Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Dakar wys tande, Giniel verloor 4½ uur

Woensdag se derde sneltrajek in die 2019-Dakarren, ’n duinbesaaide 331 km tussen San Juan de Marcona en Arequipa in Peru, Suid-Amerika, het gewys waarom dit die moeilikste motorren ter wêreld is.

Giniel de Villiers se gestrande renmotor. Foto: Plan C Productions

Die oornagvoorloper ná die eerste twee skofte, die Stellenbosse Dakar-held Giniel de Villiers, het op een van die grondpaaie van die roete ’n klip getref wat die Toyota Gazoo Racing SA-Hilux in sy spore laat vassteek het. Die klip, wat in sagte sand versteek was, het die oliebakskerm getref wat die oliebak laat kraak en die enjin alle oliedruk laat verloor het.

“Ons het dadelik besef dit was ’n groot slag,” het De Villiers gesê nadat hulle uiteindelik by die oornaghalte in Arequipa aangekom het. “Ons het die oog op al die stelsels gehou en dit was nie lank voordat ons besef het ons is in die moeilikheid nie. Ons het stilgehou en probeer om ons eie herstelwerk te doen, maar moes vir tegniese hulp wag.”

Intussen het sy Toyota Gazoo Racing-spanmaat Nasser Al Attiyah in nog ’n Hilux die algehele voortou oorgeneem nadat hy tweede geëindig het – drie minute en 26 sekondes agter Stéphane Peterhansel en David Castera (Mini) wat die sneltrajek gewen het.

Die derde sneltrajek was ook die einde van die oornagvoorjaer in die afdeling vir motorfietse, Joan Barreda, wat uitgeval het. 

Nog topjaers het in die slag gebly terwyl die legendariese Dakar-jaers Peterhansel en Al Attiyah mekaar aan die keel beetgekry het. Carlos Sainz se Mini het net soos De Villiers se Hilux klippe getref en stilgehou, terwyl Sebastien Loeb (Peugeot) en Cyril Despres (Mini) verdwaal het.

Die Nederlandse Hilux-jaer Bernhard ten Brinke het gesukkel om by te bly en teruggesak terwyl die Mini’s van Yaseen Al Rajhi en Jakub Pryzgonski van Pole die voorjaers agternagesit het, maar was uiteindelik sewende. Ten Brinke het ook tot sewende algeheel opgeskuif.

Al Attiyah het Woensdagoggend soos blits weggespring en die pas van vroeg af aangegee, maar Mnr. Dakar, Peterhansel, het ander idees gehad nadat hy stadig begin en Al Attiyah ingehaal en verbygesteek het. Loeb het stewig in die derde plek gebly, maar begin terugsak tot agtste, wat Despres, Al Rajhi en Pryzgonski laat verbykom het.

Stéphane Peterhansel en sy navigator, David Castera, wat die derde sneltrajek in 03:54:31 voltooi het. Foto: motorsportmedia.co.za

Buiten De Villiers het Carlos Sainz se Mini ook tot stilstand gekom.

Die Suid-Afrikaanse nuweling-Dakarjaers Shameer Variawa en Zaheer Bodhanya het Woensdag vasgebyt en opgemaak vir die uur wat hulle Dinsdag verloor het. Hulle het met die skrywe hiervan van 66ste tot 42ste opgeskuif.

Die ren op twee wiele het op soortgelyke wyse as Dinsdag begin en Ricky Brabec van Kalifornië het sy Honda vroeg tot voor gedruk, maar was gou onder druk van die Yamaha-jaer Marquis Xavier de Soultrait wat hom voor die halfpadmerk ingehaal en kort daarna verbygesteek het. Brabec het ’n halfuur verloor wat Pablo Quintanilla (Husqvarna) en Kevin Benavides (Honda) agter De Soultrait laat aanskuif het. Die algehele oornagvoorloper, Joan Barreda, het egter stilgehou en die KTM’s van die 2018-wenner, Matthias Walkner, en die Australiër Toby Price het verbygekom.

Intussen het die Dakar-nuwelinge Ross Branch van Botswana (KTM) en Kenny Gilbert van Pretoria (Husqvarna) pal onder die top-25 gejaag voordat Branch in die 24ste en Gilbert ná ’n navigasiefout in die 27ste plek geëindig het. Hulle is nou tweede en vierde onder die debuutjaers en 25ste en 28ste algeheel.

Die Suid-Afrikaanse debuutjaer Kenny Gilbert het sy merk in sy heel eerste Dakarren gemaak en sy Husqvarna van 40ste algeheel tot 28ste onder die nuwelinge te laat opskuif. Foto: motorsportmedia.co.za
Die Suid-Afrikaanse debuutjaer Kenny Gilbert het sy merk in sy heel eerste Dakarren gemaak en sy Husqvarna van 40ste algeheel tot 28ste onder die nuwelinge te laat opskuif. Foto: motorsportmedia.co.za

Nog ’n Suid-Afrikaanse motorfietsjaer, Stuart Gregory (KTM), het die beste van die strawwe toestande gemaak en beur nog manalleen voort sonder diensondersteuning. Hy was Woensdag 12de onder die “Malle Moto”-jaers en 12de algeheel in dié sogenaamde ystermanklas.

Die 2019-Dakar takel Donderdag die eerste 405 km-gedeelte van die marathon-sneltrajek van Arequipa na Takna vir die motors. Die motorfietse jaag tot in Moquegua. Die tweede deel van die marathon-sneltrajek, waar geen dienssteun toegelaat word nie, kom Vrydag aan die beurt.

Uitslag van sneltrajek 3 (motors):

1. Peterhansel / Castera

2. Al Attiyah / Baumel (TOYOTA) +03:26

3. Przygkonski / Colsoul (MINI) +11:47

4. Al Rajhi / Gottschalk (MINI) +12:50

5. Roma / Haro (MINI) +18:12

6. Despres / Cottret (MINI) +28:04

7. Ten Brinke / Panseri (TOYOTA) +31:45

8. Domzala / Martin (TOYOTA) +33:16

9. Prokop / Tomanek (Ford) +34:39

10. Vanagas / Rozwadowski (TOYOTA) +39:24

Algehele posisies ná sneltrajek 3:

1. Al Attiyah / Baumel (TOYOTA)

2. Al Rajhi / Gottschalk (MINI) +06:48

3. Peterhansel / Cottret +07:03

4. Roma / Haro (MINI) +12:02

5. Przygonski / Colsoul (MINI) +13:45

6. Despres / Cottret (MINI) +24:40

7. Ten Brinke / Panseri (TOYOTA) +25:21

8. Loeb / Elena (Peugeot) +37:59

9. Domzala / Marton (TOYOTA) +42:56

10. Vanagas / Rozwadowski (TOYOTA) +49:20

Meer oor:  Giniel De Villiers  |  Dakar  |  Motorsport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.