Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Covid-19: ‘Mei spertyd om oor Spele te besluit’
Kijoko Nagano (links) en Joena Matsoei neem verlede jaar aan ’n Olimpiese toetsbyeenkoms vir die taekwondo-kompetisie deel in Tsjiba. Dié stad is nou ook deur Covid-19 geraak.Foto: Getty Images

As die uitbreek van die Covid-19-virus dit té gevaarlik maak om later vanjaar die Olimpiese Spele in Tokio aan te bied, is die kans goed dat dié skouspel afgestel sal word, eerder as wat dit uitgestel of verskuif word na ’n ander land.

Só het ’n senior lid van die Internasionale Olimpiese Komitee, die Kanadees Dick Pound, in ’n omvattende onderhoud met die Associated Press gesê.

Pound, wat sedert 1978 ’n IOK-lid is, sê ook hy glo daar sal twee tot drie maande voor die geskeduleerde begin van die Spele op 24 Julie ’n finale besluit geneem moet word of dit gaan voortgaan, al dan nie.

Is hierdie virus behoorlik in bedwang gebring en kan ons gerus wees dat dit veilig is om Tokio toe te gaan, of nie?
Dick Pound

Dít beteken die IOK sal hoogstens tot einde Mei hê om oor die lot van die Spele te beslis.

“In daardie tyd sal mense hulself moet afvra: ‘Is hierdie virus behoorlik in bedwang gebring en kan ons gerus wees dat dit veilig is om Tokio toe te gaan, of nie?’ ” sê Pound.

Die uitbreek van Covid-19 het reeds tot die dood van meer as 2 700 mense gelei en het benewens China en Japan vastrapplek in Suid-Korea, die Midde-Ooste, Europa en nou ook Suid-Amerika gekry.

Dít laat toenemend vrese van ’n pandemie ontstaan.

Dick Pound, ’n senior lid van die Internasionale Olimpiese Komitee. Foto: Getty Images

Hoewel daar sprake is dat die Spele verskuif kan word, sê Pound die skaal van dié byeenkoms is te groot om kort vooraf na ’n ander stad te neem.

Hy sê dit sal finansieel ook nie sin maak om dit bloot met ’n jaar uit te stel nie.

Pound is egter steeds optimisties dat die skouspel sal voortgaan en het die sowat 11 000 sportlui wat vir die Olimpiese Spele en 4 000 wat vir die Paralimpiese Spele verwag word, aangemoedig om te bly oefen.

Hy sê egter ook die IOK sal sportlui se welstand voorop stel wanneer ’n finale besluit geneem word.

Luidens ’n berig in theguardian.com is drie nuwe Covid-19-gevalle Dinsdag in Japan aangemeld onder lede van ’n gimnasium in Tsjiba, oos van Tokio, wat gasheer is vir die Olimpiese taekwondo, skerm, stoei, branderplankry, asook Paralimpiese nommers.

Alle wedstryde in Japan se top-sokkerliga is intussen tot 15 Maart uitgestel, terwyl Suid-Afrika se o.23-span hom ook onttrek het aan ’n vriendskaplike wedstryd teen Japan in Kijoto Donderdag.

Die opleiding van 80 000 Olimpiese vrywilligers, wat op die 22ste Februarie sou begin het, is ook vir minstens twee maande uitgestel. – Sportredaksie

* Bykomende bron: abc.net.au

Meer oor:  Dick Pound  |  Japan  |  Tokio  |  Afgelas  |  Iok  |  Olimpiese Spele  |  Covid 19-Virus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.