Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Dakar: Neusie verby vir Giniel de Villiers?

Die Dakar-veldtydren, wat Vrydag sy halfpadmerk naby Saoedi-Arabië se hoofstad, Rijad, bereik het, is dalk besig om uit die greep van Suid-Afrika se Giniel de Villiers te glip.

De Villiers, wat ’n dekade gelede die eerste ren in Suid-Amerika gewen het, het Vrydag weer ’n paar minute teenoor die voorlopers gebloei, maar sy Toyota Gazoo-spanmaat en die 2019-wenner van die laaste Dakar-ren in Suid-Amerika, Nasser Al-Attiyah, wat in ’n Hilux identies aan syne jaag, is steeds binne maklike bereik.

Die Fransman Stephane Peterhansel laat die stof so staan terwyl hy sy Mini vorentoe dryf in die sesde skof van die Dakar-veldtydren in Saoedi-Arabië. Hy het die skof gewen. Foto: Reuters

Daarbenewens is die private jaer Hennie de Klerk, wat saam met Johann Smalberger in hul private Nissan Navara aan hul tweede Dakar deelneem, nog bestendig aan die einde van elke dag en gaan hulle Saterdag in die algehele 36ste plek uitspan.

Die verrassing van die byeenkoms is De Villiers-hulle se internasionale spanmaats, die voormalige F1- en Le Mans-kampioen Fernando Alonso en sy navigator, Marc Coma, wat van hul teleurstellende 63ste posisie ná ’n onderonsie met ’n rots in Sneltrajek 2, wat ’n wiel van hul Hilux afgeruk het, van 48ste algeheel tot 16de ná hul sesde posisie in Vrydag se sesde sneltrajek gevorder het.

Die Mini-jaer Carlos Sainz het Vrydag sy voorsprong behou toe hy net agter sy spanmaat Stéphane Peterhansel oor die wenstreep van Sneltrajek 6 is, terwyl die motorfietsjaer Ricky Brabec sy algehele voorsprong met nog ’n sneltrajekoorwinning op sy Honda vergroot het.

Dit was hoofsaaklik ’n goeie dag vir al die Suider-Afrikaanse deelnemers, hoewel Maandag se motorfietswenner, die KTM-jaer Ross Branch van Botswana, op sy motorfiets met ’n stukkende wiel by die geruite vlag aangekom het.

Die veldren is omtrent ’n wipwarit vir Branch. Woensdag het hy geval, sy skouer ontwrig, ’n vingerpunt verloor en met stukkende motorfiets en al verder gejaag. Donderdag het hy genoeg herstel om sewende oor die eindstreep te jaag. Vrydag se terugslag het hom tot 25ste algeheel laat terugsak.

Die 13-malige Dakar-wenner op twee en vier wiele, Peterhansel, het Vrydag omtrent die hele roete voor gejaag en sy tweede sneltrajek van die ren voor Carlos Sainz (Mini), wat steeds die voorloper is, gewen, met Al Attiyah wat effens tyd in die derde plek verloor het, maar steeds algeheel tweede is.

Die plaaslike Saoedi-Arabiese veldtydrenheld Yazeed Al Rajhi was vierde in sy Hilux voor Mattieu Serradori in sy Suid-Afrikaans geboude Century-Corvette-buisraammotor, gevolg deur die immer indrukwekkende Alonso en sy Toyota Gazoo-spanmaats Bernhard Ten Brinke en Giniel de Villiers.

Sainz is nou sewe minute voor Attiyah met nog ses sneltrajekte en die grootste deel van die ren ná die rusdag oor.

Wat die motorfietsjaers betref, het Ricky Branec (Honda) sy tweede 2020-Dakar-sneltrajek gewen en sy algehele voorsprong oor Pablo Quintanilla (Husqvarna) tot 20 minute vergroot. Die openingsneltrajekwenner Toby Price het Vrydag 16 minute verloor en is nou derde algeheel.

Van die ander Suid-Afrikaanse motorfietsjaers is die twee vrouejaers Taye Perry (53ste) en Kirsten Landman (64ste) nou algeheel 60ste en 65ste uit die 141 wat verlede Sondag weggetrek het.

Hul mede-Suid-Afrikaner Stuart Gregory (KTM) was Vrydag 83ste terwyl Branch (Botswana) 85ste en Graeme Sharp (Zimbabwe) 91ste was.

Die wenner van Vrydag se motorfietsmotor-afdeling was Francisco Lopez Contardo van Chile terwyl die Franse jaer Cyril Despres en sy Suid-Afrikaanse navigator, Mike Horn, wat Donderdag gewen het, vierde was. Die voormalige SA tydrenkampioen Conrad Rautenbach van Zimbabwe was sesde. Contardo is algeheel voor.

In die afdeling vir vierwielmotorfietse het die Franse jaer Simon Vitse, gevolg deur Alex Giroud, voor die algehele voorjaer, Ignacio Casale van Chile, oor die wenstreep gejaag.

Die Russiese jaers Andrey Karginov en Anton Shibalov het hul Kamaz-vragmotors eerste en tweede voor Siahrei Viazovich (MAZ) van Belarus oor die wenstreep gestuur.

Die Dakar-ren hervat Sondag ná Saterdag se rusdag, wanneer die tegnici haas al wat ’n motor, motorfiets en ander ryding is basies geheel en al vir die tweede deel van die ren gaan herbou.

Die langste sneltrajek van die byeenkoms, 546 km van Rijad na Wadi Al Dawasir, met ’n ooppadgedeelte van nog 195 km aan weerskante van die sneltrajek, wag Sondag.

Meer oor:  Giniel De Villiers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.