nie bekend nie. Foto: Getty Images

Dis ’n boksgeveg, maar dit lyk amper soos ’n kroeggeveg uit ’n ou John Wayne cowboy-fliek.

“So, jy is die mannetjie wat in my whisky gespoeg het?”

“Ja, en wat gaan jy daar omtrent doen?”

“Ek gaan jou dik tik, dis wat!”

En dan klap die vuiste. John Wayne slaan die whisky-spoegter dat sy kop omtrent 180 grade in die rondte draai.

Verbasend genoeg staan die whiskey-spoegter nog.

En nog meer verbasend, hy gooi self ’n windmeulhou wat John Wayne teen die kant van sy klipgesig tref. John knip verbaas sy oë en laat waai met nog ’n regter . . .

Dis omtrent wat ’n mens kan verwag wanneer die swaargewig-uitklopkonings Deontay Wilder en Luis Ortiz mekaar Saterdag (Sondagoggend SA tyd) in Las Vegas gaan pak. Sonder die gespoeg in die whisky, natuurlik.

En dis omtrent wat gebeur het toe Corrie Sanders en Hashim Rahman in Mei van die jaar 2000 in die Bally Park-casino in Atlantic City, VSA, teen mekaar baklei het.

Corrie Sanders was een van die beste swaargewigboksers wat die land nog opgelewer het. Foto: Gallo Images
Die Amerikaner Hashim Rahman was ’n rowwe kalant wat aanhou boks het tot in 2014. Foto: Getty Images

Baklei het ja, want dit was nie boks nie.

Sommer al in die eerste ronde het Sanders vir Rahman in ’n hoek vasgekeer en geslaan dat sy tande ratel.

Rahman, wat op ’n tyd as handlanger vir ’n dwelm-handelaar gewerk het, het egter omtrent net een oog soos John Wayne geknip en ewe hard teruggeslaan.

Nou moet ’n mens in gedagte hou dat Rahman baie pyn kon verduur. Hy is op ’n kol vyf keer in sy maag geskiet met ’n pistool. As jy die stories kan glo, het hy toe ’n bier weggeslaan om te kyk of dit by die gaatjies gaan uitspuit.

Hy was ook baie trots op ’n grusame letsel op sy een wang wat hy in ’n motorongeluk opgedoen het.

Twee jaar ná sy geveg teen Sanders sou Rahman ook met ’n knop so groot soos ’n krieketbal op sy voorkop kon spog ná Evander Holyfield hom met die kop gestamp het.

Twee jaar ná sy geveg teen Sanders sou Rahman ook met ’n knop so groot soos ’n krieketbal op sy voorkop kon spog ná Evander Holyfield hom met die kop gestamp het.

Maar daai knop was in 2000 nog in die toekoms en al sy aandag was toe op die verwoede Sanders toegespits.

In die tweede ronde het Sanders se kop agteroor geruk ná een van Rahman se harde regters. Rahman het Sanders in ’n hoek vasgekeer en hom probeer papslaan.

Sanders het op die een of ander manier uit die hoek gekom en op sy beurt vir Rahman vasgekeer en hom toe lekker gefoeter.

Hashim Rahman kyk hoe lyk die blondine in die voorste ry stoele terwyl Corrie Sanders hom bietjie oor die rug streel. Foto: Skermgreep

Die derde ronde was een om te onthou. Rahman het Sanders weer op die agtervoet gehad, maar Sanders het ’n ongelooflike linker-opstopper ingekry.

As die toue nie daar was nie, was Rahman in die eerste ry stoele. Terwyl hy oor die toue gehang het, het Sanders hom nog ’n paar skramshoue op die rug gegee.

Net daarna het Sanders ingekom om die geveg te beëindig, maar in sy oorhaastigheid loop hy hom toe vas in een van Rahman se houe en hy slaan op die krytvloer neer.

Hy het dadelik opgespring, maar het steeds soos iemand wat ’n bottel tequila in een teug afgesluk het gevoel, en het toe maar weer op een knie afgesak.

In die vierde ronde was dit wéér Sanders wat Rahman omtrent uit op sy voete gehad het, maar dit was wéér die Suid-Afrikaner wat planke toe gegaan het toe hy deur sy Amerikaanse teenstander van balans geslaan is.

Oor en weer het die houe geval. John Wayne sou trots gewees het. Tot die sewende ronde, toe breek die einde genadiglik aan.

Rahman het Sanders geskud, so erg dat Sanders besluit het om vir ’n slag net te keer en nie te slaan nie.

Rahman het Sanders geskud, so erg dat Sanders besluit het om vir ’n slag net te keer en nie te slaan nie. Toe hou Rahman maar net aan om te slaan en te slaan en te slaan tot die skeidsregter, Eddie Cotton, die geveg eerder gestop het.

Verbasend genoeg het altwee vegters min genoeg skade oorgehou om altwee wêreldkampioene te word.

Sanders het in 2003 vir ’n opskudding gesorg toe hy Wladimir Klitschko binne drie rondes verwoes het. Foto: Getty Images

Rahman in 2001, toe hy Lennox Lewis in Brakpan (die geveg het destyds as die “Thunder in Africa” bekendgestaan) met ’n tegniese uitklophou in die vyfde ronde verslaan het om die Wêreldboksraad, Internasionale Boksfederasie en Internasionale Boksorganisasie se kampioen te word.

En Sanders in 2003, toe hy Wladimir Klitschko in Hannover, Duitsland, in die tweede ronde moedeloos gemoker het om die Wêreldboksorganisasie se kampioen te word.

* Sanders is in 2012 noodlottig gewond tydens ’n gewapende rooftog by ’n restaurant in Brits.

* Kyk hier na tonele uit Sanders en Rahman se geveg:

Meer oor:  Corrie Sanders  |  Las Vegas  |  Kroeggeveg  |  Boks  |  Swaargewig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.