Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Darryn ook ’n Binder – en g’n minder

Marizanne Kok gesels met Darryn Binder


Toe Darryn Binder ’n klein seuntjie was, het hy een dag ’n foto van ’n kaskar in ’n tydskrif gesien.

Sy wêreld was reeds een vol wiele. Vandat hy kon onthou was daar die klein motorfietsies wat hom en sy ouboet, Brad, gelok het om op hulle te klim. Die brullende ysterperde waarop pa, Trevor, die ander ooms die stryd aangesê het.

Uiteindelik! ’n Uitbundige Darryn Binder spuit verlede Sondag sjampanje nadat hy sy eerste Moto3-sege behaal het. Foto: AP

Dit was in Darryn se bloed om iets met wiele en ’n enjin te sien en met sy hele hart te begeer.

“Dis waar dit begin het,” vertel Darryn die afgelope week uit Spanje, waar hy en Brad woon.

“Ek het die kaskarre gesien en gesê ek soek een, en voordat ons geweet het, het ons daarin rondgejaag. Dit was seker so twee of drie jaar toe my pa vra of ons wil kyk hoe ons op die motorfietse vaar. En dit was dit, die motorfietse het gewen.”

In die kaskarre is die Binder-boeties se mededingende vuur aangesteek, maar op die ysterperde het hul harte gevlieg.

Ons is saam in hierdie ding. Ek dink ek het harder partytjie gehou nadat hy nou die dag gewen het as toe ek die naweek self wen.

Nie een het al geskeer toe hulle oorsee is om internasionaal te gaan meeding nie. Nie een kon al wettig drink toe hulle die sport se laagste Grand Prix-vlak, Moto3, betree nie. En albei was skaars mondig met hul eerste besoek aan die boonste trappie van die podium.

Nadat hy jare lank gekyk het hoe sy ouboet die tonge in hul sport laat klap, het die 22-jarige Darryn uiteindelik verlede Sondag self die hoofopskrifte gesteel deur die eerste Moto3-oorwinning van sy loopbaan te behaal.

Sedert hy vyf jaar gelede in dié kompetisie begin jaag het, het hy meegemaak hoe Brad as Moto3-wêreldkampioen gekroon word, sy voete vind in Moto2, ’n kontrak in MotoGP kry, en sewe weke terug sy eerste Grand Prix wen.

Al daardie dinge was – ís – ook Darryn se ambisies. En tog, sê hy die afgelope week, was daar nooit sprake van jaloesie terwyl hy gekyk het hoe sy broer hoër en hoër pieke bestyg nie.

Darryn Binder
’n Negejarige Darryn Binder (nr. 5) laat sy broer Brad (nr. 1) in ’n wedren op Phakisa in 2007 in sy uitlaatgasse stik. Foto’s: Verskaf

“Nee, nooit,” sê Darryn dadelik toe hy oor die groenoogmonster gevra word. “Om hom te sien waar hy is, op die hoogste vlak, was lank die droom vir ons albei. Ons stap die pad nou al so lank saam, ons droom groot vir mekaar ook.

“Ek was 14 toe ek oorsee gekom het om ernstig te begin jaag, en teen daai tyd was Brad (wat twee en ’n half jaar ouer is) klaar aan dié kant. Ek is so dankbaar daarvoor, dat ek nie alleen my voete hoef te probeer vind het nie, want hy was daar om te help. Dis vandag steeds so: As ek iets nodig het, help hy my, en as daar ’n manier is dat ek hom kan help, doen ek dit.

“Ons is saam in hierdie ding. Ek dink ek het harder partytjie gehou nadat hy nou die dag gewen het as toe ek die naweek self wen. Dis vir my die beste motivering wat daar kan wees, om te sien iemand wat nie net van dieselfde land as ek nie, maar uit dieselfde huis as ek kom, is een van die bestes ter wêreld.”

Dit is crazy om te dink ek is uiteindelik ook ’n wenner.

Deur dit alles, sê Darryn, het niemand ooit enige druk op hom geplaas om in sy broer se diep spore te begin stap nie. Van sy ouers kom die versekering die afgelope week dat hulle altyd geweet het dis net ’n kwessie van tyd voordat hul jongste ook eerste oor die eindstreep jaag.

“Darryn is net so goed soos Brad,” sê Trevor. “Hy het net nog nie soveel geleenthede gehad om dit te wys nie, maar ons het nooit getwyfel dat hy ook goed genoeg is om te wen nie.”

