Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Derde Dakar-kroon vir Carlos Sainz

Die 2020-Dakar sal nie net onthou word vir Carlos Sainz se driekuns in dié woestynren, Ricky Brabec wat sy eerste motorfietsoorwinning aangeteken het of die dood van die Dakar-motorfietsheld Paulo Gonçalves nie, maar ook as een van die beste Dakar-renne tot nog toe wat Suid-Afrikaanse jaers, ryers en spanne betref.

Carlos Sainz van Spanje vier Vrydag sy algehele oorwinning in die Dakar-veldtydren in Saoedi-Arabië.Foto: AP

Een van dié SA uitblinkers was die onbekende navigator Sean Berriman, wat met ’n Amerikaanse lisensie as navigator in die afdeling vir motorfietsmotors (die sogenaamde side by side-klas in ’n klein, ligte buisraamagtige motor met ’n motorfietsenjin) gejaag het. Berriman het seker gemaak sy Amerikaanse spanmaat, Casey Currie, kry hul motor se neus voor en hulle het die SSV-klas algeheel gewen.

Dié eerste veldtydren in Saoedi-Arabië se berge en woestyn is in die tweede helfte deur Sainz, ’n dubbele wêreldtydrenkampioen, oorheers en net sy spanmaat Stéphane Peterhansel – in ’n soortgelyke motor – en die 2019-Dakar-kampioen, Nasser Al-Attiyah, in ’n SA geboude Toyota Hilux, het sy oorwinning werklik bedreig.

Al-Attiyah het Vrydag se korter laaste sneltrajek gewen, maar dit was Sainz wat die vonkelwyn die meeste geniet het. Hy het algeheel ses minute en 21 sekondes voor Al-Attiyah geëindig.

Nasser Al-Attiyah (regs) en Mathieu Baumel het Vrydag se laaste van die 2020-Dakar se 12 sneltrajekte in hul SA geboude Toyota Hilux in die kleure van die Toyota Gazoo-renspan gewen, maar dit was te min en te laat. Die ren is algeheel deur die Spaanse jaer Carlos Sainz en sy navigator, Lucas Cruz, in hul Mini gewen. Al-Attiyah-hulle, wat die 2019-Dakar in Suid-Amerika gewen het, was ses minute 21 sekondes verder agter in die algehele uitslag. Foto: PLAN-C Productions | Waldo van der Waal

Sainz voeg vanjaar se kroon in sy tweewielaangedrewe Mini by dié wat hy in 2018 in ’n Peugeot en 2010 in ’n Volkswagen verower het.

Suid-Afrika se groot hoop in die motor-afdeling en die 2009-Dakar-kampioen, Giniel de Villiers, was saam met sy nuwe navigator, Alex Haro, met tye ook ’n doring in die vlees van Sainz.

Pap wiele het hom en nog ’n Toyota Gazoo-spanmaat, die Nederlander Bernhardt ten Brinke, egter gekniehalter.

De Villiers het vyfde algeheel geëindig en Ten Brinke sewende.

Die plaaslike held in Saoedi-Arabië, Yazeed Al Rajhi (Hilux), was algeheel vierde en sowat 15 minute voor De Villiers-hulle.

Nog ’n pluimpie vir Suid-Afrika, was die negende plek algeheel wat die Franse jaer Mattieu Serradori losgejaag het. Hy het in ’n Century Racing-buisraammotor, wat in Johannesburg ontwerp, gebou en ontwikkel is, deelgeneem.

Die veelvuldige F1- en Le Mans-kampioen, Fernando Alonso, en sy navigator, die Dakar-motorfietsheld Marc Coma, het uiteindelik 13de algeheel geëindig nadat hulle hul Hilux Woensdag in die marathon-sneltrajek oor ’n duin laat vlieg, neus eerste geland en bollemakiesie laat slaan het.

Ricky Brabec, op ’n Honda, op pad na sy algehele oorwinning in die Dakar-veldtydren. Hy het KTM se oorheersing vanjaar beëindig.Foto: AP

Dit was ook ’n uitdagende en moeilike ren vir die res van die Suid-Afrikaanse Dakar-brigade. Die TreasuryOne-jaers Hennie de Klerk en Johann Smalberger (die 2018-nuwelingwenners) het Vrydagoggend 27ste weggespring, maar binne ’n klipgooi van die eindpunt af het hul ratkas onklaar geraak. Hulle is egter in die algehele 34ste posisie geklassifiseer nadat hulle die eindpunt kruip-kruip bereik het.

Hul spanmaats Thomas Bell en Patrick McMurren, ook Suid-Afrikaners maar deesdae van Doebai, was twee posisies agter hulle.

Nog ’n teleurstelling weens tegniese probleme was die Suid-Afrikaanse vrouejaer Taye Perry (KTM), wat op die voorlaaste dag meer as ses uur gespook en die tweede laaste sneltrajek uiteindelik ná 12 uur, 21 minute en 59 sekondes in die saal voltooi het.

Dié buksie van Pretoria (sy is net 1,58 m lank) het kort voor middernag eers by die tentkamp aangekom en het haar eerste Dakar-ren Vrydag in die 77ste posisie algeheel voltooi.

Perry se Suid-Afrikaanse vrouemedejaer, Kirsten Landman, wat regdeur die ren ’n paar posisies agter Perry was, het met haar 55ste posisie algeheel die eerste vrou uit Afrika geword wat aan die Dakar-ren deelgeneem en dit voltooi het. Dit was altwee van hulle se heel eerste Dakar-ren.

* Honda het die 18 jaar lange oorheersing van KTM beëindig nadat Brabec dié fabrikaat se eerste Dakar-kroon in 31 jaar verower het. Die Chileense Husqvarna-jaer Pablo Quintanilla was tweede in die afdeling vir motorfietse met verlede jaar se motorfietskampioen, die KTM-jaer Toby Price, dié keer derde.

* Ander sterjaers op twee wiele was die voormalige veelvuldige SA veldrenkampioen Ross Branch, wat as ’n private jaer dalk ’n oproep vir 2021 se byeenkoms van die KTM-fabriekspan kan verwag.

Branch, van Botswana, het die tweede sneltrajek verlede Maandag gewen, maar die volgende dag hard neergeslaan, sy skouer ontwrig en ’n vingerpunt verloor. Hy het hard terugbaklei en steeds 21ste algeheel geëindig.

* Die Suid-Afrikaanse alleenjaer Stuart Gregory (KTM) van Port Edward in KwaZulu-Natal het bestendig gejaag en die 63ste posisie algeheel en 11de in die Malle Moto-klas vir motorfietsjaers wat sonder die steun van ’n diensspan ry en elke dag hul eie instandhoudings- en herstelwerk moet doen, geëindig.

* Die Zimbabwiese nuwelingjaer Graeme Sharp (KTM) was 74ste.

* Die Russiese Kamaz-brigade het die afdeling vir vragmotors oorheers met Andrey Karginov wat die algehele wenner voor sy landgenoot Anton Shibalov en Siarhey Viazovich van Belarus in ’n MAZ was.

* Die Chileense jaer Ignacio Casale het die afdeling vir vierwielmotorfietse gewen.

Meer oor:  Carlos Sainz
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.