Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Dekade van goue SA sport-oomblikke

Dink aan Dale Steyn wat platgeslaan op die grond lê, met Nieu-Seeland se Grant Elliot wat hom moet ophelp. Dink aan Jesse Kriel wat uitgemergel op Twickenham se gras sit, met Sonny Bill Williams wat hom vertroos.

Maar dink ook aan Wayde van Niekerk se gesig wat die ongeloof toon oor wat hy in Rio vermag het, Siya Kolisi wat die Wêreldbeker omhoog hou, Graeme Smith en sy toetsspan wat almal een vinger op Lord’s in die lug hou om te wys hulle is nou nommer een . . .

Dit was ’n dekade van trane, maar ook een van euforie. Netwerk24 se sportskrywers dink terug aan Suid-Afrika se goue oomblikke.

Siya Kolisi hou die Wêreldbeker omhoog. Foto: Getty Images

Rugby:

Die Springbokke se grootste hoogtepunte van die dekade het ná die donkerste tye in die ganse geskiedenis van Suid-Afrikaanse rugby gekom.

Kom ons lys vinnig die hoogtepunte van die eerste helfte van die eeu – die Bok-sege oor die All Blacks op Ellispark in 2014, toe Pat Lambie komkommerkoel ’n langafstand-strafdoel moes deurpiets om te wen, was lekker.

Verder was daar maar ’n paar groot oorwinnings oor die Wallabies, maar geen trofee is werklik gewen nie. Laagtepunte was wel volop (Brighton 2015, Durban 2016, Albany 2017, Dublin 2017).

Toe, ná die annus horribilis van 2017, maak SA Rugby die deur vir Rassie Erasmus oop. Hy neem oor by Allister Coetzee, met Bok-rugby op sy knieë en hortend na asem.

Rassie die Wonderlike het sy towerstaf geswaai en boef! die Bokke se fiksheid het verbeter, hulle het ’n duidelike wedstrydplan gehad, aggressiewe verdediging wat spanne ontsenu, spelersdiepte wat benut is (ook danksy die afskaffing van die 30-toets-reël wat die kies van oorsese spelers betref).

Erasmus het ’n sukkelende span sonder selfvertroue geërf en hulle binne 18 maande in wêreldkampioene omskep. Erasmus het nie die spelers gehad wat ’n Heyneke Meyer of ’n Peter de Villiers vroeër in die dekade gehad het nie.

Hy het nie spelers met betreklik goeie selfvertroue gehad, soos Allister Coetzee aan die begin van sy termyn nie.

Erasmus het ’n paleis met strooihalms gebou. Hy het ’n span gevat wat met 0-57 in Nieu-Seeland verloor het en hy het die All Blacks die volgende jaar daar gaan troef. ’n Span wat met 38-3 deur Ierland afgeslag is, het Engeland met 32-12 in ’n Wêreldbeker-eindstryd pak gegee.

En in die proses kinders van Zwide tot Sandton geïnspireer.

Graeme Smith en die Suid-Afrikaanse toetsspan nadat hulle in 2012 die eerste plek op die toetsranglys in ’n toetsreeks in Engeland behaal het. Foto: Getty Images

Krieket:

Aan die krieketfront het Suid-Afrikaners klaarblyklik minder ys in die are as hul rugby-eweknieë wanneer dit by die groot oomblikke kom.

Wanneer die kriekethoogtepunte van die dekade bespreek word, is prestasies in toernooie maar bra yl gesaai. Of liewer totaal afwesig.

Maar dít beteken nie die laaste tien jaar het geen goue krieket-oomblikke opgelewer nie.

Inteendeel. Dit was in dié dekade dat die ongelooflike toetsspan van Graeme Smith die ranglys tot die eerste plek bestyg het. Puriste sal immers aanvoer dat toetskrieket (en nie daai witbal-getjommel nie) die enigste ware maatstaf van ’n land se krieket-vermoëns moet wees.

As dit waar is, was hierdie ’n skitterende tien jaar vir Suid-Afrikaanse krieket. Smith se span het die nr. 1-plek in 2012 met ’n reekssege in Engeland ingeneem en daar gebly tot Januarie 2016 (behalwe vir ’n periode van drie maande in 2014, waar die Aussies die Proteas verbygesteek het).

Slegs Indië, wat die nr. 1-plek sedert Oktober 2016 beklee, het meer tyd as Suid-Afrika as die voorste toetsspan ter wêreld deurgebring.

Die Proteas was boonop van 2007 tot 2015 onoorwonne in wegtoetsreekse – ’n ongelooflike prestasie in ’n tydperk van tuisspan-oorheersing. Buiten die reekssege oor Engeland in 2012, was daar ook twee wegreeksoorwinnings oor Australië – in 2012 en 2016.

Die tuisreekssege oor die Aussies in 2018 was ook ’n hoogtepunt. Tussendeur was daar uiteraard teleurstellings – soos die wegreekse in Indië in 2015 en 2019, maar die toetskrieket wat die Smiths, Amlas, Steyns en De Villiers’s die laaste tien jaar gespeel het, was in die algemeen uitsonderlik.

