Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Covid-19: Enorme verliese voorsien

Die voorlopige opskorting van die Superrugby-reeks gaan na verwagting omvattende finansiële implikasies inhou.

Die beheerliggaam vir rugby in die suidelike halfrond, Sanzaar, het gister aangekondig dié reeks word hierdie naweek vir eers gestaak weens die impak van Covid-19. Spanne wat aan die reeks deelneem, kan glo tussen R2 miljoen en R3 miljoen se inkomste per wedstryd verbeur.

Sanzaar is vermoedelik tot die besluit gedwing ná ’n besluit van die Nieu-Seelandse regering dat alle reisigers wat in die land aankom hulle eers vir 14 dae in isolasie moet plaas. Nieu-Seeland het vyf spanne in die Superreeks.

Die vier hoofde van Sanzaar se ledelande het gister ná die aankondiging ’n telefoonkonferensie gehou. Sanzaar sê in ’n verklaring hulle het “geen ander keuse as om die wedstryde in 2020 se toernooi op te skort nie”.

Sanzaar sê hy het volle begrip vir Nieu-Seeland se besluit, in die lig van die kommer wêreldwyd oor Covid-19 en die primêre doelwit om die verspreiding van die virus sover moontlik te bekamp.

Andy Marinos, uitvoerende hoof van Sanzaar, sê die veiligheid en welsyn van die publiek, die spelers en ander rolspelers is van deurslaggewende belang. Volgens Marinos laat Sanzaar hom in sy besluite oor Covid-19 deur opdragte van regerings en gesondheidsowerhede lei.

Toeskouers by die wedstryd tussen die Leeus en die Blues gister in Auckland. Foto: Getty Images

“Ons is baie teleurgesteld namens ons spelers, toeskouers, uitsaaiers en vennote, maar in die lig van hoe kompleks die kompetisiestruktuur is, en die verskeie geografiese gebiede waarin ons speel, het ons geen ander opsie nie. Ons glo ook dit is tyd vir alle spelers oorsee om huis toe te keer en by hul families te wees.”

Die volle impak van die besluit is nog nie duidelik nie. Plaaslike franchises is gevra om syfers aan SA Rugby te verskaf om die finansiële impak te bepaal. Die moontlikheid om versekeringseise in te stel weens die afstel van wedstryde, word ook bekyk. Daar is nog nie enige planne om losie- of seisoenkaartjiehouers te vergoed as wedstryde nie gespeel word nie, met administrateurs wat nog hoop dat die reeks oor ’n maand of wat kan hervat.

Eduard Coetzee, uitvoerende hoof van die Haaie, sê die uitwerking is selfs erger wanneer verliese weens kaartjieverkope bygereken word, veral vir spanne soos die Haaie en die Stormers wat vanjaar goed presteer.

Intussen het die organiseerders van die Varsitybeker gesê wedstryde “gaan voort tot verdere kennisgewing”.

Met ’n internasionale Sewestoernooi in Stellenbosch en ’n o.20-toer wat gekanselleer is, kan rugby in die land heeltemal tot stilstand kom.

Anthony Johnson, ’n rugby-agent wat in Frankryk werk, sê talle Suid-Afrikaanse spelers in die buiteland het hom al gekontak oor die moontlikheid om huis toe te kom.

Rapport verneem SuperSport het reeds begin met planne om programme met sporthoogtepunte voort te berei om te beplan vir ’n scenario waar daar geen regstreekse uitsendings van sport beskikbaar is nie.

Meer oor:  Eduard Coetzee  |  Koronavirus  |  Verliese  |  Superrugby-Reeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.