Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Dakar-pylvak: Slegs 10 minute skei voorste 3

Die lang Dakar-woestynren stuur Vrydag, nadat bykans 7 000 km reeds afgelê is, op ’n dramatiese klimaks af.

Nasser Al-Attiyah het Donderdag die gaping tussen hom en Carlos Sainz met die helfte laat krimp. Foto: Reuters

Dít nadat die gapings tussen die voorste jaers en die renveld agter hulle Donderdag, in die voorlaaste skof, in van die afdelings aansienlik gekrimp het.

Hoewel Stéphane Peterhansel (Mini) vir Nasser Al-Attiyah (Toyota Hilux), die verdedigende kampioen, met net tien sekondes geklop het om die 11de sneltrajek te wen, was dit nie die grootste nuus van die motorbrigade nie.

Dít was eerder die feit dat Al-Attiyah, wat vir die Toyota Gazoo-renspan jaag, Carlos Sainz, die algehele voorloper, se voorsprong beduidend laat krimp het. Daarbenewens het Peterhansel se oorwinning in 4 uur, 14 minute en 11 sekondes sy algehele posisie in die derde plek tot net ’n paar sekondes agter Al-Attiyah verminder.

Peterhansel het agt minute op sy Mini-spanmaat Sainz ingehaal, maar Al-Attiyah is stewig in dié Mini-toebroodjie in die tweede plek – 10 minute en 17 sekondes agter Sainz. Peterhansel is slegs ses sekondes agter Al-Attiyah.

Kyk, ek kan ook oor ’n duin jaag, sê die Rus Andrey Karginov agter die stuur van sy Kamaz-vragmotor.Foto: AP

Die Nederlandse lid van die Toyota Gazoo-renspan, Bernhard ten Brinke, was vierde in sý SA geboude Toyota Hilux met die Poolse jaer Jakub Przygonski (Mini 4x4) agter hom. Die Stellenbosser Giniel de Villiers het met sy sesde plek sy algehele posisie tot vyfde verbeter, maar is steeds meer as ’n uur agter Sainz.

De Villiers se Spaanse spanmaat, Fernando Alonso, het ’n puik agtste plek losgery – dít nadat sy Toyota Woensdag oor die piek van ’n sandduin bollemakiesie geslaan en hy sonder ’n voorruit verder gejaag het.

Alonso het met dié vertoning tot 13de algeheel opgeskuif. Yazeed Al-Rajhi was sewende in sy private Toyota Hilux.

Wat die tweewieljaers betref, het Pablo Quintanilla (Husqvarna) in 4:09:22 ’n skrale nege sekondes voor Matthias Walkner (KTM) oor die wenstreep gejaag. Quintanilla het egter ook die gaping agter die voorloper, Ricky Brabec (Honda), met die helfte laat krimp.

Ross Branch (KTM) van Botswana, Toby Price (KTM), die verdedigende kampioen, en Brabec het in die groep agter die voorste jaers gebly. Price was vyfde, met Brabec tiende en Branch 11de.

Brabec het ’n algehele voorsprong van 13 minute en 56 sekondes bo Quintanilla.

* Die Russiese Kamaz-vragmotorjaer Andrey Karginov en sy kajuitmaats Andrey Mokeev en Igor Leonov is steeds los voor onder dié kamele van die woestyn, nadat hulle Donderdag die afdeling oorheers het.

* Die Chileense vierwielmotorfietsjaer Ignacio Casale is nou 21 minute algeheel voor nadat Rafael Sonik van Pole hom Donderdag om die sneltrajekoorwinning geklop het.

* Die Zimbabwiese motorfietsjaer Conrad Rautenbach, wat Donderdag derde was, is steeds vierde algeheel.

* Die laaste 374 km van die wedren strek Vrydag van Harad na Kiddia.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.