In eendagkrieket was daar darem nie net trane nie.

Niemand sal die eendagwedstryd op die Wanderers vergeet toe AB de Villiers teen die Windies die vinnigste honderdtal nóg geslaan het nie. Dit was die era waarin De Villiers eendagkrieket herontwerp het. Sy blote teenwoordigheid is genoeg rede om die dekade te vier.

Dan was daar ook die vyf-nul-sege oor Australië in 2016 en talle ander goeie vertonings.

Die span is nou in ’n herboufase en of die volgende tien jaar weer soveel hoogtepunte sal oplewer, sal net die tyd leer. Die talent is egter daar. Nou moet die Proteas die Bokke dit net nadoen en ook silwerware huis toe bring.

Ander:

Wayde van Niekerk met sy Olimpiese goue medalje in Rio de Janeiro in 2016. Foto: Getty Images

* Wayde van Niekerk het in 2016 vir een van die beste Suid-Afrikaanse sportprestasies nóg gesorg. Hy het die goue medalje in die 400 m op die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro in ’n rekordtyd van 43.03 verower. Dit is ’n groot jammerte dat hy sy knie in ’n fratsongeluk in ’n raakrugbywedstryd beseer het, maar hopelik is hy in 2020 in al sy glorie terug in Tokio.

* Caster Semenya het in dié dekade die 800 m in vroue-atletiek oorheers. Sy was op die Spele in 2012 tweede, maar goud is later aan haar toegeken nadat die wenner in Londen, Mariya Savinova, weens die gebruik van verbode middels van haar eerste plek gestroop is.

Semenya het die Rio-Spele oorheers en lag-lag die goue medalje verower.

Semenya se natuurlike hoë vlak van testosteroon was egter haar hele loopbaan nog ’n warm besprekingspunt en sy is in 2019 verbied om aan haar gunsteling-nommers deel te neem tensy sy medikasie gebruik om haar testosteroonvlak te verlaag.

Chad le Clos met sy Olimpiese goue medalje wat hy in 2012 in Londen in die 200 m-vlinderslag verower het. Foto: Getty Images

* Chad le Clos was een van Suid-Afrika se grootste atlete van die afgelope tien jaar. Min mense sal die goue medalje vergeet wat hy in die 200 m-vlinderslag op die Olimpiese Spele in Londen in 2012 verower het. Onderweg na dié sege het hy die Amerikaanse swemkoning Michael Phelps met 0.05 sekondes getroef.

Louis Oosthuizen spog met die beroemde Claret Jug op St. Andrews nadat hy die Britse Ope in 2010 gewen het.Foto: Getty Images

* Op die gholfbaan het die dekade op briljante wyse vir Suid-Afrika begin. Louis Oosthuizen het in 2010 ’n skitter-oorwinning in die Britse Ope op die spel se tradisionele tuiste, St. Andrews, behaal.

Charl Schwartzel het die volgende jaar danksy ’n briljante vertoning oor die laaste paar putjies die Amerikaanse Meesterstoernooi op Augusta in die VSA gewen.

In 2012 het Ernie Els die horlosie teruggedraai en sy tweede Britse Ope-titel op Royal Lytham & St. Annes verower. Hy het sodoende vir ’n derde agtereenvolgende dekade ’n major-titel gewen.

* Suid-Afrika het in die 2010’s ook groot sukses op die tennisbaan geniet. Kevin Anderson was aan die voorpunt hiervan en hoewel hy nie ’n Grand Slam-titel kon wen nie, het hy homself as een van die sport se vooraanstaande spelers gevestig deur die eindstryd van die Amerikaanse Ope in 2017 en Wimbledon in 2018 te haal.

Hy het onderweg na sy eindstryd-plek op Wimbledon onder andere met die legendariese Roger Federer afgereken.

Greg Minnaar het die Suid-Afrikaanse vlag die afgelope dekade trots laat wapper met sy vertonings in internasionale afdraande-bergfietsrenne.Foto: Gallo Images

* Wanneer dit kom by afdraande-bergfietsrenne is daar nie ’n groter naam as Suid-Afrika se Greg Minnaar nie. Hy was in 2012 en 2013 die wêreldkampioen, het in 2015 en 2017 tweede geëindig in die Wêreldkampioenskap en het in 2010 die bronsmedalje verower.

* Daryl Impey het hom die afgelope dekade as Suid-Afrika se beste padfietsryer gevestig. Sy twee grootste prestasies het albei in die wêreld se mees prestigeryke fietstoer, die Tour de France, gekom.

In 2013 het hy die eerste SA ryer geword wat die geeltrui op dié toer gedra het en in 2019 het hy die eerste keer in sy loopbaan ’n skof in die Tour gewen.

Meer oor:  Kevin Anderson  |  Daryl Impey  |  Ernie Els  |  Chad Le Clos  |  Greg Minnaar  |  Louis Oosthuizen  |  Dekade  |  Springbokke  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.