Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Covid-19 ontwrig netbal in Australië
Maandag se netbalwedstryd tussen Karla Pretorius (voor) se Lightning en die Firebirds was ’n taai een. Gretel Bueta verdedig van agter in die Superliga-wedstryd in Brisbane. Foto: Getty Images

Moeë lywe en siele kry die naweek ’n lafenis voordat ’n druk wedstrydprogram in die Australiese Superliga volgende week hervat word.

Die organiseerders van dié netbalreeks, waaraan agt spanne deelneem, krap nog kop oor hoe en waar hulle die laaste drie rondes moet laat plaasvind.

Voorverlede week het verskeie Australiese state hul grense gesluit om nuwe Covid-19-uitbrekings te probeer verhoed.

Die Protea Karla Pretorius, kaptein van die Sunshine Coast Lightning van Queensland, sê Covid-19 en inperkings lei tot ontwrigting, maar die organiseerders is vasbeslote om toe te sien dat die seisoen afgehandel word.

Verlede week was die plan dat vier spanne hulle in Adelaide hervestig en dat hul laaste wedstryde daar in ’n bioborrel plaasvind.
Karla Pretorius

“Verlede week was die plan dat vier spanne hulle in Adelaide hervestig en dat hul laaste wedstryde daar in ’n bioborrel plaasvind.”

Melbourne se Vixens en die Collingwood Magpies, asook die Sydney-spanne Swifts en Giants, het skaars in Adelaide geland, toe is daar ’n vars uitbreking en hulle moes na Queensland vertrek.

Die Fever van Perth en die Thunderbirds van Adelaide het hulle toe ook in Queensland by dié spanne, asook Queensland se Lightning en Firebirds, aangesluit.

Pretorius se span het die afgelope Maandag met 49-59 teen die Firebirds in Brisbane verloor.

Nou het die organiseerders die spelers ’n ruskans gegee sodat hulle die program vir volgende week kan uitwerk.

Sommige spelers, afrigters en beamptes is in isolasie nadat hulle aan Covid-19-gevalle blootgestel is.

Die Protea-verdediger sê hulle gaan waarskynlik drie wedstryde in ’n week moet speel.

“Daar is nog drie rondes oor en dan die uitklopwedstryde,” sê die Bloemfonteiner.

Pretorius sê haar span is steeds in ’n gunstige posisie, ondanks die nederlaag.

LONDON, ENGLAND - JANUARY 26: Lenize Potgieter of
Suid-Afrika se Lenize Potgieter. Foto: Getty Images

“Ons, die Giants en die Swifts het al drie 28 punte, maar ons is derde op die punteleer met ’n swakker doelgemiddelde,” sê sy.

“Ons moet nou seker maak ons sluit die laaste rondes goed af. Ons wil graag eerste of tweede eindig, want dit is ’n gunstiger posisie.”

Die Lightning moet nog teen die Thunderbirds speel, met die Proteas Shadine van der Merwe en Lenize Potgieter in hul geledere.

Pretorius sê sy geniet die kapteinskap, want leierskap kom natuurlik en sy het baie ondersteuning om haar.

“Elkeen vervul haar rol fantasties, dit maak dinge maklik vir my.”

Die Superliga se uitdagings is nog groter omdat uitsaaiers nie hul buite-uitsendingseenhede oor grense mag vervoer nie. Die Superliga het egter verskeie uitsaaikontrakte wat eerbiedig moet word. Ervare TV-personeel is ook by die Olimpiese Spele in Tokio.

Meer oor:  Karla Pretorius  |  Australie  |  Protea  |  Superliga  |  Covid-19  |  Netbal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.