Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Regulasies kan Aussie-GP laat skuif

Die kans dat vanjaar se Formule Een-seisoen op 21 Maart met die Australiese Grand Prix in Melbourne gaan wegspring, blyk te midde van verskerpte plaaslike kwarantynregulasies al skraler te word.

Kaartjies vir dié wedren by Albert Park is nog nie te koop nie.

Max Verstappen (voor) in sy Red Bull-renmotor gee vet toe die Australiese Grand Prix laas in 2018 in Melbourne plaasgevind het. Foto: Getty Images

’n Woordvoerder van F1 het by navraag gesê hulle sien daarna uit om weer in Maart wedrenne aan te bied, maar het nie gesê waar nie. Die Bahreinse GP is tans ook op die skedule vir die einde van Maart.

“In 2020 het ons bewys dat ons op veilige wyse die sport kan aanbied toe baie mense gedink het dit sou onmoontlik wees,” sê die woordvoerder.

Plaaslike organiseerders van die Australiese GP sê dat daar tans met die regering en F1-beamptes beraadslaag word oor die skedulering van dié wedren.

Die feit dat internasionale besoekers aan streng kwarantynvereistes moet voldoen met hul aankoms in Australië, het bespiegelinge laat ontstaan dat die GP Doer Onder dalk tot later in die jaar uitgestel kan word.

In 2020 het ons bewys dat ons op veilige wyse die sport kan aanbied toe baie mense gedink het dit sou onmoontlik wees.

Verlede jaar se Grand Prix daar is enkele ure voordat die eerste oefenronde sou begin, gekanselleer nadat ’n spanlid van McLaren positief vir Covid-19 getoets is.

Die F1-seisoen het toe eers in Julie in Oostenryk begin, met 17 wedrenne, pleks van die beplande 22, wat in ’n drasties gewysigde kalender ingepas is. Al dié wedrenne is in Europa en die Midde-Ooste beslis.

Spanlede, renjaers en die reisende media moes almal voor hul vertrek na ’n wedren en weer by hul aankoms negatief getoets word, met ’n kort tydperk van kwarantyn totdat die toetsuitslae bekend was.

Die sewemalige wêreldkampioen Lewis Hamilton het die tweede Grand Prix in Bahrein misgeloop weens Covid-19, maar het teen daardie tyd reeds die kampioenskapstitel beklink.

’n Grand Prix in Melbourne sal egter ’n veel langer verpligte kwarantyntydperk vereis.

Honderde toptennisspelers, wat van 8 tot 21 Februarie aan die Australiese Ope gaan deelneem, sal byvoorbeeld twee weke in kwarantyn moet deurbring.

Om sake verder vir F1-beamptes en organiseerders van die Australiese GP te bemoeilik, is sewe van die tien F1-spanne in Engeland gesetel. Dié land, soos Suid-Afrika, ervaar tans ’n geweldige toename in Covid-19-infeksies en baie lande het reeds hul grense vir reisigers van Brittanje gesluit. – Reuters

Meer oor:  Lewis Hamilton  |  Formule Een  |  Motorsport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.