Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Covid-19 blus nie Johannes se Spele-vlam
Jean-marc Johannes
Die 29-jarige Jean-marc Johannes is tans 113de op die wêreldranglys vir straatstyl-skaatsplank. Foto: Verskaf

Die uitstel van die Olimpiese Spele het geensins Jean-marc Johannes se Olimpiese vuur geblus nie.

Inteendeel, Suid-Afrika se voorste skaatsplankryer sê hy oefen nou harder as ooit en sy visier is vierkant op die skouspel ingestel.

“Ja, dit sou ’n hoogtepunt in 2020 gewees het, maar die besluit was die regte een vir die gesondheid en veiligheid van almal wêreldwyd,” sê dié 29-jarige Kapenaar.

“Maar my doelwitte is gestel en ek sien uit daarna om my land by die kwalifiserende byeenkomste te verteenwoordig en meer rekords huis toe te bring.”

Skaatsplankry sal saam met branderplankry, karate, sportklim en bofbal/sagtebal sy debuut by die Spele maak.

Johannes sê hy was nog nie in Tokio nie, maar hoor dit is beslis die plek om te besoek vir skaatsplankry.

’n Toetsbyeenkoms wat in Maart daar gehou sou word, is afgelas. Kwalifiserende byeenkomste wat in Maart en April in Los Angeles, Lima, China en Japan sou wees, kon ook weens Covid-19 nie plaasvind nie.

Weens ’n gebrek aan geld, kon Johannes nie verlede jaar aan die seisoen se eerste kwalifiserende byeenkomste deelneem nie. Hy was darem by die laaste drie in aksie.

Ek het al oorsee in arenas deelgeneem wat bestem was vir kwalifiserende byeenkomste, so ek vermoed dit sal iets soortgelyks wees.
Jean-Marc Johannes

Deelname daar het hom genoeg punte besorg vir ’n uitnodiging na die tweede en laaste seisoen van kwalifisering en hy het voorlopig sy kaartjie na Tokio bespreek.

“Ek het al oorsee in arenas deelgeneem wat bestem was vir kwalifiserende byeenkomste, so ek vermoed dit sal iets soortgelyks wees.”

Spele-deelnemers sal in die Ariake Urban Sports Park aan die “park”- en “street”-dissiplines deelneem. “Street” lyk soos ’n regte straat en deelnemers doen toertjies op relings, trappe, muurtjies, bankies, walle en mure. “Park” vind plaas in iets wat lyk soos ’n leë swembad, met steil kante en die toertjies word in die lug uitgevoer.

Menige mense het in hul jeug hul vaardighede op ’n skaatsplank getoets en Johannes was in Athlone se strate geen uitsondering nie. Hy sê hy het op 11-jarige ouderdom besef hy het ’n talent vir die plank met vier wieletjies.

“Nadat ek my eerste groot byeenkoms gewen het, het ek besef ek leer dinge maklik en as ek daarop fokus en hard werk, sou ek nog beter kon vaar as wat ek aanvanklik gedink het.”

Soos sportlui wêreldwyd kon Johannes weens die inperking nie na sy gewone “oefenveld’’ gaan nie – die binnenshuise skaatsarena “The Shred” in Paardeneiland, Kaapstad.

“Ek het tuis geoefen met die toerusting wat ek tot my beskikking het. Ek kon fisiek en geestelik my peil behou en my ‘spiergeheue’ verbeter.”

Ek het tuis geoefen met die toerusting wat ek tot my beskikking het.
Jean-Marc Johannes

Johannes sê die duurste skaatsplank wat hy tot nog toe gekry het, was vir sy 13de verjaardag. Daardie model het R2 500 gekos.

“Dit was my eerste ware, volledige skaatsplank met professionele spesifikasies.”

Sy borge sluit Nokia Suid-Afrika, Collab Skate, Connexion Wheels, G-Shock en Nike in.

Johannes is die houer van twee Guinness-wêreldrekords en sê hy wil vanjaar nog rekords agter sy naam skryf.

Sy eerste rekord in Oktober 2018 was vir die meeste nollie heelflips in ’n minuut, naamlik 18. Die beweging vereis dat die plank met die voorvoet 360° in die lug opgeskiet word.

In Junie 2019 het hy die Amerikaner Rob Dyrdek se rekord van 2007 verbeter vir die meeste fakie heelflips in een minuut, naamlik 12 – die plank word hiervoor met die agtervoet opgeskiet.

“Ek het ná die eerste rekord besef dat niks onmoontlik is nie.”

Johannes se toekomsambisies het ’n groot hupstoot gekry toe hy in 2016 en 2017 in Montpellier goud, silwer en brons by die Festival of International Extreme Sports (FISE) gewen het.

Altesame 80 skaatsplankryers (mans en vroue) sal hul slag in Tokio wys.

Bykomende bronne: guinnessworldrecords.com, tokyo2020.org/en/sports/skateboarding, cnet.com.
Meer oor:  Olimpiese Spele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.