Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Covid-19 eis SA bokslegende Thysse se lewe
André Thysse het Christopher Buthelezi in 2002 by Carnival City in Boksburg verslaan. Foto: Gallo Images

Covid-19 het Donderdag in die vroeë oggendure een van die land se taaiste voormalige boksers weggeraap.

André Thysse (52), ’n voormalige Suid-Afrikaanse en Statebond-supermiddelgewigkampioen, het sy laaste asem in Kempton Park uitgeblaas.

Thysse was ’n briljante amateur en het in 1999 vir geld begin boks.

Die voormalige bokser André Thysse is aan Covid-19 dood. Foto: Gallo Images

Hy het die vakante SA supermiddelgewigtitel in 2001 gewen en het voortgegaan om die Statebondtitel in 2003 te wen toe hy die Engelsman David Starie met punte verslaan het.

In 2004 het Thysse onsuksesvol probeer om Markus Beyer van Duitsland se Wêreldboksraad-titel by hom af te neem.

Hoewel Thysse met punte verloor het, het hy so ’n goeie vertoning gelewer dat hy in die jare daarna nog ’n paar keer genooi is om oorsee aan gevegte deel te neem.

Hy was ’n knap, afgeronde en taai vegter, wat ook in die ligswaargewig-afdeling baklei het.

Sy laaste geveg was in September 2009 toe hy Emmanuel Duma by Emperors Palace in Kempton Park uitgeslaan het.

Thysse se seun Brandon (links) moker self deesdae ’n suksesvolle loopbaan in die beroepskryt oop. Facebook

Thysse het toe ’n promotor geword, wat onder die vaandel Real Steel Promotions gehelp het om verskeie suksesvolle toernooie aan te bied.

Hy is verlede jaar deur Boks SA tot Februarie 2022 geskors omdat hy glo Covid-19-regulasies op ’n toernooi in Kaapstad verbreek het.

Volgens Thysse was die kwessie ’n misverstand aangesien hy as promotor van een van die boksers die reg gehad het om teenwoordig te wees.

Hy het glo wel die toernooi verlaat toe hy versoek is om dit te doen.

Sy appèl teen sy skorsing sou volgende Donderdag aangehoor word.

• Thysse se seun Brandon is tans die voorste super-weltergewigbokser in die land.

Kyk hier na André Thysse se geveg in 2006 teen Lucian Bute in Montreal, Kanada: 

Meer oor:  André Thysse  |  Koronavirus  |  Boks  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.