“Niemand het al ooit gevra hoekom ek nie doen wat Brad doen nie,” beaam Darryn. “Ek is my eie mens, en almal behandel my so. My styl is anders as Brad s’n en my paadjie ook.”

Die boeties deel kleintyd ’n fietsie in die agterplaas.

Maar net omdat hy hart en siel saam feesgevier het oor elkeen van Brad se suksesse, beteken nie Darryn was tevrede met ’n segelose bestaan nie.

“Nee, ek het jare vir hierdie sege gewerk – ek moes vyf jaar daarvoor wag. Maar dit was jare waarin ek alles geleer het wat nodig was, goed vir myself uitgepluis het en die hele tyd geweet het iets groots is om die draai. Ek het net nie geweet wanneer dit gaan kom nie.”

Darryn sê hy kon sedert die hervatting van die Moto3-seisoen in Julie voel hy beweeg al hoe nader aan die wenkamp.

“Eerlikwaar is ek die hele jaar al regtig vinnig en ek het al ’n paar keer geveg vir ’n plek op die podium. Dit was elke keer iets kleins wat my gepootjie het, maar dis hoe dit gaan in Moto3. Die fietse is nie so groot nie en dit het nie so baie perdekrag nie, so almal bly taamlik naby aan mekaar. Jy kan voor wees op die laaste lang pylvak en dan sewende of iets oor die eindstreep jaag omdat ’n klomp ouens in jou glipstroom gebly het en jou dan verbysteek,” sê Darryn.

Verlede Sondag in Barcelona was dit vir ’n slag die jong Suid-Afrikaner wat die meeste van ’n ander ou se glipstroom gemaak het, toe hy in die laaste rondte op Dennis Foggia se stert gebly en by die vyfde draai uiteindelik verby hom kon gly.

Dit was ’n soete beloning vir sy vasbyt in ’n ren wat enige kant toe kon gaan. In ’n stadium was daar net 2,3 sekondes tussen die voorloper en die man in die 19de plek. Tot laat in die ren kon enige van die 11 jaers nog wen.

Vanselfsprekend wil ek nou aanhou wen, maar ons sal sien wat die res van die jaar inhou.

“Dit is crazy om te dink ek is uiteindelik ook ’n wenner,” sê Darryn, in ’n eggo van die manier waarop sy ouboet voorverlede maand se eerste MotoGP-sege beskryf het.

“Dit verander alles, want nou wéét ek ek kan wen – as ek twyfel hoef ek net te onthou wat ek in Barcelona gedoen het.

“Vanselfsprekend wil ek nou aanhou wen, maar ons sal sien wat die res van die jaar inhou.”

Sy betreding van die wenkamp het gekom in die skemer van sy tyd as ’n KTM-jaer, met die jong Krugersdorper wat aanstaande jaar op ’n Honda gaan jaag.

Petronas Sprinta Racing het twee weke gelede aangekondig dat die jong Binder in 2021 deel van hul span word.

“Eintlik het ek aan die begin van die jaar gedink dis tyd om op te skuif Moto2 toe, maar toe die aanbod van Petronas kom, het dit net gevoel soos die regte skuif. As ek volgende jaar goed vaar, kan ek dalk Moto2 toe gaan vir Petronas – ons weet mos nie hoe dinge sal uitwerk nie.”

Dít is egter volgende jaar se groot vraag. Vir nou is Darryn gretig om vir oulaas te wys wat hy op ’n KTM kan doen – en dan weer vir ’n kort rukkie huis toe te kom en weer sy ma se kos te eet.

Die Binder-broers het albei die eerste weke van die nasionale inperking by hul ouers deurgebring – en Darryn het uiteindelik tyd gehad om ’n projek wat al jare lank vir hom loer af te handel.

“Ek het ’n ou Mini, ’n groene, wat ek al jare het en wat net gestaan en wag het om reggemaak te word. Ek was net nooit lank genoeg by die huis nie.

“Die kar was al heeltemal oorgedoen, maar ek het my pa se hulp nodig gehad om die enjin reg te maak.

“Dit was lekker, dit was kosbare tyd by die huis en die kans om iets anders te doen as die laaste paar jaar,” sê hy.

Meer oor:  Motorfietse  |  Moto3  |  Darryn Binder
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.