Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Sterfte demp Peterhansel se vreugde

Die opgewondenheid oor die 2021-Dakar-ren in Saoedi-Arabië, wat ná 4 800 km se dolle gejaag geëindig het, is gedemp deur die nuus dat ’n motorfietsjaer wat vroeër in die week geval het, Vrydagoggend aan sy beserings beswyk het.

Pierre Cherpin, wat 178 km ná die begin van die sewende sneltrajek geval het, is Vrydagoggend op ’n mediese vlug op pad na Frankryk dood.

Dis teen die agtergrond van dié somber nuus dat die Mini-jaer Stéphane Peterhansel, wat van die tweede sneltrajek af voorgeloop het, sy 14de Dakar-ren gewen het. Hy was uiteindelik 13 minute en 51 sekondes voor die 2019-wenner, Nasser Al-Attiyah, van Katar.

Vanjaar se Dakar-ren het die lewe van die Franse motorfietsjaer Pierre Cherpin geëis. Foto: Dakar-tydren

Al-Attiyah, ’n driemalige Dakar-wenner, en sy Franse navigator, Matthieu Baumel, het hul Toyota Gazoo Racing-Hilux in die laaste sneltrajek ook as naaswenners oor die wenstreep gestuur. Hulle het altesaam vyf sneltrajekte gewen.

Vrydag se sneltrajek is deur Peterhansel se Mini-spanmaat, ook ’n driemalige Dakar-wenner, Carlos Sainz (Spanje), gewen, terwyl Peterhansel derde vir die dag was. Dit was Sainz se derde sneltrajek-oorwinning vir die 2021-byeenkoms. Hy het ook derde algeheel geëindig.

Die res van die top-tien algeheel was Jakub Przygonski (private Suid-Afrikaans geboude Toyota Hilux, vierde), Nani Roma (vyfde in sy Mini) Vladimir Vasilyev (Mini, sesde), sjeik Khalid Al-Qassimi (Peugeot 3008, sewende), Suid-Afrika se Dakar-held Giniel de Villiers en sy Spaanse navigator, Alex Haro (Toyota Gazoo Racing-Hilux, agtste), Martin Prokop (Ford Raptor, negende) en Cyril Despres (tiende in nog ’n Peugeot 3008).

Die plaaslike Saoediese held Yazeed Al-Rajhi (Overdrive Toyota Hilux) het Vrydag die grootste terugslag gehad toe sy motor se enjin enkele kilometer voor die einde die gees gegee het terwyl hy goed op pad na ’n sneltrajek-oorwinning was. Hy is uiteindelik as 16de algeheel geklassifiseer nadat hy vroeër twee sneltrajekte gewen het.

Suid-Afrika se derde Toyota Gazoo Racing-jaer, Shameer Variawa, en sy navigator, Dennis Murphy, was 21ste algeheel. Vroeër in die ren het hul Gazoo-spanmaats, die dubbele Suid-Afrikaanse veldtydrenkampioene Henk Lategan en Brett Cummings, in die vyfde sneltrajek op dramatiese wyse uitgeval nadat hulle hul Hilux skouspelagtig laat bollemakiesie slaan het.

Die laaste Suid-Afrikaanse jaer wat die 2021-Dakar-ren voltooi het, was die Dakar-nuwelinge Brian Baragwanath en sy navigator, Taye Perry, wat hul Century CR6 in die 32ste posisie algeheel oor die wenstreep gestuur het. Hulle het die laaste sneltrajek in ’n skitterende agtste plek voltooi. Baragwanath het voorheen in die afdeling vir vierwielmotorfietse gejaag en Perry het verlede jaar haar eerste Dakar-ren op ’n motorfiets aangedurf en voltooi.

