Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Dakar-stryd tussen grotes woed voort
Giniel de Villiers en sy navigator, Dirk von Zitzewitz, het halfpad deur Sneltrajek 4 by hul gestrande spanmaats Bernhard ten Brinke en sy navigator, Xavier Panseri, stilgehou om hulle te help om ’n beskadigde linkeragterwiel te herstel nadat hulle ’n klip getref het. Die Hollandse lid van die span het ’n paar minute minder as ’n uur verloor terwyl De Villiers-hulle omtrent twee uur verloor het. Foto: Plan C Productions

Die eerste helfte van die 2019-Dakarren se tweedaagse marathon-skof (die deelnemers het geen hulp van buite nie) is altyd ’n kat-en-muis-speletjie tussen die topjaers, en Sneltrajek 4 het dinge Donderdag op die spits gedryf.

Dié deel van die dubbele skof tot by die oornaghalte – in Takna vir die motors en in Moquegua vir die motorfietse – behels ’n sneltrajekgedeelte van 405 km, wat beteken die deelnemers gaan effens versigtiger te werk.

Of doen hulle?

Dit het Donderdag nie juis gelyk asof die voorjaers hulle daaraan steur nie. Die legendariese topjaers – die Fransman wat as “Mr. Dakar bekend staan, Stéphane Peterhansel (Mini); Nasser Al Attiyah van Katar in die Suid-Afrikaans geboude Toyota Hilux; en die wêreldtydrenkoning Sebastien Loeb (Peugeot) – het die pas aan die voorpunt aangegee.

Peterhansel was aanvanklik voor voordat Al Attiyah oorgeneem het terwyl Loeb kort agter hulle uit die moeilikheid gebly het, maar die Toyota Hilux-jaer Al Attiyah en sy Franse navigator, Mathieu Baumel, het geseëvier. Peterhansel was uiteindelik 01:52 agter Al Attiyah.

Suid-Afrika se Dakar-hoop het Donderdag verder vervaag ná Woensdag se rampspoedige Sneltrajek 3 waarin Giniel de Villiers en sy navigator, Dirk von Zitzewitz, vier en ’n half uur verloor het. Dié keer het De Villiers-hulle sonder enige probleme van die pad af getrek om hul spanmaats, die sogenaamde “vlieënde Hollander”, Bernhard ten Brinke, en sy Franse navigator, Xavier Panseri, te help.

Die Nederlandse jaer het naby die beginpunt van die sneltrajek ’n klip in die stof getref, wat die linkeragterwiel van hul motor erg beskadig het. Hulle het stilgehou om noodherstelwerk te doen en het uiteindelik weer aan die gang gekom, maar het bykans drie uur verloor.

Giniel de Villiers en sy navigator, Dirk von Zitzewitz, het halfpad deur Sneltrajek 4 by hul gestrande spanmaats Bernhard ten Brinke en sy navigator, Xavier Panseri, stilgehou om hulle te help om ’n beskadigde linkeragterwiel te herstel nadat hulle ’n klip getref het. Die Hollandse lid van die span het ’n paar minute minder as ’n uur verloor terwyl De Villiers-hulle omtrent twee uur verloor het. Foto: Plan C Productions
Giniel de Villiers en sy navigator, Dirk von Zitzewitz, het halfpad deur Sneltrajek 4 by hul gestrande spanmaats Bernhard ten Brinke en sy navigator, Xavier Panseri, stilgehou om hulle te help om ’n beskadigde linkeragterwiel te herstel nadat hulle ’n klip getref het. Die Hollandse lid van die span het ’n paar minute minder as ’n uur verloor terwyl De Villiers-hulle omtrent twee uur verloor het. Foto: Plan C Productions

De Villiers-hulle het vir langer as ’n uur gewerk om te help om die beskadigde komponente te verwyder, maar het Ten Brinke en Panseri ’n uur later agtergelaat om die herstelwerk self te doen en verder gejaag. Hoewel hulle mededingende tye in die oorblywende deel van die sneltrajek aangeteken het, het hulle heelwat tyd in hul algehele posisie weens hul onderbreking verloor.

Intussen het die Mini-viertal – die Spanjaard Nani Roma, Jakub Przygonski van Pole, Yaseen Al Rajhi van Saoedi-Arabië en die Fransman Cyril Despres – verbygekom en hul visier op die voorjaers ingestel. Przygonski was uiteindelik derde agter Peterhansel, gevolg deur Roma, Sebastian Loeb (Peugeot) en Al Rajhi.

Die Suid-Afrikaanse debuutjaers Shameer Variawa en Zaheer Bodhanya het ná ’n puik vertoning Woensdag, toe hulle ten spyte van verskillende uitdagings met hul SVR Red Lined Nissan Navara algeheel opgeskuif het, in die 60ste plek klaargemaak.

Die tweewieljaers het Donderdag agter die motors weggespring en later van die motorroete afgedraai en dit was weer Ricky Brabec wat sy Honda se krane vroeg oopgedraai het. Dié keer het dié Kaliforniër egter al die pad tot die einde voor gebly met die KTM-drieling – die 2018-Dakar-wenner Matthias Walkner van Oostenryk, die Australiër Toby Price en die Brit Sam Sunderland – kort agter hom. Hulle is gevolg deur die Portugese Honda-jaer Paolo Goncalves met Stefan Svitko (KTM) van Slowakye volgende.

Die oornagvoorjaer, Pablo Quintanilla (Husqvarna) van Chili, het Donderdag gespook om op spoed te kom wat Brabec die algehele voortou voor Quintanilla, Price en Sunderland laat oorneem het.

Suid-Afrikaanse belangstelling onder tweewielgeledere bly groei met die Suider-Afrikaanse Dakar-debuutjaers Ross Branch (KTM) van Botswana en Kenny Gilbert (Husqvarna) van Pretoria wat nog ’n skitterende dag gehad het. Branch het Donderdag 18de geëindig en tot 24ste algeheel opgeskuif en is derde in die debuutklas. Gilbert was 28ste en het tot 27ste algeheel opgeskuif.

Die SA KTM-jaer Stuart Gregory beïndruk ook steeds. Hy jaag in die afdeling vir solodeelnemers wat geen hulp het nie. Hulle moet hul motorfietse elke aand self versien, herstelwerk doen, petrol ingooi, olie ruil – en dan nog iewers tyd afknyp om te slaap. Dit laat hom egter in die diensvrye maraton-sneltrajekte oor twee dae baie meer gerus voel – niks verander vir hom nie.

Die vragmotorstryd tussen die Russiese Kamaz-drietal het sake Donderdag steeds oorheers. Andrey Karginov was los voor en is oor die wenstreep gevolg deur Martin Macik (Liaz) en Airat Mardeev in nog ’n Kamaz.

Die Suid-Afrikaanse tegnikus Sean Berriman ry saam met die Duitser Mathias Behringer in ’n MAN en hulle het in Sneltrajek 4 17de geëindig en tot 19de algeheel opgeskuif.

Die vierwielmotorfietsjaers het Woensdag afgesluit met Jeremias Gonzales (Ferioli) van Argentinië wat sy landgenoot Nicolas Cavigliasso se oorwinningstog in die eerste twee dae kortgeknip het, maar Cavigliasso is steeds algeheel voor.

Vrydag se vyfde skof begin met die sneltrajek van 345 km van Moquegua na Arequipa, gevolg deur Saterdag se lang verwagte rusdag, waarna die ren Sondag hervat.

Meer oor:  Giniel De Villiers  |  Dakar  |  Motorsport  |  Dirk Von Zitzewitz
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.