Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Dalk einde van universiteit-sport in 2020

Die Varsitybeker-rugbyaksie op Maandag 9 Maart was dalk die laaste universiteitsport-aksie vir 2020 weens die uitbreek van Covid-19.

Die Sondagaand voor die Varsitybeker-wedstryde van 16 Maart is alle aksie uitgestel en sedertdien is die nasionale staat van inperking aangekondig.

Ilhaam Groenewald, hoof van Maties Sport. Foto: Eikestadnuus

Organiseerders van die Varsitybeker-reeks het gesê daar sal hopelik teen einde April ’n besluit geneem word oor die voortsetting of afstel van die reeks.

Alle Varsity Sport-toernooie is ook uitgestel. Die reeks se atletiekbyeenkomste sou in April plaasgevind het en die hokkietoernooi in Mei. Netbal is geskeduleer vir Augustus en September.

Daar moet nog besluit word oor Julie se Ussa-toernooi.

Die netbaltoernooi is veronderstel om tussen 29 Junie en 4 Julie in Stellenbosch plaas te vind.

“Die invloed op sport is wêreldwyd dieselfde. Hier in Suid-Afrika is alle sportfederasies besig met samesprekings om die uitwerking te bespreek en ook om maniere te vind om dit te bowe te kom met ’n onseker tydlyn,” het Ilhaam Groenewald, uitvoerende hoof van Maties Sport, gesê.

Volgens Groenewald moet daar gedink word aan die afstel van alle toernooie – nie net omdat baie oefentyd verlore gaan nie, maar ook omdat die studiedruk nou heelwat meer gaan wees.

“Studente-atlete gaan ekstra moeite moet doen met hul studies en vir my kom akademie eerste,” sê Groenewald.

Sy voeg by dat daar vir haar twee opsies is rakende Ussa- en Varsity-toernooie.

Ondersteuners by die Maties se tuiswedstryd op 9 Maart teen die Ikeys. Foto: Varsity Sport

“Eerstens kan daar besluit word om in Augustus/September met die toernooie voort te gaan. Dit kan egter as onregverdig gesien word vir die studente-atlete en in sportkodes wat nie aan hul onderskeie byeenkomste en toernooie kon deelneem nie.

“Die ander opsie is om voort te gaan met van die toernooie waar moontlik. Dit sal beteken ons het volhard, is aanpasbaar en gereed om die stukke op te tel vir ’n beter 2021. En dit kan baie lekker wees om die jaar op ’n sportnoot af te sluit.”

Drikus Hancke, afrigter van die Maties-rugbyspan, sê al die moontlike word gedoen om die spelers te help om gefokus te bly in hierdie onseker tyd.

“Vir ons is die spelers se gesondheid – fisiek en geestelik – die belangrikste. Elke speler het ’n tuisoefenprogram gekry om seker te maak hy bly so ver as moontlik sterk en fiks,” sê Hancke.

“Ons as afrigters ontleed die wedstryde wat reeds gespeel is. Ons bly ook aktief wat kommunikasie met mekaar en die spelers betref.”

* Jenny van Dyk, afrigter van Tuks se netbalspan, het aan Annchen Nel gesê akademie gaan ná die Covid-19-krisis voorkeur geniet vir skoliere en studente.

“Ek voorsien dat toernooie wat hierna aangebied word, korter gaan wees. Dit kan gebeur dat die Nasionale Liga en die Varsitybeker-reeks dalk oorvleuel,” het Van Dyk gesê.

Netbal se nasionale kampioenskap is geskeduleer vir 3 tot 8 Augustus.

Meer oor:  Varsitybeker  |  Koronavirus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.