• Die dood van Cherpin het die gemoedere in die motorfietskamp erg onderdruk nadat die Argentynse Honda-jaer Kevin Benavides die 2021-byeenkoms beklink het. Sy spanmaat, die algehele naaswenner, Ricky Brabec van Amerika, het sy Honda Vrydag voor die res van die renveld oor die wenstreep gestuur, gevolg deur Benavides in die tweede plek en Matthias Walkner (KTM, negende algeheel) derde.

Kevin Benavides, op ’n Honda, het die motorfietsafdeling van vanjaar se Dakar gewen. Foto: Reuters

Een van die hardebaarde wat die 2021-Dakar op twee wiele voltooi het, al was dit heel laaste, is James Alexander van Botswana (Yamaha).

Dié “Botswana-Madala” is in Zimbabwe gebore en het in 1992 op ’n motorfiets deur Botswana gaan toer. Hy het nooit teruggekeer nie.

Sy landgenoot, Ross Branch, wat vroeër in die ren onder die topvyf was, het in die negende sneltrajek uitgeval toe sy Yamaha se enjin die gees gegee het. “Ross is die Botswana-Ferrari; ek is die Botswana-Madala!” het dié 50-jarige motorfietsjaer voor die aanvang van sy heel eerste Dakar-ren vanjaar gesê.

Die afdeling vir vierwielmotorfietse is gewen deur Manuel Andujar, met Giovanni Enrico die naaswenner en Vrydag se sneltrajek-wenner, Pablo Copetti, derde.

Stéphane Peterhansel word deur sy Mini-span in die lug gegooi nadat hy Vrydag as die algehele wenner van die uitmergelende Dakar-veldren in Saoedi-Arabië gekroon is. Foto: Reuters

• Die 2021-Dakar het die afgelope paar jaar ’n nuwe klas vir ligte motors – buisraammotors met motorfietsenjins – ingestel, wat deur Francisco Contardo oorheers is. Die WRC-tydrenster Kris Meeke het egter Vrydag se laaste sneltrajek gewen, maar was die heel laaste motor algeheel nadat ’n spaarwiel agterop sy motor reg aan die begin van die byeenkoms aan die brand geslaan en die elektronika verwoes het. Hy het egter vasgebyt, aanhou jaag en die ren uiteindelik bykans 86 uur agter die wenners voltooi.

• Die afdeling vir vragmotors, wat geheel en al deur doelgeboude Russiese Kamaz-vragmotors oorheers is, is deur Dmitry Sotnikov gewen. Sotnikov het in die laaste deel van die byeenkoms rustiger begin jaag en nie kanse gewaag nie en was Vrydag derde agter die sneltrajekwenner, Martin Macik (Iveco, vierde algeheel) en die Kamaz-jaer Anton Shibalov (tweede algeheel).

• Cherpin, wat passievol oor oop ruimtes was, het aan sy vierde Dakar-ren deelgeneem. Sy eerste Dakar-ren was die Suid-Amerikaanse weergawe in 2009, wat destyds deur die Stellenbosser De Villiers, wat toe nog vir Volkswagen gejaag het, gewen is.

Cherpin het ook aan die 2012-weergawe deelgeneem, en het elke keer in die sogenaamde Malle Motto-klas deelgeneem. Jaers in dié klas neem op hul eie sonder ’n tegniese span deel en moet hul motorfietse ná elke sneltrajek self versien.

Hy het die ren telkens voltooi. Cherpin het in 2015 weer deelgeneem, maar weens enjinprobleme uitgeval.

Die 52-jarige motorfietsjaer het vanjaar – ses jaar ná sy laaste deelname – weer ingeskryf, hoewel die afdeling nou die “Original by Motul”-klas genoem word.

Hy was die aand voor sy ongeluk 77ste algeheel uit die oorblywende 78.

“Ek is ’n amateur, ek wil nie wen nie. Ek wil net landskappe ontdek wat ek nooit anders die geleentheid sou gehad het om te beleef nie,” het hy in sy persoonlike beskrywing op die Dakar-webblad geskryf.

Meer oor:  Dakar  |  Toyota  |  Motorfietsryer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.